Vrydag 29 Maart 2024

BB2BB2 Dag 16



Ek het besluit om vandag eers 07:00 in die pad te val met ontbyt wat 06:30 bedien is. Die wiele begin 07:08 rol. 


So 3 km teer, rigting Weenen en dan links op 'n grondpad tot net voor Mooirivier. Die pad is baie goed en ek karring rustig aan. Tussen Durban en Pietermaritsburg is daar 'n uitkyk plek met die naam "Vallei van 1,000 heuwels". Wel die res van Natal het meer as 'n duisend heuwels. Die pad is baie selde gelyk. Dit is óf op óf af en van die klimme is lank maar nie een so styl soos gister nie. Die gevolg is dat dit moeilik is om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf. Die natuur is ook die moeite werd om na te kyk. Ek stop 10:15 om een van die grondboootjiebotter toebroodjies wat ek vir my gemaak het, te eet. Dit is op dieselfde plek waar ek 2016 gestop het. Die pad se skouers is deurtrek met die mooiste pink en wit blomme!






Die profiel vir die dag toon dat ek op 847 meter begin het en op 'n maksimim hoogte van 1,607 meter gedraai het. Totale meters geklim vir die dag was 1,650. Verbasend min verskil tussen maksimum hoogte en totale klim indien in ag geneem word dat daar heelwat afdraedes was. 


Ek sluit net voor Mooirivier by die R103 aan en ry deur die onderdorp. Daarna neem Garmin my deur Bruntville, 'n swart woongebied teen 'n baie styl bult uit. Anderkant draai ek regs op 'n teerpad wat verander in 'n baie goeie grondpad met nog 'n paar bulte. Die top van die laaste een bereik ek met 18 km oor Nothingham Road toe, waar ek net na 15:00 aan kom.



Ek bly vannaand en môre aand oor by Con en Sue Malherbe. Ek en Con het in 2014 'n stuk van die Freedom Challenge saam gery. Hy is ook die afgelope paar jaar deur 'n moeilike tyd met kanker, maar het goed herstel en beplan om Sondag saam met my te ry tot by Underberg en Maandag ook Sanipas saam met my te ry. Môre neem ek my fiets na die plaaslike fiets winkel vir 'n goeie was en algemene nagaan.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking