Saturday, March 18, 2017

Eroica SA 2017

Ek het so 'n jaar gelede die eerste keer van Eroica gehoor. Dit is 'n beweging wat in Italië begin is met die doel om wedrenne te reël vir fietse wat voor 1987 vervaardig is en die wedrenne sal in die gees van die oorspronklike Tour de France wees, met ander woorde, geen ondersteuning en van die paaie sal grondpaaie wees. Vir SA is die reël aangepas om fietse wat tot 1999 vervaardig is te laat kwalifiseer. My 1989 Le Jeune, waarmee ek al 26 Argusse gedoen het, kwalifiseer dus. Die eerste wedren is verlede jaar gedurende April in Montagu gehou. Die tweede is gereël vir Saterdag 18 Maart 2017. Ek het daarvoor ingeskryf. Die wedren sou drie afstande hé naamlik 140, 90 en 50 km. Ek het besluit om vir 140 km in te skryf. Ek het die week voor die wedren vir my fiets 28 mm buitebande gekry om die grondpaaie beter te hanteer. Met my eerste oefen rit deur Koeberg Natuurtuin, kry ek 'n papwiel 200 meter voordat ek weer by die teer uitkom! Ek besluit dat dit seker beter sal wees om eerder die 90 km aan te pak eerder as om 140 km op grondpaaie aan te durf. Die Dinsdag voordat die wedren plaasvind, begin my keel krap! Benilyn help darem maar ek besluit om maar eder net die 50 km aan te pak.

Registrasie is vanaf 06:00-07:30 en dit neem 2 uur om Montagu toe te ry vanaf Bloubergstrand, met ander woorde ek moet 04:00 opstaan om betyds te wees. Alles verloop volgens plan en ek kom net na 07:15 daar aan. Registrasie is redelik "low key" en ek kry 'n oulike sakkie met my nommers, 'n kaart wat by die begin, twee punte langs die pad en die einde gestempel moet word en 'n paar eetgoedjies. Die 90 km roete volg dieselfde roete as die 50 km vir die eerste 50 km, gaan dan by die begin verby en uit na die Noord Ooste van Montagu vir 'n verdere 40 km. Ek gesels met die organiseerder en meld dat ek net die 50 km gaan doen. Hy stel voor ek begin saam met die 90 km groep en indien ek wil kan ek na 50 km ophou, maar indien ek so voel kan ek aan ry. So gesê, so gemaak!

Die wegspring tye is 08:00 vir 140 km, 08:30 vir 90 km en 09:00 vir 50 km. Die "stigter" van Eroica het van Italië af oorgekom, met 'n paar vriende en hulle gaan ook ry. Hy "open" die verrigtinge met 'n toesraak in Italiaans, wat vir ons vertaal word. Dinge gebeur egter baie rustig en die 140 km manne spring so ongeveer 08:10 weg. Die 90 km groep kom 08:42 aan die gang. Ons word uit die dorp gelei deur 'n veteraan motor wat in 'n uitekende toestand is! 




Die eerste deel is Oos van Montagu in Talana se rigting. Die eerste 2.5 km is teer, maar dan word dit grondpad. Ek ry saam met die voorste ouens. Deur die eerste drif, op 5.5 km, kry ek my eerste papwiel! Dit neem egter net 4 miniute om 'n ander binneband in te sit en ek is weer oppad, nadat almal by my verby is. Ek haal die agterste ryers gou in en vorder goed. Op 10 km draai die voorste ryers om. Ons het 'n afdraai gemis! Ons ry 'n 4 km draai! Die pad oppervlakte is goed en ek probeer my bes om die groter klippe mis te ry! Na 24 km kry ons die eerste kontrolepunt. Hier moet my kaart gestempel word en daar is neute, gedroogte perskes, broodrolletjies met spek, koffie en 'n dop of twee brandewyn vir die manne wat van die steker voggies wil hé! Terwyl ek rus maak ek kennis met 'n Brit wat Johannesburg toe gevlieg het, met die Bloutrien Kaap toe gery het, daarna 'n paar dae in die Kaap deurgebring het en nog 'n week langs die tuinroete gaan vakansie hou. Dit is nou die lewe! Ek spandeer 10 minute hier en is gou weer aan die gang. Op 30 km sluit ons by die Barrydale/Monatgu teerpad aan. Van hieraf is dit lekker voet in die hoek terug Montagu toe. Ek kom 2:25 by die begin aan en hou smmmer reguit deur aangesien ek baie goed voel en geen nagevolge van die die vroeëre krapperige keel ervaar nie.

