Woensdag 23 Mei 2018

AMA Rider 100 miler

Die 10de AMA Rider 100 miler was geskeduleer vir Saterdag 19 Mei. My voorbereiding was goed en na my goeie 36ONE was ek vol vertoue dat ek ‘n goeie tyd sou ry.  Ek het Donderdag my nommer in Bellville gaan afhaal. Die gevolg was dat ek so ‘n half uur later kon slaap voor ek die Saterdagoggend Malmesbury toe vertrek het. Daar aangekom het ek my fiets aanmekaar gesit en toe ‘n “Americano met warm melk” gekoop om my reg te kry vir die wedren.

Ons begin 7:29. Aanvanklik moet ons 3 km deur die dorp agter ‘n bakkie aan ry wat opsy trek sodra ons die buitewyk aan die Suid Ooste kant van Malmesbury bereik. Ons klim dan onmiddelik 160 meter in die volgende 4.5 km, wat die veld goed uitsprei. Bo op die bult hak ek by ‘n paar ander ouens aan en ons vorm ‘n lekker groepie wat ‘n goeie pas handhaaf.
Nie lank hierna nie moet ons Welgemeend  se bult aandurf wat weer ‘n klim van 170 mtere oor ‘n afstand van 4.9 km is. Dit “skommel" die groepe weer goed op met ouens wat by my verby kom, maar ek gaan self ‘n paar verby. Net nadat ons bo is vorm ons ‘n groep van vyf wat lekker saamwerk. Vier van ons hou nie by die eerste waterpunt stil nie en storm voort.
Ons het by waterpunt 1 van die distrikspad afgedraai La Rhine toe. Die volgende 10 km is op plaas paadjies met ‘n hele aantal bulte en afdraandes, maar niks ernstig nie, met die gevolg ons bly bymekaar. Ons gaan ook ‘n ryer of twee verby en ‘n paar sluit ook by ons aan met die gevolg dat ons gedurig groter word, maar dan val een of twee weer af so die groep wissel so tussen vier en agt. Op 41 km draai ons links op die Perdeberg teerpad en na 3 km kruis ons die R45  wat Paarl met Malmesburuy verbind en ry weer plaaspaadjies vir ‘n verdere 4 km, waarna ons links draai op ‘n goeie breë grondpad. Na nog 4 km, wat ‘n paar lekker opdraandes en die gevolglike afdraandes insluit, draai ons weer links na die 2de waterpunt en die eerste groot klim van die dag.  Ek hou stil en eet ‘n muffin en drink ‘n paar glasies Coke. 

Na twee en ‘n half minute val ek weer in die pad, maar teen die tyd is almal saam met wie ek gery het, al reeds weg. Ek kan hulle egter almal sien en sit skouer aan die wiel om te kyk of ek hulle kan in haal. Ek kry dit reg en teen die tyd dat ons bo is, sluit ek by die voorste drie aan en ons laat ‘n paar van die ander agter. Ons ry lekker saam. Die drie manne het seker die ou oomie jammer gekry, want elke keer wanneer iemand van vooraf terugval, sluit hy weer voor my by die groep aan. Die gevolg is dat ek net moet sorg ek bly by.  Ons tel drie ander deelnemers langs die pad op, maar net twee, waarvan een ‘n dame is, hou by. Die pas is so ‘n bietjie hoog na my smaak, maar ek besluit om deur te druk. Dit gaan so aan vir die volgende 30 km en ons kom na drie uur vyf en twintig minute by Delico, die halfpad waterpunt aan. Dit is vir my ongeveer ‘n halfuur vinniger as verlede jaar. Ek vertoef net een minuut 24 sekonds en val weer in die pad. Die res van die groep is nog besig by die waterpunt toe ek vertrek.

