Woensdag 08 September 2021

2021 Trans Baviaans Repeat

 Na die aanskuif en latere kansellasie van die 2020 Trans Baviaans, kon ons weer die kloof in 2021 aandurf, maar weereens nadat die datum met twee weke aangeskuif is.

 

Alles was dus gereël vir die naweek van 4 September. Ek en Johann de Bruyn vertrek met sy motor, saam met Danie Kotze wat as ondersteunings bestuurder optree, op Vrydagoggend 3 September uit die Kaap weg. Ek het vir Danie 07:30 opgetel en ons was 08:15 by Johann. Nadat die fietse opgelaai is, vertrek ons vanaf Pinehurst. Ons moet die Lowe’s, die Ehlerse en Andre Vancouillie (Kwaggs 2) langs die pad kry. Laas genoemdes het ‘n paar  probleempies met kinders aflaai by die skool en ons en die Lowe’s vertrek so lank en reël om mekaar by Shell naby Worcester te ontmoet vir koffie. Vandaar is dit Barrydale toe vir middagete by Diesel en Crème. Alles verloop voorspoedig en ons arriveer so net na 16:00 in Willowmore. Registrasie verloop glad en ons is so ‘n rukkie na 17:00 oppad Marlu toe. Die ander voetuie besluit langs die pad dat dit beter gaan wees om eers in Steylerville vol te maak voordat hulle plaas toe gaan. Ons kom dus so ‘n rukkie voeër as hulle daar aan. Ons word, soos gewoonlik, huldig ontvang en maak onself tuis voor aandete. Die res van die span is net na 18:30 ook daar. Die vyf wat op Sandkraal bly daag ook vir aandete op. Hulle is van Ladismith, Natal. Na ete verkas almal kamer toe, reg vir die tog Willowmore toe 04:30 die oggend.

 

Almal kom so teen net na 04:00 weg en ons is teen 04:50 in die dorp. Nou vir die finale reg maak . Teen 05:17 kry ons ons “lineards” en begin trap. Ons is heelwat gelukkiger as die ouens wat verlede week gery het, want die temperatuur is 4.0 grade Celsius. Op die hoër gedeeltes en met al die getrap, raak ek gou warm. Toe ons begin sak en die son sy kop begin uitsteek, daal dit na 0.0 garde! Gelukkig is ek reg vir die koue en pla dit my glad nie.




Al sewe van ons ry aanvanklik saam, maar later besluit Kwaggas 2 dat ons pas te stadig is, en trek hulle onder ons uit. Christine Lowe, wat Januarie begin fiets ry het, hou baie goed by. Teen Nuwekloofpas af gaan dit soos gewoonlik rof, maar ons vier kom “heel” onder uit en groepeer weer. Nou ry ons lekker saam, met die gewoonlike groepe wat aansluit en dan óf vooruit ry óf terugval. Ons handhaaf ‘n goeie pas en daag na 2:38 by waterpunt 1 op. Ons kry ook vir Kwagga 2 hier. Nadat almal iets ge-eet en gedrink het, is ons na 10 minute weer in die pad. 

 

Die stuk tussen Waterpunt 1 en 2 is redelik gelyk met geen ernstige bulte nie en alhoewel die profiel lyk of dit afdraend is lyk dit nie so wanneer dit gery word nie! Hierdie deel van die pad is altyd baie sinkplaat en alhoewel die pad geskraap is, is dit vanjaar nie veel anders nie. Ons bereik Waterpunt 2 na ‘n verdere 1:47. Ons gemiddelde spoed oor die 41 km was 23 kpu. En ons het nou in total 92 km afgelê. Hierna begin die groot klimme! Ons stop vir 14 minute.

 

Oor die eerste 92 km klim ons 803 meter. Oor die volgende 48 km klim ons 1,085 meter. Ons gaan na 6 uur se ry oor die halfpad merk, maar dit gee net rekenskap van 1,200 van die totale 2,900 se klim oor die roete! Ons kry vir Kwagga 2 hier langs die pad. Andre het ‘n bietjie hard met die grond kennis gemaak, maar is darem OK! Ons laat hulle daar en ry aan. Hy sou later weer val, maar het darem die ende in een stuk gemaak. Ons bereik Waterpunt 3 na 6:36 en het nou 124 km gery. Na ‘n stop van 17 minute is ons weer oppad. Net na die Waterpunt is daar ‘n lang ent wat ons deur die water moet ry wat op sy diepste so net onder die knie is. Ons wag eers dat daar ‘n redelike spasie tussen ons en die ouens voor ons is sodat ons nie momentum verloor indien hulle vashak nie. Ons word aangesê om regs te hou. Johann maak so maar ek hou, vir geen besondere, links. Net voor die iende steek Johann se voorwiel teen ‘n klip vas en het kry dit net betyds reg om ‘n voet uit te steek en sy ewewig te behou. Ek ry regdeur. Daar was vanjaar weer heelwat stories van ouens wat onder die water verdwyn het of net kop bo water gehou het as gevolg van in hierdie water val!

