Dinsdag 09 November 2021

Namakwapadmaker verkenning

Op 5 November durf ek en Henk Bruwer die Namakwapadmaker roete van die ingang na Cedar Rock/Cederberg Chalets tot by Whupperthal aan. Min wetende wat op ons wag!

Ons spring die oggend net na 06:00 in Citrusdal weg en ry met Henk se bakkie tot by Sanddrif, waar ons as familie die naweek gaan deurbring. Ons parkeer sy bakkie daar en begin 07:42 met die groot trap. 


Die pad vanaf Sanddrif na Matjierivier is 'n goeie grondpad en ons lê die in 9.75 km in 30  minute af. Ons kruis ons die Eselbank/Whupperthal pad, tel ons fietse oor die hek en begin "offisieël" met ons verkennings tog. Die Namakwapadmaker begin by Mount Ceder en eindig 774 km later by die Gariepriveir so 14 km stroom af vanaf Vioolsdrif. Die eerste skof is van Mount Ceder tot by die Cederberg Chalets en die tweede skof is vanaf Cederberg Chalets tot by Doringbos, oor Whupprethal. Die doel van ons rit was om te sien hoe lyk die pad vanaf die ingang na die Cederberg Chalets tot by Whupperthal. Vandaar sou ons dan terug Sanddrif toe ry. Ek het die hele roete op my GPS afgelaai, so ons het darem 'n idee waar ons moet ry!



Nadat ons oor die hek geklim het, is dit bult op! Ons klim vanaf 771 meter tot by 1,135 meter oor 'n afstand van 9 km en dit neem ons net mooi een uur. Alhoewel dit net 'n "jeep track" is, is die pad oppervlakte goed en sekere gedeeltes is sement, met klippe wat ingelê is om beter vastrap plek te gee.


Hierna daal ons na 698 meter. Die pad is besaai met losserige klippe, wat dit moeilik maar om vinnig te ry. Ons spoed wissel so tussen 10 en 30 kpu, afhangende van die pad oppervlakte. Ons is nou in die Cederberg Chalets se grondgebied (sonder toestemming) maar sien geen huisies nie. Daar is net vier huisies en almal is van klip gebou en ver van die hoof toevoer pad, dus het almal gee totale privaatheid. Hier is ook geen selfoon ontvangs nie, dus die perfekte plek indien mense heeltemal wil wegbreek. Vir party mense mag dit "te" afgeleë wees. Daar is net sonkrag en gas. Jy moet ook jou eie drink water saam neem. Ons het gewonder wat hulle doen vir algemeen water gebruik, want hier is nie water nie en ons sien nie opgaar tenke nie. Die Chalets is onderskeidelik 14.2 km, 21.6 km en 24.2 km van die ingangshek af! Die twee op 21.6 is regoor mekaar.


Ons kom by 'n vurk wat regs na Doringrivier en Kantoor wys en links na Chalets. Die GPS wys ons moet links hou. Hier is die pad nog steeds redelik goed en ons ry so teen 10-20 kpu. Ons ry ook verby die twee chalets wat op 21.6 km reg teen die pad is! Woorvaar afgesonder. Ek sê vir Henk dat die huisie so naby aan die pad is, dat hulle probleme met die verkeer gaan hé! Gelukkig sal daar nie veel verkeer op die afgleë plek wees nie!



Na die huisie "verwyn"die pad vir die eerste keer. Ons tel gelukkig gou weer 'n spoor op en ry aan. Op 37 km "verdwyn" die pad weer. Ons is op 'n koppie en klim op 'n hoë klip om te kyk of ons kan sien waar die pad nou gaan. Ons sien in die verte 'n pad, maar hier by ons is niks! Ons besluit om maar die GPS so na as moontlik te volg. Ons moet nou stoot, want hier kan ons nie ry nie. Na so 'n entjite tel ons weer 'n spoor op, maar dit is nie die een wat ons van die koppie af gesien het nie, maar dit stem darem ooreen met die GPS. Dele is baie sanderig wat tot gevolg het dat "hike a bike" aan die orde van die dag is. Na 'n ruk se gestoot tel ons weer 'n paadjie op en kan ons darem weer ry. Dit is egter bult op so die vordering is nie te vinnig nie. Die bult is nie te styl nie en ook nie te lank nie en spoedig is ons weer goed aan die gang.



So op ongeveer 43 km kom ons op twee geboue met 'n onder andere 'n oond in die rots langs aan en 'n klipkring waar daar vuur gemaak kan word. Ons water is min en ons het al 'n paar kranne langs die pad gekry wat heeltemal droog was. Ons kry 'n 20 liter waterkan wat so halfvol is in die een hut en maak ons waterbottels vol. Gelukkig is ek lig op water, maar Henk se water was amper op. Nadat ons 'n vinnige breek geneem het, is ons weer aan die gang.




Henk ry so 100 meter voor my. Ons bereik 'n punt waar die GPS aandui dat ons regs op 'n baie onduidelike sandpaadjie moet draai, terwyl die pad waarop ons is heelwat beter lyk. Ek besluit om aan te hou op die beter pad, in die hoop dat die twee weer bymekaar sal uitkom. Wanneer ek weer by Henk kom noem ek dit vir hom en ons voel albei dat die beter pad 'n beter opsie is. Die pad waarop ons is word op die GPS aangedui as deel van die Whupperthal 4x4 trail, so daar is hoop! Later sal ons ons oordeel bevraagteken! 