Ek merk op dat die dame so ‘n paar honderd meter agter my is. Dit is altyd beter om in ‘n groep te ry en ek kyk gereeld om om te sien of sy my nie inhaal nie, maar dit gebeur nie. Ek druk dus maar aan. Na seker so ‘n half uur se ry hoor ek fietse agter my. Toe ek om kyk sien ek die res van van my ou groep plus ons dame. Ek val maar weer agter in en ry lekker saam. Ek moet myself gedurig druk om nie af te val nie, maar ek hou by. Ons is nou ‘n groep van vyf met drie manne wat die pas aangee en ek en die dame wat die agterhoede dek! Dit neem my 1:11 om die 28 km na die volgend ewaterpunt af te lê. Hier is daar lekker sop en noedel slaai vir die wat daardie energie wil in kry. Ek besluit om eder vir die sop te gaan. Ek is al reg om te ry, maar die ander manne is nog besig. Ek het egter my les geleer en besluit om eder te wag as om my energie verniet te vermors. Ek drink dus ‘n tweede koppie sop.

Die manne neem ‘n bietjie lank en na 6 minute besluit ek om maar stadig aan te stoot. Ons dames vriendin was toe al weg. Ek ry baie rustig en na so vyf minute is ons weer ‘n groep. Dit neem ons ‘n verdere vyf minute om die dame in te haal en weer ‘n groep van vyf te vorm. Die profiel van die 100 miler se tweede 50 myl is ‘n gelydelike styging met so ‘n paar afdraandes, maar ons klim heelwat langer as wat ons daal. Dit is dus ‘n groot “grind” maar ons handhaaf ‘n pas van so ongeveer 15-20 k.p.u. Van 128 km tot 138 km klim ons gelydelik en die groep val uit mekaar.
Ek kom tweede by die laaste waterpunt aan, maar kom na 2 minute weer eerste weg. Na ‘n hele rukkie kom die twee sterk manne van ons groep by my verby, maar nou is hulle pas net te veel vir my. Ek haal ‘n paar ander manne op die bult wat volg, in en laat hulle agter. Ons klim nou weer heelwat totdat ons 'n lang afdraande op 148 km slaan. My verbasing is groot toe ons “dame” by die laaste bult weer langs my in trek. Ek hou haar darem in sig en gaan haar verby teen die afdraande. Hierdie afdraande is 10 kilometer lank en word deesdae gevolg deur ‘n 5 kilometer klim na die einde toe. My verbasing is groot toe een van die groep wat ek na waterpunt twee agter gelaat het, by my verby kom! Ek en hy en die dame bly by mekaar tot by die einde. Hulle het egter geen respek vir ouderdom nie en gaan net voor my oor die eindstreep.

So eindig ‘n baie aangename 100 miler in die goeie tyd van 7:29!


Dinsdag 01 Mei 2018

36ONE nommer 5 - 20 April 2018

36ONE nommer 5 - 20 April 2018


Die aand na verlede jaar se 36ONE het ek vir Sue gesê sy moet my skied indien ek weer vir hierdie wedren inskryf! Tydens die prys uitdeling die Sondagoggend hoor ek dat almal wat 5 klaar maak, ‘n toekenning kry. My kop het toe begin werk en gedurende Augutus het ek voor die versoeking geswig en besluit om vir my 5de en laaste 36ONE in te skryf.

My voorbereiding het goed afgeloop en my broer het ingestem om vir ondersteuning saam te gaan. Ek het Vrydagoggend 09:30 in die pad geval en hom 10:00 opgetel. Ek wou vir ons net ‘n kampplek bespreek het, maar toe ek wakker skrik was daar nie meer plek oor nie. Ek kon darem verblyf by Karoo Soul Back Packers vir ons kry vir die Vrydag en Saterdag. Langs die pad het ons by Robertson vir ‘n koffie gestop en ek het toe vir Nico verder laat bestuur sodat ek kon rus vir die wedren wat die aand 18:00 begin. Ons het so net na 14:00 in Oudtshoorn aangekom. Registrasie was gou en Karoo Soul was heel OK. Ek het vining gestort en toe het ons ietsie gaan eet. Nico het my so 16:30 by die begin afgelaai. Sy plan was om my langs die pad in te wag en gedurende die wedren na al die kontrole punte te ry en my dan daar te kry en te help indien nodig.



