Maandag 17 Mei 2021

36ONE 13/14 Mei 2021



Ons het besluit om ‘n paar dae by my niggie op Marlu in die Steytlerville distrik te gaan kuier voordat ek my 7de 36ONE aandurf. Ons ry dus al die Dinsdagoggend hier af. Toe ek my fiets oplaai, merk ek ‘n “stuk” olie aan die ketting. Toe ons by ons betemmeing aan kom en ek dit wil afhaal, sien ek dit is ‘n gebreekte skakel. Gelukkig is dit reg langs die “master link” en oorkom ek die probleem deur net die gebreekte skakel uit te haal. 

 

Daar is ‘n baie rowwe en styl bult op na die plaaslike Wi-Fi toring nie te ver van die plaas af nie. Ek het nou al twee keer probeer om tot daar te ry, maar elke keer moed op gegee voordat ek by die toring uit gekom het. Ek besluit om weer te probeer en kry dit die keer reg. Dit neem my twee uur om die 11 km tot by die tower af te lê. Die totale klim vir die dag was 599 meter, maar indien in ag geneem word dat dit omtrent alles oppad daarheen was en dat die eerste 5 km op gelyk pad is, werk dit op ongeveer 100 meter se klim vir elke kilometer uit! ‘n Groot gedeelte van die pad is egter nie rybaar nie omdat dit te styl en daar te veel los klippe is, so ek weet nie of ek dit weer sal doen nie.


 

Tydens die rit kom ek tot die gevolgtrekking dat daar ‘n paar goed op my fiets is waarna ek sal moet laat kyk voordat ek die 36ONE aandurf, onder andere die oorskakeling van die ratte. Ek kry die naam van die plaaslike first winkel by die organiseerders en laai my fiets by hulle af toe ons Donderdagoggend in Oudsthoorn aankom. Ek kry my fiets weer die middag net voor 17:00 nadat hulle die stuur se laers vervang het en die ratte vir my gestel het. 

 

Net voordat ons na die wegspring vertrek, tel ek skielik ‘n probeer met my selfoon op. Ek skakel hom af en weer aan om te kyk of die probleem opgelos is en dit werk, maar ek het vergeet dat ek ‘n nuwe PIN gekry het nadat my vorige foon in Februsrie gesteel is, met die gevolg dat ek hom nie weer aan die gang kan kry nie, behalwe vir internet toegang waarvoor ek ‘n aparte “dongle” het. Op die laat stadium kan ek niks daaraan doen nie en moet maar met die probleem saam lewe. Mt broer laai my ongeveer 14:30 by die wegspring af. As gevolg van Covid mag toeskouers nie by die wegspring die deelnemers afsien nie! Die weervoorspelling vir die wedren is goed met ‘n moontlikheid van reën teen Saterdagaand. Ek hoop om dan al klaar te wees.

 


Ons spring 15:00 weg. Die eerste paar kilometer tot net buite die dorp is ‘n neutral sone, so die pas is redelik rustig. So in die verbygang loop ek twee manne wat ook die Freedom Challenge se Race Across South Africa gedoen het, raak. Hulle mik vri so 17 uur, terwyl my versier op 24 uur ingestel is! 

 

Ons draai op 6 km regs en die eerste klim begin. Gelukkig is dit nie so warm soos in November verlede jaar nie en die eerste klimme is darem nie te styl nie. Dit hou vir so 9 km aan en dan het ons ‘n lekker afdraend.


Onder in die vlak draai ons regs om ons Wes van Dysseldorp en oor die R29 te neem om dan weer by ‘n distrikspad aan te sluit wat ons eers in ‘n Westelike rigting tot op 44 km en dan Suid Wes neem. Op 55 km draai ons Suid na Heimersrivier toe. Dit is ook die eerste waterpunt. Ons klim 150 meter oor ‘n aftand van 7 kilometer. In teenstelling met verlede jaar het ons vanjaar ‘n briesie van die Noord Weste wat ons lekker aanstoot. By die Heimersrivier/Paardepoort kruissing draai ons weer links Daskop toe. Ons is nou op die area se “rolling hills” en wat opgaan moet ook afgaan, maar ons bly so tussen 540 en 640 meter bo seevlak oor die volgende 45 km. Ek kom na 5:19 in die saal by Louvein, waterpunt 2 en die eerste kontrole punt, aan. 