Ons klim  weer 'n maklike bult uit. Ons albei sien, wat ons dink 'n bakkie en dus beskawing is in die verte, maar toe ons nader kom is dit net 'n rots!  Ons trek nou al op 57 km en ry al vir 6:15 uur lank en het nog nie 'n lewende siel gesien nie! My beplanning was om na 5:30 by Whupperthal te wees. Nou is ons al 45 minute langer aan die gang en ons het nie 'n idee waar Whupperthal is nie! Ons is nou ook redelik ver van waar die GPS roete loop, maar vertrou dat ons ons bestemming sal bereik. Ons boenner 'n lekker tegniese bult, wat rybaar is, af. Na 'n rukkie sien ons 'n paar huise en 'n dam vol water! Ons hou by die dam stil, drink water en maak weer ons bottels vol. Ons gewaar geen lewe nie en ry aan.  By 'n vurk gaan ons links. Na so ongeveer 500 meter kom ons by 'n stomp in die pad, gevolg deur 'n groot krans. Daar is 'n baie rowwe pad links af, maar die loop onder in die vallei dood. Ons moet maar omdraai en die regter vurk probeer!



Oppad vurk toe, sien ons iemand loop. Ons ry nader om te hoor of die pad Whupperthal toe gaan. Dit is 'n jongerige meisie en sy bevestig dat die pad wel Whupperthal toe gaan, maar is meer bekommerd dat ons onwettig op privaat grond is, en sê sy gaan haar pa roep. Sy het ook iets gesê van 'n hek wat gesluit is. Dit is egter nie vir ons 'n pribleem nie, trouens ons is al vandag oor 'n paar gesluite hekke! Ons draai om en laat spander in die rigting van die regter vurk. Die pad is redelik goed en dit lyk of daar saailande was, maar nou groei daar net onkruid. Ons kry die hek, klim oor en kom weer op 'n situasie af waar daar geen pad is nie! Ons ry tussen die bossies deur en na 'n rukkie tel ons 'n ou verweerde pad op. Na nog 'n entjie se ry sien ons die pad wat van Clanwillaim se kant na Whupperthal toe loop, so daar is hoop! Whupperthal is onder in die kloof, maar dit is ten minste nog 10-15 km weg.


Tussen ons en Whupperthal is daar 'n redelike hoogte verskil! Die pad volg die kontoer van die bult af en is so rof en styl dat ons verplig is om ons fietse te stoot! Alhoewel ons 400 meter daal oor 4 km, is ons gemidelde spoed slegs 3 kpu! Die pad word as 'n "4x4 trial" beskryf, maar ons albei voel dat selfs 'n geharde 4x4 ryer gaan sukkel op die pad op of af te ry. Onder in die vallei kan ons uiteindelik weer ry. Ons kom na 8 ure se ry en 70 km in Whuppertal aan. 





Dit is nou 15:40 en ons soek iets om te eet. Hier is nie meer 'n restourant nie, net 'n klein winkeltjie wat koeldrank en lekkers verkoop! Die dame agter die toonbank lig ons in dat sy wel "slap chips" het en ons verlustig ons aan 'n Coke en "slap chips". Hier is selfoonontvangs en Henk bel die Sanddrif ontvangs by Dwarsrivier en vra dat hulle vir  Carine moet laat weet dat sy ons op Esselbank moet kry. Toe ons die rit bespreek het, het ons die moontlik genoem dat sy in Eselbank se rigting moet ry indien dit laat word en ons is nog nie tuis nie. Teen die huidige pas gaan die donker ons vang en ons het nie daarvoor reggemaak nie.


Na so 'n 20 minute is ons weer oppad. Ons het nou 'n 400 meter klim oor 5 km wat voor lê voordat ons die plato, wat na Esselbank lei, bereik. Dit neem my 50 minute om tot bo te kilm. Die hele pad is sement met 'n gradieënt wat wissel tussen 10% en 18%. So dit is rybaar, maar dit neem tyd! Ek gebruik altyd 'n spoed van 3.5 kpu of stadiger as 'n teken om af te klim en te stoot. My spoed draai 'n paar keer by 3.7 kpu, maar ek hou aan met trap. Wanneer ek bo kom voel ek darem dat ek eintlik 'n baie goeie dag agter die rug het, ten spyte van dit feit dat ons op 'n stadium redelik bekommerd was oor wanneer ons weer beskawing sou bereik.



Bo op die plato is die pad redelik en op 80 km bereik ons Esselbank. Ons soek weer koeldrank maar kry net "minder nugter" mense! Iemand lig ons dat daar koeldrank "net naderkant die elektriese paal" te kry is. Ons ry aan, maar sien niks wat lyk soos 'n plek wat koedrank verkoop nie. Net toe ons by die laaste huise verby ry, kom Carine om die hoek! Ons stop net daar en laai die fietse op die bakkie. Ons ry terug dorp toe en vind toe die huis waar die koeldrank verkoop word. Daarna vat ons die pad terug Sanddrif toe. Die pad is so sleg, dit het Carine 'n uur en 'n half geneem om die 30 km af te lê en sy het ons 17:30 gekry, met die gevolg dat ons eers 19:00 by Sanddrif aankom! 


So eindig 'n besonder gebeurtenisvolle dag op 'n fiets, waar ons heelwat langer as beplan in die saal was.