Daar was ‘n “race briefing” teen so 17:00 se kant en daarna het ons maar gewag vir 18:00 om aan te breek. Ons sou in drie groepe, 5 minute uit mekaar wegspring. Eers die Solo ryers. dan die spanne en dan die aflos spanne. Die wedren begin eers offisieël so 2.5 km buite die dorp, so ons ry in een groot groep tot daar. Bondels vorm gou nadat ons onder deur die “banner” is en daar is baie stof! Ek val in ‘n groep in wat teen ‘n pas, wat vir my gemaklik is, ry.  Ons is so 10-15 ryers, meesal mans.
Die eerste 14 km is grondpad en dit neem ons 38 minute om tot by die teerpad, wat Kango Grotte toe gaan, uit te kom, Teen die tyd is dit ook al donker en ons moet ligte aanskakel. Na ‘n verdere 7 km draai ons regs op die Rus en Vrede pad wat ons deur neem na die Oudstshoorn/De Rust pad. Na nog so ‘n kilometer of twee se teer is ons weer op ‘n grondpad en begin ons eerste klim van die wedren. Vir die volgende 14 km klim ons 341 meter na waterpunt 1. Ons het 667 meter in die eerste 35 km geklim en 1:49 lank gery. 

Nou volg ‘n lekker afdraand, wat in die donker nogal moeilik is. Ons daal 478 meters oor ‘n afstand van 30 km. Om sake ‘n bietjie interessanter te maak is die pad nie reguit nie! Die meeste draai is darem nie te skerp nie en almal kom veilig en sonder enige voorval onder aan.  Waar ons in die verlede ‘n stukkie op die teerpad gery het, neem hulle ons sedert verlede jaar, met plaaspaadjies langs die teerpad en onderdeur om later weer by die grondpad wat Dysseldorp toe lei, aan te sluit.  Ons groep dun uit en vul weer gereeld aan en ons handhaaf ‘n goeie pas. n Hele paar van ons kom saam by waterpunt 2 aan. 

Waterpunt 2, wat ook kontrolepunt 1 is, is na die begin van Dysseldorp verskuif, omtrent 15 kilometers nader as in die verlede. Nico wag hier vir my en gee vir my my Ndola baaidjie, wat ek aantrek om die koue uit te hou. Hierna volg die eerste van die wedren se lang “never ending hills” waarvan daar ‘n paar is. Hierdie een is 17 km lank, ons klim 283 meter en die neem 49 minute. Halfpad teen die bult uit haal ek vir Fred van Zyl in. Fred is 71 en ry vandag sy 7 de 36ONE met ‘n beste tyd van 19:31! Ek besluit dit sal ‘n goeie idee wees indien by hom en sy maat kan "aanhaak" en ek kry dit maklik reg. Daar is ‘n ligte briesie van voor, maar ons werk lekker saam en maak goeie tyd na die volgende waterpunt.
Ek stop ‘n bietjie langer as Fred-hulle en toe ek in die pad val is hulle al weg. Na ‘n hele ruk merk ek Fred se kenmerkende agterlig in die verte op. Ek trap hard en dit neem my bykans ‘n uur, vandat ons die vorige waterpunt verlaat het, voor ek hulle weer vang! Dit is duidelik dat Fred “haastiger” as ek en die derde person is en elke nou en dan ry hy onder ons uit. Dit neem dan ook nie te lank nie voor hy finaal vir ons weg ry nie. 

