Maandag 17 Januarie 2022

Attakwkas nommer 13

Saterdag 15 Januarie 2022 was dit weer tyd vir die Attakwas. Ons is al Donderdagmiddag uit die Kaap weg om in Witsand oor te slaap, want Johann de Bruyn het 'n werks vergadering in George vir Vrydagoggend geskeduleer. Na die vergadering en middagete, is ons deur Oudtshoorn toe. 

 

Die temperatuur was al reeds in die hoë dertigs. Nadat ons geregistreer het, het ons by Karoo Soul ingeklok. Geluukig was daar 'n swembad om ons te help afkoel. 

 

Ek het 'n uitnodiging vir die lede van die Ratelklub (mense wat meer as 10 Attakwasse voltooi het) gekry en is 19:00 daarheen terwyl Johann-hulle by die Spur gaan eet het. 

 






Aangesien ek deel van die "uitgesoekte" Ratelklub lede was, val die twyfelagtige voorreg my toe om in die A groep weg te spring. As gevolg van Covid, begin ons weer in Oudtshoorn en ry "neutraal" tot by Chandelier, waar kilometer "0" begin, 'n afstand van 11 kilometer wat 44 minute neem om af te lê.

 

Dus begin die Attakwas eers nou. Op hierdie stadium is die temperatuur 'n skaflike 30 grade. Ons ry op 'n tweespoor plaaspad deur die veld en begin onmiddellik met 'n redelike klim, wat aanvanklik nie te styl is nie maar so elke nou en dan is daar 'n bultjie wat eksta krag vereis. 

 

Johann, wat in groep B weggspring het, haal my hier in en ons ry saam tot by waterpunt 1. Dit het my dieselfde tyd (1:39) as met die vorige Attakwas geneem om tot hier toe kom. Nadat ons verfris is, val ons weer in die pad. Soos ons aan ry raak die hitte al erger. Die son steek! Ons handhaaf 'n redelik pas tot by die eerste groot bult van die dag. Johann is so 'n entjie voor my en ons "grind" maar die bult uit. So driekwart pad besluit ek dat dit in die hitte beter gaan wees om te stoot. Bo gekom sien ek Johann kyk redelik moedeloos, maar dit is te wagte onder die omstandighede! Ek val in die pad terwyl Johann nog asem skep. Die temperatuur staan op 43 en dit is nog nie eers 09:00 nie!

 

Van hier is dit maar redelik op en af tot by waterpunt 2. Ek kom hier aan na 'n verdere 1:43, so 10 minute langer as laas keer. Gooi water oor my kop, by my bors af en op my rug. Vul my waterbottel, drink Coke, eet 'n dadel bolletjie en neem 'n piesang vir die pad. Johann kom hier aan net toe ek omtrent reg is om weer te ry. Hy besluit hy het genoeg van die hitte gehad en bel vir Duncan om hom te kom haal. Ons roep vaarwel en ek val weer na 8 minute in die pad. Die temperatuur bly in die 40tigs!

 

Ek het verwag dat dat die deel tussen waterpunt 2 en 3, in die hitte, die moeilikste van vanjaar se Attakwas sal wees en dit is ook so. Ek stoot groter dele van die kwaai bulte aangesien dit net te warm en vermoeiend is om te probeer trap, maar ek vorder darem. Bo-op King of the Mountain is daar water en koeldrank, nie 'n offisiële waterpunt nie maar welkom in die hitte. Daar is op die stadium egter net ys en water van ys wat gesmelt het en 'n paar blikkies koeldrank. Ek gooi van die yswater oor my kop, in my bors af en op my rug en drink 'n koeldrank. 

 

Ek loop vir Mark le Roux van Bigshot Media hier raak en hy voer 'n impromptu onderhoud met my. Ek bevestig dat dit my warmste Attakwas is, maar ek gaan klaar maak! Hier registreer my Garmin 47 grade! Ek val weer in die pad en ry dat dit klap die bult af, maar oowee, skielik is iets fout! My ketting slaan vas. Onmiddelik kom my onderhoud na my terug. Sal ek dalk vandag nie klaar maak nie as gevolg van 'n meganiese probleem! Ek hou stil maar kan geen fout sien nie. Ek wikkel die ketting 'n bietjie rond en kry die wiel weer aan die draai. Gelukkig is dit nou afdraande so ek hoef nie te trap nie. Op die gelyk pad kom ek agter dat die middelste ratte darem redelik werk. Wanneer ek egter by 'n styl bult kom en die grootste rat probeer gebruik, glip die ketting aan die binnekant af en moet ek eers stilhou om hom los te wikkel. Die “voordeel” is dat ek nou nie die keuse het anders as om die styl bulte uit te stoot nie. Dit kry ek gedoen teen 2 tot 3 kpu, terwyl ek gewoonlik so 4 tot 5 handhaaf. Die hitte eis voorwaar sy tol! Teen die gelyk gedeeltes werk die ratte redelik, maar wanneer ek die kleiner ratte will gebruik, slaan die “drive chain” vas. Ek moet dus maar “spin”. Daar waai gelukkig so ‘n ligte briesie van agter, wat ons darem so ‘n bietjie afkoel. 