 

Ek kry my broer hier en neem ‘n warmbaadjie. Ek gee my “dongle” vir hom om te laai, sodat ek darem kontak oor die internet kan maak indien dit nodig is. Ek val na na 15 minute weer in die pad. Die pad vanaf Louvein na Harold is regtig baie vervelig en frustrerend! Ons daal van 650 meter tot 630 oor ‘n afstand van 20 kilometer en die pad is oor die algemeen redelik reguit, met die gevolg dan jy gedurig die ouens voor jou se ligte sien, maar die einde wil net nie kom nie! Op 122 km draai ons regs net voor Herold, ry onderdeur die N9 en sluit dan by die Paardepoortpad aan. Net voor die kruissing, waar ons 4 uur van te vore links in ‘n Oostelike rigting gedraai het, draai ons links in ;n Westelike rigting na ‘n stoor waar die 3 de waterpunt is. Na ‘n paar glasse Coke en stukkies piesangbrood is ek weer oppad. Alhoewel ons nou teen die wind ry het dit grotendeels bedaar en is die toestande baie gunstig. Ons daal vanaf 520 meter na 300 meter by Volmoed oor die volgende 47 kilometer. ‘n Paar van ons vorm ‘n lekker groep oor die laaste 20 kilometer en ek kom na 10:24 in Volmoed aan. Dit is nou 01:24 en ek het vir my broer gesê ek verwag on 02:00 in Volmoed te wees, so ek het sommer met die aankoms verwag dat ons mekaar gaan mis!  Ek eet ‘n bordjie pasta en drink koffie, maar sien my broer nêrens nie! Dit is darem nie ‘n te ernstigte probleem nie. Ek sou graag ‘n warmbaadjie en handskoene by hom wou kry, maar dit is darem nie te koud nie. Ek vertrek na 22 minute. 

 

Vanaf Volmoed is daar ‘n 20 kilometer se geleidelike klim tot op kilometer 201 km. Op hierdie stadium van die wedren is dit nogal baie gevra, maar ek byt vas. Oor die volgende 25 kilometer daal ons af na die kruissing van die Gouritsrivier, wat soos gewoonlik, droog is! Oor die volgende 25 kilometer, tot aan die voet van Rooibergpas, klim ons weereens geleidelik vanaf 150 meter na 350 meter! Daar is darem twee waterpunte oor hierdie afstand. By die eerste een vra ek vir ‘n swartsak, wat ek aan die binnekant van my warmbaadjie sit om die koue uit te hou end it werk dan ook baie goed. 

 


Op 250 kilometer begin die groot klim van Rooiberg! 440 meter se klim oor ‘n afstand van 7 kilometer! Ek byt egter vas en kry dit weereens reg om dit in een poging uit te ry! ‘n Gemidelde spoed van 7.92 k.p.u.


Ek drink weer ‘n paar glasse Coke by die waterpunt en durf dan die bult af aan. Op hierdie stadium is my hande besig om my op te keil! Die rowwe paaie wat ons tot dusver gery het, het tot gevolg dat my hande pyn. Rooiberg af is besonder rof, met die gevolg dat ek ekstra stadig moet ry om die pyn so min as moontlik te maak. Om sake te vererger is daar ook groot stukke sinkplaat wat die hand probleem het erger maak!

 


Ek na 18:30 kom ek in Calitsdorp aan. Die keer wag my broer darem vir my. Aangesien ek nie meer ligte gaan nodig hé nie, gee ek dit vir hom. Dit spaar darem so ‘n bietjie gewig! Na 14 minute is ek weer aan die ry. 



 




Vanaf Calitzdorp klim die pad geleidelik tot op so ongeveer 300 kilometer. Dan kom daar vier bulte oor die volgende 25 kilometer wat vergelykbaar met Rooiberg is! Die enigste verskil is dat daar na elkeen darem ook ‘n afdraend is. Dit is egter ‘n skrale troos op hierdie stadium van die wedren. Daar is darem ook ‘n waterpunt bo op een van die bulte. Nadat ons regs gedraai het Lategansvlei toe, is daar nog ‘n klein klimmetjie en dan ‘n lekker stuk, wat meesal afdraend is tot op 345 kilometer. Die laaste 15 kilometer is redelik gelyk en ek kom na 23:43:48 by die eindpunt aan! ‘n Verbetering van 37 minute op verlede jaar se tyd, maar ver kort van van beste tyd van 20:20 in 2018! Dit lyk my die jare begin my vang!

 

So eindig nog ‘n 36ONE. Hierdie wedren is beslis nie vir sissies nie en verg baie vasbyt en deurdrings vermoë.



<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/6788862237' title='Oudtshoorn 36ONE' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>


Data                Afstand        Tyd              Klim

Waterpunt 1      55.58        2:27:31          530
Waterpunt 2      46.07        2:51:52          804
Waterpunt 3      30.79        1:58:47          194
Waterpunt 4      23.18        1:38:18          311
Waterpunt 5      22:55        1:27:54          199
Waterpunt 6      38:16        2:38:56          510
Waterpunt 7      27:45        2:05:18          467
Waterpunt 8      12.15        1:35:42          588    
Waterpunt 9      27.69        1:45:46          102
Waterpunt 10    27.66        2:21:05          616
Waterpunt 11    33.66        1:59:39          509
Einde                19.09        0:53:00          222

Totaal             364.03       23:43:48      5,052