Op hierdie stadium begin die wedren redelik eensaam raak. Dit is egter beter as in die verlede en ons is gereeld ‘n paar ryers wat saam ry, omder andere ‘n dames span wat regtig ‘n goeie pas handhaaf.
So 15 km voor die halfweg kontrole punt toon my Garmin dat se battery gelaai moet word. Ek was gereed daarvoor, maar het gehoop die battery sal hou tot by die halfweg punt. Ek is egter verplig om stil te hou en ‘n batterypak aan my Garmin te verbind sodat hy kan laai. Ek skakel oor na “battery save mode” wat beteken die Garmin gaan in ‘n “sleep mode”en meet nog maar wys nie die inligting nie. Wanneer daar weer genoeg krag is, verlig die skerm wanneer ek aan hom raak en dan kan ek vir 'n paar sekondes sien wat aangaan. Dit het net voor ons by die Oudtshoorn/Mosselbaai pad aansluit, gebeur. Ek knyp die batterypak aan my lig se battery en moet gedurig seker maak hy skud nie uit nie, met die gevolg dat ek nie kan wag om by die teer uit te kom nie. Die pad se toestand is hier ook nie van die beste nie en dit voel ‘n ewigheid voordat ek die T-aansluiting bereik. Sodra ek die teer bereik begin ek die pas warm maak. Ek gaan by ‘n paar manne verby wat besluit om by my aan te hak. Net na die links draai na Volmoed, kom Fred se maat, wat ek intussen agtergelaat het, by my verby. Ek prober byhou, maar sy pas is te hoog en ek laat hom gaan. Ek kom na 8:38 se ry by kontrole punt 2 aan. Dit is ‘n gemiddelde spoed van bykans 21 kpu en ‘n halfuur vinniger as verlede jaar. Nico is weer op sy pos en gee vir my nog ‘n warm baadjie en warm handskoene. Ek rus lekker onderwyl ek pasta eet en twee botteltjies gegeurde melk en ‘n koppie koffie drink. My bril word ook skoon gemaak en ek val na 22 minute weer in die pad

Net na die waterpunt durf ons die tweede la-a-a-ng bult aan. Ooor die volgende 17 km klim ons 280 meter en dit neem 1:17 om dit af te lê. Die klim is nie so styl nie, maar dit hou aan en aan en aan! Daar kom so elke nou en dan ander ryers verby en ek haal ook so een of twee in, maar dit is maar alleen trap. Na die lang bult is dit gelydelik af na die Gouritsrivier. Intussen raak die temperatuur so elke nou en dan aan 4 grade Celsius! Die padoppervlakte is hier heel goed en ek maak goeie vordering. Ek ry ‘n klein passie uit en besef dat dit in die verlede al hier lig was, dus is ek heelwat voor vorige lare se tyd. Na die Gouriitsrivier kry ons die derde groot klim. Weer nie baie styl nie, maar weereens baie lank. Daar kom weer een on twee ryers by my verby, maar ‘n paar se energie raak op en dan gaan ek weer by van hulle verby! Ek vind hierdie klim vanjaar ook heelwat makliker as verlede jaar. Ek onthou nog hoe ek toe hier uitgesukkel het, teen ‘n slake pas. Vanjaar was dit ‘n droom! Ons klim van 115 meter (Gouritsrivier) to by 354 oor ‘n afstand van 18 km in 1:18. Ek bereik die volgende waterpunt, so ‘n klein entjie voor die begin van die Rooiberg klim,  na 12:40 in die saal. 

