Vrydag 29 Desember 2017

Rawsonville na Bloubergstrand

Ek het die vorige aand gereël vir ontbyt in my kamer en ‘n “lunch pack”. Dit is net na 21:00 afgelewer en ek was teen 21:45 in droomland totdat my wekker my 04:45 wakker gemaak het. Ek was redelik tydsaam en kom 05:55 weg.

Ek besluit om eers ‘n draai by die garage te gaan maak om my fiets se wiele op te pomp. Ook maar goed, want die agterwiel was redelik pap. Daarna volg en ‘n grondpad uit die dorp oor die Deetlifs Landgoed. Dit loop egter in ‘n sirkel na die verbindings pad met die R101. Net nadat en op die verbindings pad is, is daar ‘n goeie grondpad na links en ek besluit om ‘n kans the vat. Die pad kronkel deur die wingerde en plase. By een van die opstalle kry ek ‘n paar mense en hulle bevestig dat die pad deurloop na die R101. Dit is toe ook so en ek sluit by die R101 aan net voordat die pad by die N1 aansluit.

Van hier moet ek noodgedwonge die N1 volg tot by die weegbrug waar die ou pas links afgaan. Daar gekom besluit ek om eers ‘n breek te neem en te kyk wat alles in my “lunch pack” is. Ek eet ‘n eier, kersie tamaties, ‘n toebroodjie en ‘n stukkie vleis. Na 15 minute val ek weer in die pad. Die pas is redelik stil, maar daar kom tog ‘n paar voertuie en vragmotors verby, een ‘n bietjie naby na my sin! Dit neem my 48 minute om die 7 km tot by die bopunt van die pas af te lê. Die bene is vanoggend redelik tam na gister se 193 km en die stere is baie gevoelig! Anderkant is ek redelik verbaas om te sien dat al die dene bome afgekap is. Toe ek drie jaar gelede hier af is was die hange van die berg bedek met bome. Nou is alles kaal en dit is dus baie maklik om die kronkel paadjie vir die aansluiting by die Beulah pad te volg.

Ek besluit om in Wellington te stop vir ‘n koffie of ‘n koeldrank, maar toe ek deur my sakkie gaan waarin ek gewoonlik ‘n noot of twee bêre gaan, kry ek niks. Ek is toe maar verplig om net my waterbottel vol te maak. Net nadat ek oor die Lady Loch nou bruggie is, trek ek af en neem weer ‘n ete breek. Die keer eet ek weer ‘n eier, van die bruin saadbrood, die druiwe en ‘n “cheese griller”. Na 15 minute is ek weer aan die gang, maar die energie vlakke bly vanoggend laag. Die seer stere maak dit oor nie makliker nie. By die R45/R44 kruising draai ek regs en ry tot by die Agter Paardeberg afdraai. Na 2.5 km draai ek links op die Langvlei pad.

Die nood druk en by die volgende kruising hou ek stil vir, onder andere ‘n nommer 2 gemaks breek! Na 11 minute is ek weer aan die gang. Hierdie pad ken ek baie goed en ry ek gereeld wanneer ek vir ‘n lang wedren oefen. Dit loop oor Middelburg en Leeuwendans en sluit by die Slentpad, wat Paardeberg met Klipheuwel verbind, aan. By Leeuwendans se bestuurder se huis maak ek weer my waterbottel vol. My stere en bene protesteer en by die Occultdale afdraai stop ek weer om net ‘n bietjie te rus. Na ‘n rukkie kom ek weer aan die gang. Die Occultdale pad sluit by die M58 (Adderleypad) aan en dan draai ek af na Malanshoogte. My water is min en die watersak in my rugsak is ook leeg met die gevolg dat ek by Faircape stop om water te kry.

Die einde is nou is sig met net Malanshoogte waar ek nog oor kom moet word. Ek “grind” die bult uit en geniet die afdraand na die Vissershok vierrigting stop waar en regs draai na die N7. Ek ry oor die N7 en met die ou brug oor die Dieprivier. Net naderkant die brug volg ek ‘n plaaspad wat my deur neem na Sandownweg toe. Dan al langs Sandownweg langs tot by Sandown Retail Crossing. Die teerstrate agter die sentrum is meesal klaar maar nog nie oop vir verkeer nie, maar dit is maklik om met ‘n fiets by die versperrings verby te kom. Na ‘n stukkie deur die veld kom ek by die pad uit wat die verlenging van Big Bay Boulevard is en my dit neem huis toe. Ek is net na 15:30 by die huis. Moeg en dankbaar!


Data: Afstand 111.49 km; Tyd 9:40:24; Klim 1,256 meter; Daal 1,426 meter; Maksimum temperatuur 40 grade Celsius!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking