Vrydag 29 Desember 2017

Rawsonville na Bloubergstrand

Ek het die vorige aand gereël vir ontbyt in my kamer en ‘n “lunch pack”. Dit is net na 21:00 afgelewer en ek was teen 21:45 in droomland totdat my wekker my 04:45 wakker gemaak het. Ek was redelik tydsaam en kom 05:55 weg.

Ek besluit om eers ‘n draai by die garage te gaan maak om my fiets se wiele op te pomp. Ook maar goed, want die agterwiel was redelik pap. Daarna volg en ‘n grondpad uit die dorp oor die Deetlifs Landgoed. Dit loop egter in ‘n sirkel na die verbindings pad met die R101. Net nadat en op die verbindings pad is, is daar ‘n goeie grondpad na links en ek besluit om ‘n kans the vat. Die pad kronkel deur die wingerde en plase. By een van die opstalle kry ek ‘n paar mense en hulle bevestig dat die pad deurloop na die R101. Dit is toe ook so en ek sluit by die R101 aan net voordat die pad by die N1 aansluit.

Van hier moet ek noodgedwonge die N1 volg tot by die weegbrug waar die ou pas links afgaan. Daar gekom besluit ek om eers ‘n breek te neem en te kyk wat alles in my “lunch pack” is. Ek eet ‘n eier, kersie tamaties, ‘n toebroodjie en ‘n stukkie vleis. Na 15 minute val ek weer in die pad. Die pas is redelik stil, maar daar kom tog ‘n paar voertuie en vragmotors verby, een ‘n bietjie naby na my sin! Dit neem my 48 minute om die 7 km tot by die bopunt van die pas af te lê. Die bene is vanoggend redelik tam na gister se 193 km en die stere is baie gevoelig! Anderkant is ek redelik verbaas om te sien dat al die dene bome afgekap is. Toe ek drie jaar gelede hier af is was die hange van die berg bedek met bome. Nou is alles kaal en dit is dus baie maklik om die kronkel paadjie vir die aansluiting by die Beulah pad te volg.

Ek besluit om in Wellington te stop vir ‘n koffie of ‘n koeldrank, maar toe ek deur my sakkie gaan waarin ek gewoonlik ‘n noot of twee bêre gaan, kry ek niks. Ek is toe maar verplig om net my waterbottel vol te maak. Net nadat ek oor die Lady Loch nou bruggie is, trek ek af en neem weer ‘n ete breek. Die keer eet ek weer ‘n eier, van die bruin saadbrood, die druiwe en ‘n “cheese griller”. Na 15 minute is ek weer aan die gang, maar die energie vlakke bly vanoggend laag. Die seer stere maak dit oor nie makliker nie. By die R45/R44 kruising draai ek regs en ry tot by die Agter Paardeberg afdraai. Na 2.5 km draai ek links op die Langvlei pad.

Die nood druk en by die volgende kruising hou ek stil vir, onder andere ‘n nommer 2 gemaks breek! Na 11 minute is ek weer aan die gang. Hierdie pad ken ek baie goed en ry ek gereeld wanneer ek vir ‘n lang wedren oefen. Dit loop oor Middelburg en Leeuwendans en sluit by die Slentpad, wat Paardeberg met Klipheuwel verbind, aan. By Leeuwendans se bestuurder se huis maak ek weer my waterbottel vol. My stere en bene protesteer en by die Occultdale afdraai stop ek weer om net ‘n bietjie te rus. Na ‘n rukkie kom ek weer aan die gang. Die Occultdale pad sluit by die M58 (Adderleypad) aan en dan draai ek af na Malanshoogte. My water is min en die watersak in my rugsak is ook leeg met die gevolg dat ek by Faircape stop om water te kry.

Die einde is nou is sig met net Malanshoogte waar ek nog oor kom moet word. Ek “grind” die bult uit en geniet die afdraand na die Vissershok vierrigting stop waar en regs draai na die N7. Ek ry oor die N7 en met die ou brug oor die Dieprivier. Net naderkant die brug volg ek ‘n plaaspad wat my deur neem na Sandownweg toe. Dan al langs Sandownweg langs tot by Sandown Retail Crossing. Die teerstrate agter die sentrum is meesal klaar maar nog nie oop vir verkeer nie, maar dit is maklik om met ‘n fiets by die versperrings verby te kom. Na ‘n stukkie deur die veld kom ek by die pad uit wat die verlenging van Big Bay Boulevard is en my dit neem huis toe. Ek is net na 15:30 by die huis. Moeg en dankbaar!


Data: Afstand 111.49 km; Tyd 9:40:24; Klim 1,256 meter; Daal 1,426 meter; Maksimum temperatuur 40 grade Celsius!

Keisie Cottages na Rawsonville


Die plan was om 05:30 in die pad te val. Aangesien ek 04:35 reeds wakker was, het ek besluit om maar op te staan en aan die gang te kom. Ek het alles die vorige aand reggekry met die uitsindering van betaalmiddele aangesien my beursie in die motor was. Dus nadat ek geskeer, gewas en aangetrek het, gaan ek eers motor toe voordat ek vergeet. Sommer ook die voetpomp gebêre nadat ek gevoel het dat albei wiele styf is na die afgelope week se papwiele.