Nadat ek redelik verfris het met ‘n 7 minute stop, val ek weer in die pad. Die 7 kilometer teen Rooiberg uit neem my ‘n uur. En ons klim 501 meter. Anderkant af daal ons 554 meter in 9 kilometer! Die padoppervlakte is baie sleg en dit is vermooiend, veral op moeë polse dus neem dit my bykans ‘n half uur. My Garmin se battery is weer laag en ek hou stil om die battery pak te verbind sodat dit weer kan laai. Van hier is dit redelik gelyk pad tot by kontrole punt drie waar ek weer lekker kan rus en ook skoon klere kan aantrek.
Ek kom na 15:32 daar aan.  Hier rus ek lekker en gee myself tyd om behoorlik vir die laaste skof van 90 km te herstel. Hulle gee altyd volstruis sossaties, maar ek kan op hierdie stadium nie eintlik sulke kos in neem nie en gaan eder vir twee pannekoeke. Nico het ook vir my skoon klere gebring en ek vervang alles behalwe my fietsry broek.
Ek gaan my Garmin na en sien dat hy 100% gelaai is. My selfoon is egter op 10% en my Polar horlosie wys dat hy minder as ‘n uur oor het. Ek verbind my selfoon aan my Power Monkey om hom te laai en die horlosie aan die battery pak. Na ‘n rus van 29 minute val ek weer in die pad. Totale tyd tot hier is 15:41. Die laast 90 km neem ongeveer 6 uur, so ek hoort in 21:40 klaar te maak.

Die tweede halfte van hierdie wedren is beslis moeiliker as die eerste helfte met moeiliker klimme en dit dan ook na al die ure in die saal. Van kontrole punt 3 tot die einde is darem ‘n mooi natuurskoon wat die moeilikheidsgraad so ‘n bietjie aangenamer maak. Ons is ook gelukkig met die weer en dit is nie te warm nie. Ek geniet die rit langs die Calitsdorp dam verby en deur die Nelsrivier vallei. Groot gedeeltes is in die skaduwee. Net voor die tweede laaste waterpunt is daar die eerste van die drie groot klimme op hiedie stuk, die Kruisrivierpoortpas. Dit word gevolg deur ‘n baie lekker afdraand en ek bereik die waterpunt na 17:48 in die saal. Daar is nou nog ongeveer 48 km oor, maar ek moet eers oor nog ‘n paar lelike bulte kom, onder andere Huis se Hoogte pas,  voordat ek die laaste skof met durf kan aanpak. Dit neem my 50 minute om die twee bulte baas te raak. ‘n Afstand van net meer as 7 km! 

Op 321 km, met nog 40 oor, draai ons regs. Van hieraf ry ons eers teen die kant van die rant en daal dan af na die Lategansvlei vallei. Die pad is redelik op en af, maar ek handhaaf ‘n goeie pas. Dit is op die stuk wat ek verlede jaar die twee jong manne opgetel het en waar ons toe so ‘n lekker pas tot op die einde gehandhaaf het. Ek is vandag op my eie, maar ek kry dit reg om ‘n warm pas te handhaaf.
Ek haal ‘n paar ryers in en bereik die laaste waterpunt na 19:30 in die saal met nog so 18 km oor. Net nadat ek weer aan die gang kom, kom twee manne by my verby. Ek versnel en hak by hulle aan. Ons handhaaf ‘n besonder goeie pas en een van hulle is ‘n jongerige ou wat nie skroom om voor te trap nie. Ek kry nie eers ‘n kans om my beurt waar te neem nie! Net nadat ons die dorp binne ry, verslap die pas so ‘n bietjie. Die ouer ryer vra of ek nou gaan kyk of ek hulle kan wegry aangesien ek die laaste paar kilometer in hulle glystroom gerus het. Ek bevestig dat dit nie my plan is nie en ook nie my ge-aardheid is nie! Ons ry die laaste paar kilometer lekker saam en kom saam by die eindpunt aan en maak in 20:12 klaar. My vinnigste tyd nog en ek voel heel goed vir iemand wat sopas 361 km in een skof afgelê het.

Totale afstand 363.5 km. Totale tyd 20:19:35 met ‘n offisiële tyd van 20:12:15 vir die 361 km. Ek eindig 93 ste uit 303 wat klaar maak.




Sondagoggend woon ons eers die prys uitdeling by voordat ons die pad huistoe aandurf. Ek word beloop met 'n spesiale medalje en Buff as erkenning vir die 5 wedrenne wat ek voltooi het. Verder verras die borge deur aan te kondig dat almal oor 70 die volgende wedren gratis kan deel neem!