Maandag 30 Augustus 2021

2021 Attakwas

 As gevolg van Covid-19, is 2021 se Attakwas van Januarie na Augustus verskuif. Die Augustus datum het met die Trans Baviaans Repeat gebots met die gevolg dat my inskrywing oorgedra is na Januarie 2022. Aan die begin van Augustus is die Trans Baviaans Repeat na 4 September verskuif, met die gevolg dat ek my inskrywing toe vanaf Januarie 2022 na 21 Augustus 2021 teruggeskuif het. Dus op 21 Augustus was dit weer Attakwas tyd!

 

Johann de Bruyn het ook ‘n inskrywing gekry en ons is op 20 Augustus Oudtshoorn toe. My broer sou weer die motor Groot Brak toe neem en Johann se baas, Andreas Diacon is ook saam. Ons het almal by Karoo Soul geslaap. Ek tel vir Nico se net na 09:30 op en ons kry vir Johann-hulle so om en by 10:15.

 

Johann moet egter eers vir ‘n bestuurderstoets vir sy motorfietslisensie in Somerset Wes gaan. Sy afspraak is vir 11:30. Nadat ons hom aflaai gaan drink ons koffie by Vida in The Sanctuary. Andreas beplan om 2022 die Freedom Challenge Race Across South Africa te doen, so ons het baie om oor te gesels. Johann slaag sy toets en ons val so net na 12:00 weer in die pad, wat ‘n vinnige koffie stop op Riviersonderend insluit. 

 

Ons kom net voor 18:00 in Oudsthoorn aan. Karoo Soul is binne stap afstand van die registrasie plek. Ons laai eers ons fietse en begasie af, registreer en gaan dan Spur toe vir aandete. Ons spring in verskillende groepe weg, maar die wegspring is binne ry afstand vanaf Karoo Soul. Ons is net na 21:00 in die bed en reg vir “The Hell of the South” in die winter! Beslis ‘n eerste en na 2020 se nat Attakwas sien ons uit na ‘n droë, maar koue Attakwas.

 

Ons kom net vvor 06:00 aan die gang met ‘n vining Weetbix ontbyt en ry sommer met die fietse van Karoo Soul na  ons wegspring blokke. Andreas begin 06:55; Johann 07:00 en ek 07:15. 

 

Ons kom uiteindelik teen 07:28 aan die gang. Weereens as gevolg van Covid-19, begin vanjaar se wedren in Oudtshoorn met ‘n 10 km neutrale deel tot by Chandeleur waar die wedren by km 0 offisieël begin. Die temperatuur daal na 2 garde Celsius oppad Chandeleur toe! Teen die tyd wat ons km 0 bereik, styg dit na ‘n koel 5 grade!. Die eerste gedeelte van die roete moes heeltemal verander word as gevolg van vloedskade tydens die onlangse reën. Die veranderde roete is heel interessant met nuwe klimme en afdraendes op redelik goeie tweespoor paadjies. Na so ongeveer 7 km sluit ons by die ou roete aan. Dit wil voor kom asof daar vanjaar minder deelnemers is, met die gevolg dat dit makliker is om te ry. Soos gewoonlik is dit egter nog steeds ‘n geval van “heen en weer”. Dan kom mense by my verby en dan gaan ek weer by van hulle verby. Die pas wat ek handhaaf is redelik en ek geniet die rit. Ons gaan deur ‘n rivierloop, wat heelwat meer water as in die verlede het, met die gevolg dat my skoen en sokkies sopnat is. Dit neem my 13 minute langer as verlede jaar om by die eerste waterpunt te kom. Seker maar ‘n teken van die ouderdom! Daar loop ek weer vir Johan Breunissen raak en hy neem ‘n kort video van my. Na ‘n paar glasies Coke en ‘n paar stukkies piesangbrood, val ek 2 minute later weer in die pad. Die temperatuur het darem al na 13 grade gestyg!