Ek kom 05:20 weg. Die eerste 13 km is teerpad en meesal afdraand tot by die Pietersfontein afdraai waar ek links draai om ‘n bietjie ekstra grondpad in te kry. Die pad loop parralel met die teerpad deur ‘n vallei vol vrugtebome en sluit 7 km verder weer by die teerpad aan. Hier is min opdraandes en die algemene helling van die pad val tot in Montague met die gevolg dat ek baie goeie tyd maak.
Gelukkig laat hulle my deur by al die Stop and Go’s wanneer ek by een kom wat toe is. Dit is teerpad tot by die afdraai na Steenbokvlakte op die Stormsvlei pad. Op die stuk kom ‘n ander fietsryer by my verby. Ek probeer nie eers om by te hou nie, alhoewel dit ‘n sy is en nogal gewigtig!

Die weer speel mooi saam met aanvanklik ‘n paar wolkies en ’n ligte Suid-Oostelike briesie. Dit sal later in die dag baie handig te pas kom aangesien die algemene strekking van my roete vanaf McGregor in ‘n Noord-Westelike rigting is. Ek stop op McGregor vir koffie en iets om te eet. Ek het die pad tot op McGregor al ‘n paar keer gery, maar die stuk van McGregor tot by die Brandvleidam is nuut vir my.

In McGregor draai ek Wes en dan Noord-Wes op ‘n goeie grondpad wat soort van parralel met die teerpad Robertson toe loop.

Net voor die teerpad oor die Brederivier gaan, sluit ek by hom aan maar na 2 km gaan ek links op ‘n teerpad wat die boere Suid-Wes van Robertson bedien. Ek was van mening dat dit ‘n grondpad was, maar dit is geteer, ook waar ek later regs draai. Na so ‘n paar kilometer moet ek links draai op ‘n grondpad wat my weg van die wingerde en vrugtebome neem na regte Bolandse fynbos. Die paaie is almal in ‘n baie goeie toestand en ek handhaaf ‘n gemiddelde spoed van net meer as 17 k.p.u. insluitende my stop op McGregor. Daar is ‘n afdraai na ‘n “Lodge” met ‘n oulike hek wat ‘n strooi afdak het. Ek stop om my stere ‘n blaaskans te gee en eet ‘n Woolies energie stafie.

Na nog ‘n paar aansluitings kom op die R43 tussen Villiersdorp en Worcester. Ek neem die Klipbokkop vakansie oord se afdraai, maar kom voor ‘n groot hek wat toe is. Ek skakel die eerste nommer, maar kry nie antwoord nie. Het meer geluk met die tweede nommer maar word meegedeel dat die hek deur die Brandvlei Gevangenisdiens beheer word. Ek het dus geen ander opsie as om Aandedoorns en Worcester om te ry nie, ‘n draai van seker omtrent 20 km!

Net nadat ek verby die punt van die dam is, sien ek ‘n pad op my Garmin wat teen die dam om loop en heelwat korter is. Ek was nie bewus van die pad nie en besluit om te kyk of dit werk. Die aanwysbord sê Riverside en ek besluit om daar af te draai. Dit is ‘n teerpad en dit is in ‘n baie goeie toestand. Net na Riverside begin die toestand van pad verswak en na ‘n rukkie sien ek ‘n “doodloop” teken en ‘n pyl wat wys na Worcester bakstene. Net verder aan is daar weer ‘n groot hek maar net voor die hek draai ‘n grondpad weg na Worcester bakstene. Ek volg die pad en sien dat die ander pad na die hek aangaan maar heeltemal toe gegroei is. Ek kyk Noord-Wes ek sien dat daar ‘n rybare pad oor die damwal is wat lyk of dit aansluit by ‘n ander pad teen die oorkantse heuwel, wat ooreenstem met my Garmin. Ek ry ‘n entjie deur die veld, tel my fiets oor ‘n draadheining en ry oor die damwal. Terwyl ek oor die wal ry, sien ek dat die pad wat my Garmin wys eintlik onder die wal loop, maar dit lyk of die twee teen heuwel saam kom. Op die einde van die wal is dit ook so en ek ry met ‘n kort styl voetpaadjie tot by die grootpad, wat na ‘n ruk weer ‘n teerpad word. Om die draai is daar weer ‘n hek, maar daar is plek langs die hek om met ‘n fiets deur te gaan. Ander kant hek staan ook ‘n hele paar motors van mense wat seker visvang. Net verby die motors is daar ‘n teerpad na regs wat ook in onbruik is. Dit is dus duidelik dat hier ‘n paar paaie was wat vir een of ander rede toegemaak is! Wonder waarom want daar was heelwat geld spandeer om die pad, wat nou nie meer gebruik word nie, teen rant uit te kap!

Die pad loop deur die Nekkies Vakansie oord en sluit by die ingang by die Rawsonville/Worcester pad aan. Ek ry die ongeveer 7 km Rawsonviile toe sonder enige moeite en arriveer 16:30 by my blyplek.

Data: Tyd 11:11:19; Afstand 193 km; Klim 1,137 meter; Daal 1,423 meter; Maksimum temp 38.6 grade Celsuis