 


Ek kom na 2:32 by waterpunt 3 aan, ‘n half uur langer as verlede keer! Daar is gelukkig ‘n “mechanic” wat sal kyk of hy die fiets reg kan kry. Ek drink Coke en gooi myself behoorlik nat. Die temperatuur het sedert waterpunt 2 nog nie onder 40 grade gedaal nie! Ek is nie honger nie en eet net ‘n dadel bolletjie. Die “mechanic” sê my ketting het gebuig en hy kon dit gelukkig reg kry. Ek rus so ‘n bietjie op die stoel onder die skaguwee van sy “gazeebo”. Voel nogal verbasend goed terwyl ek so in die koelte sit. Ek is seker ek sal ‘n ander deuntjie sing wanneer ek weer aan die gang kom! Na 13 minute is ek weer aan die oppad.

 

Een van die manne by gisteraand se funksie het van die “wit pad” wat die son weerkaats, na waterpunt 3 gepraat. Vandag voel die hitte wat van die pad opslaan so ‘n bietjie erger. Die temperatuur bly bo 40. Elke keer wanneer daar ‘n skadu kolletjie is, sien ek mense in die koelte rus. Ek druk maar aan, al is dit teen ‘n redelike vertraagde pas! Ek kry dit darem reg om die opdraand teen so net meer as 4 kpu uit te trap. Ons ry nou deur dene plantasies met die gevolg dat daar heelwat skadu kolle is. Hier is weer ‘n ongeskeduleerde waterpunt en ek stop vir ‘n koeldrank en koue water om my liggam af te koel. Ek ry meesal alleen. Heelwat ryers kom verby, maar rus dan weer in die koelte, waar ek hulle weer verby gaan. Netnou kom hulle weer verby. Ek verkies om aan die gang te bly eder as om te rus en dan weer te sukkel om aan die gang te kom. Daar is heelwat toeskouers waar ons die R328 kruis. Almal moedig ons aan en klap hande. Na ‘n entjie op die teerpad, by Outeniqua Moon, draai ons af Botterlierskop se rigting toe en waterpunt 4, waar ek na ‘n verdere 1:40 aan kom, 24 minute langer as verlede keer! Die hitte maak my stadiger.

 

Na ‘n 3 minute is ek weer aan die gang. Ons het nou ‘n redelik tegniese afdraand tot by ‘n rivier, waar ek in die water afklim om my voete af te koel, en dan onder nette oor ‘n nuwe sitrus boord tot by ‘n goeie grondpad Elke nou en dan, wanneer ek net lekker spoed optel, slaan my ketting vas. Moet maar stilhou en los wikkel en daar gaan ons weer. Nou is dit weer bult op. Nommer 14 van die 17 vir die dag! Net langer as ‘n kilometer met 100 meter se klim. Dit word gevolg deur ‘n paar lekker afdraandes en ‘n klimmetjie na Ruiterbos en waterpunt 5, die laaste! Maar voor Ruiterbos is daar die Moordkuilrivier se kilm. ‘n Regte bul van ‘n bult. Nie lank nie, maar styl en na ‘n dag in die son lê dit soos ‘n uitdaging voor my. 140 meter se klim oor 1.5 kilometer. Ek besluit egter om te kyk hoe ver ek kom en voorwaar, ek trap die hele bult uit en kom na 1:45 by waterpunt 5 aan. Ek verloor nog ‘n verdere 17 minute. Ek loop my skoonseun se broer en vrou hier raak en sy “kiek” my.

 


‘n Vinnige 3 minute stop ek die einde is in sig. Nou weer bult af en dan die laaste bult voor die jaag tog eindstreep toe. Die laaste bult is weer 140 meter se klim maar darem oor 3 kilometer. Nou skouer aan die wiel, einde toe. Iewers laat val ek nog ook my waterbottel toe ek hom wou uithaal om te drink en ry bo oor hom. Hy oorleef dit en ek hou stil om hom op te tel. Nou is dit redelik gelyk tot by die laaste afdraend. Ek tel twee meisies en ‘n ou op en ry lekker in hulle glystroom. Net voor die laaste afdreand slaan my ketting weer vas en ek verloor hulle. Gelukkig weet ek darem nou al van die ketting en hou gou stil om hom los te wikkel. Spring weer aan die gang ek kyk of ek hulle weer kan vang. Dit werk egter nie, maar ek is die laaste bult teen ‘n spoed af. Draai links na Pine Creek toe en bereik die einde na 10:40, 11:20 met die eerste 11 kilometer ingesluit. Voorwaar ‘n grootse poging om die een te voltooi! Seker maar te dom astrand om op te gee, maar die satisfakise om so ‘n uitmergelende wedren te voltooi, maak op daarvoor! 


Ek is 305ste uit die 337 van die deelnemers klaar gemaak het. 874 het ingeskryf, dus het net 38% van die deelnemers die wedren voltooi!