 

Daar is heelwat meer nat plekke op die roete, maar nie veel water poele nie en dit is darem nie te modderig nie. Na 33 km kruis ons die Kandelaarsrivier en pak ons die eerste ernstige bult aan. Ek kon nog nooit dit reg kry om die bult uit te trap nie. Die was of as gevolg van swak bene of te veel groot klippe of te veel mense wat stoot en nie pad gee nie. Vandag gaan dit egter heelwat beter, seker ook as gevolg van die kliener aantal deelnemers. Ek kry dit dan ook reg om vir die eerste keer in 12 poging die bult uit te trap! Dit word gevolg deur ‘n tweespoor paadjie deur die fynbos oppad na die Moerrasrivier waar ons die R328 kruis en waterpunt 2 kry. My tyd is weereens stadiger as verlede jaar met ‘n verdere 7 minute. Ek is dus nou 20 minute agter verlede jaar se tyd. Ek val na 2 minute weer in die pad. 

 


Die groot klim van die Attakwas begin na waterpunt 2. Van hier af (58km) tot by 70 km klim ons meeste van die tyd. Die oppervlakte is ook lekker rof en ons moet versigtig wees teen die afdraendes met baie los en groterige klippe. Die “King of the Mountain” is op 70 km. Ek hou vining stil en drink ‘n blikkie Biogen. Toe ek weer begin ry kom ek agter dat my voorwiel papperrig is. Ek hou stil en pomp hom met die hoop dat hy sal hou. My gekuk is in en ek het geen verdere probleme met hom nie. Die “sealant” het seker sy werk gedoen. Ek kom na 5:21 en 70 km by waterpunt 3 aan en verloor nog 2 minute. Ek is nou 22 minute agter 2020 se tyd. Dit het egter 2020 heeltyd van hieraf gereën en ek hoort  darem ‘n beter tyd oor die laaste 50 km te handhaaf. Ek neem die gebruiklike galsie Coke, piesangbrood, fudge en ‘n paar stukkies droë wors. Ek vertoef 3 minute hier.


 

Die laaste 50 km is hoofsaaklik op goeie distrikspaaie, maar daar is ‘n paar lelike klimme om aan te durf. Ons begin sommer met ‘n 7 km klim waartydens ons van 358 meter tot by 571 meter klim. Die volgende 8 km is redelik op en af met geen ernstige klimme of afdraendes nie. Op 85 km kry ons ‘n 3 km afdraend waar ons van 495 meter na 347 meter daal. Op 86 km kry ons waterpunt 4. Na die gewone eet en drink en 2 minute se rus, is ek weer aan die gang. Ons het ry met ‘n enkelspoor af na die Koumarivier en ons daal van 347 na 216 meter oor 1 km. Dan ‘n entjie deur nuwe boorde tot by ‘n distrikspad en ons volgende bult. Ons klim 100 meter oor 1 km! Dit word opgevolg deur die normal op en af van hierdie wêreld, maar geen ernstige bukte nie tot op 105 km. 

 

Hier begin die Attakwas se “doodsteek”! Oor die volgende 10 km het ons twee baie styl afdaendes gevolg deur twee baie styl opdraendes! Ons daal van 216 na 49 meter en klim dan weer na 198 meter, daal weer na 46 meter en klim weer na 189 meter. Dit alles oor ‘n afstand van 10 km. Die laaste waterpunt is op die middelste knop! Ek haal ‘n baie mismoedige Johann aan die voet van die eerste bult in! Ek kan nie veel vir hom doen nie en ry aan. 

 

Na die laaste bult is daar so 8 km gelykpad oor na die einde. Ek tel ‘n paartjie, wat ek al ‘n paar keer gedurende die dag gesien het, op en ons werk lekker saam tot by die einde. Dit neem my 15 minute om die laaste 8 km af te lê en ek eindig met ‘n tyd van 08:57, 12 minute stadiger as 2020. Ek het dus 8 minute oor die laaste 50 km opgemaak!

 

Totale afstand 121 km; totale tyd 08:54; geklim 2,957 meter


<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/7344451770' title='Attakwas' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>