 

So ‘n entjie na die avontuur slaan ons die eerste van die “Fangs”. Dit is twee klien koppies waaroor ons moet ry. Hulle is nie baie lank nie, maar die klim is kwaai. Dit word gevolg deur die MAC waar ons 500 meter oor ‘n afstand van 8 km klim. Dit neem my byna ‘n uur om bo te kom. Ons gemiddelde spoed oor die 17 km tussen 3 en 4 was 8 kpu.




Dit is dan ook Waterpunt 4 en hier kry ons altyd lekker sop! In die verlede was dit gewoonlik donker wanneer ons hier kom, maar met vanjaar se vroeër begin, is dit nou eers 13:55 en die son is lekker warm. Ons het voorsiening gemaak om skoon en droë klere hier aan te trek, maar besluit daarteen. Na 17 minute is ons weer aan die gang. Die bene voel maar moeg, maar ons moet aandruk!

 



By die “Big Dipper” af moet ons maar versigtig wees vir die spoelslote en los klippe. Johann is hier heelwat vinniger as ek en moet dus so ‘n paar minute vir my aan die onderpunt wag. Van hieraf tot by Waterpunt 5 is baie soos tussen punt 1 en 2. Die voordeel vanjaar is dat ons hier in die daglig ry en kan sien hoe mooi die omgewing is. Ons handhaaf ‘n gemiddelde spoed van 22 kpu. Dit is ‘n offisiele ondersteuninhspunt en Danie was veronderstel om ons hier te ontmoet. Ons kry hom nêrens en daar is ook nie selfoon ontvangs nie!. Daar was gelukkig nie enige iets van belang wat hy vir ons moes gee nie. Na ‘n “Chip Roll” en ‘n paar glasies Coke, is ons 19 minute later weer aan die gang. So drie km verder kry ons vir Danie. Hy het hom toe met ons spoed misgis en dit is hoekom hy laat was. Hy moes egter ook vir die Lowes ondersteun so hy ry aan na Waterpunt 5 en ons ry voort na ‘n vinnige groet. 

 

Nou kom die “Never Ender”. Dit behels drie klimme oor ‘n afstand van 10 km waar ons van 185 meter na 420 meter klim. Die probleem is dat dit op 180 km van die wedren kom en dat dit uit drie klimme bestaan. Die probleem vir die oningeligtes of die wat dit vir die eerste keer ry, is dat daar ‘n lang klim is, gevolg deur ‘n vinnige afdraend, gevold deur nog ‘n klim en afdraend en dan ‘n finale klim. Dit neem ons bykans ‘n uur om die 10 km af te lê. Bo-op die laaste bult is daar ‘n “ombemande” kontrole punt en dan is daar ‘n paar op en af’s tot by Waterpunt 7. Die aanloop na die waterpunt is ‘n bietjie verskuif en ons moet ‘n giftige bultjie uitry voordat ons daar kom. Ons trek nou op 202 km en is al vir 12:48 aan die gang. Hier kry ons ‘n Javel met maalvleis. My eetlus is heeltemal weg en ek eet net die helfte. Ons vertoef 15 minute. 

 

Die einde is nou in sig met net die “Mini MAC” en die treinspoor “single track” wat oor is. Dit raak ook nou donker en ons moet weer ons ligte aansit. Die laaste 23 km is nie te moeilik nie, maar dit is nie maklik om ‘n goeie gemiddelde spoed vol te hou nie. Die eerste gedeelte is op ‘n redelike “Jeep track” wat die “Mini MAC” insluit, gevolg deur ‘n goeie distrikspad met ‘n paar lekke afdraendes, maar dan kom die laaste 10 km al langs die treinspoor af. Die toestand van die pad is goed, maar na 13:30 en 215 km is dit nogal ‘n uitdaging. Die pad is redelik gelyk, maar daar is ‘n paar lae A-raam bruggies wat redelik nou is en dan kruis ons ook nog die spoor ‘n paar keer. Dit gaan maar knor-knor, maar ons maak dit darem. Dit is met groot verligting dat ons die laaste draai omgaan en die ingang na die Fountains Mall sien. 

 

Ons ry, met groot vreugde in ons harte oor die eindstreep na 14:29 teen 19:48 die aand. Wat ‘n voorreg was dit nie om weereens ‘n Trans Baviaans te kan voltooi nie. Die is my 8ste en die laaste 5 was almal tussen 14:10 en 14:50.