Ons volg die pad verby die Avalon Springs en draai dan af op 'n grondpad Baden en Pietersfontein dam toe. Op 57 km kry ek my tweede papwiel! Hierdie keer neem dit my 7 minute om die band te vervang. Ek het egter net twee spaar binnebande saam gebring en daar was nog 35 km om te ry. Nou is nog meer versigtig om die klippe te mis en vat dit maar redelik kalm. Die pad raak ook redelik stel en ek besluit om maar 'n gedeelte te stoot. Toe ek bo kom besef ek dit is nie "bo" nie! Dit een van daardie paaie wat op en af gaan. Wanneer jy bo kom gaan jy weer in 'n vallei met nog 'n bult daarna. Gelukkig was dit tot 'n mate oë verblindery want onder in die vallei loop ons roete links en vermy ons die tweede bult wat ek gesien het. Ek moet om 'n toe hek gaan en verby 'n par plaashuise waar daar 'n groot hond is wat baie blaf en 'n ent agter my aan draf. Na aanleiding van die verkeerde pad wat ons vroeër vanoggend gery het, begin ek wonder of ek op die regte pad is. My GPS wys geen pad waar ek ry nie maar wel die bult wat ek gesien het. Ek besluit om om te draai en seker te maak. Weer verby die hond wat weer blaf en saam draf. Ek besef egter dat ons ingelig is oor die hek wat toe mag wees en van die paadjiom die hek wat gevolg word deur 'n enkelspoor met baie dorings. Ek is dus reg en draai maar weer om. Die hond jaag my weer, maar die keer is hy meer aggresief en gee my 'n hap. Gelukkig nie enrnstig nie maar darem genoeg om bloed te trek! Ek sal seker maar na die tyd 'n tetanus inspuiting moet kry! Ek stoot en dra my fiets grotendeels oor die enkel spoor om die risiko van nog 'n papwiel te beperk! Die roete gaan om die Pietersfontein dam en oor die damwal en anderkant af moet ek my fiets teen styl trappe afdra. Na die trappe kry ek die tweede kontrole punt. Ek maak my waterbottel vol, kry my stempel en rus lekker terwyl ek 'n boerewors rolletjie eet. Die mense daar sê ek is die eerste ryer wat daar verby kom, dus is ek voor in die 90 km wedren. 

Na 6 minute val ek weer in die pad. Daar is nou nog 20 km oor waarvan die grootste gedeelte teer behoort te wees. Die pad oppervlakte is oor die algemeen goed en na 'n verdere 6 km sluit die pad aan by die pad wat ek 'n uur en 20 minute vroeër gery het. Na 1 km draai my roete regs af in die rigting van die Koo Vallei/Montag pad. Nog 2 km en ek is weer op die teerpad en dankbaar dat ek nie weer 'n papwiel gekry het nie! Die laaste 12 km na die einde toe neem my 30 minute. Ek voltooi die 95 km, wat die 4 km draai insluit, in 5:12 en is die eerste 90 km ryrer wat klaar maak. By Eroica is dit egter baie rustig en daar is geen "verwelkomens komitee" by die einde nie. Trouens, ek moes gaan soek waar ek my laaste stempel kon kry en daar is skynbaar geen rekord of kontrole oor wie wat klaar gemaak het nie. Ek neem 'n paar foto's, drink 'n koeldrank en val in die pad huis toe. 



Ek kom net voor 17:00 daar aan, stort en gaan hospital toe vir my tetanus inspuiting. So eindig my eerste Eroica. 'n Heel interessante ondervinding met baie goeie hereneringe.

Sunday, February 12, 2017

Tankwa Trek Dag 3

Ek was gedurende die nag 'n hele paar keer wakker en toe die mense 4:45 begin roer, het ek ook maar aan die gang gekom. Alhoewel ek gistermiddag op die uitslae gesien het dat ek 53 ste klaar gemaak het en ook 'n SMS gekry om dit te bevestig, "verdwyn" my naam later van die uitslae huis. Ek neem dit met die tydhouers op en vanoggend is alles weer in orde. Ek is ook weer terug in groep C vir die begin. 

Die eerste 32 km is op gowone distriks paaie en aangesien dit tot gevolg sal hé dat die groepe goed uitspry, begin almal so te sê saam. Daar was 'n teoretiese gaping van 30 sekondes, maar in dit is nie toegepas nie. 

Ons bereik waterpunt 1 na 1:16 teen 'n gemiddelde spoed van 25.2 kpu. Die volgende 20 km ry ons die ongelooflikste mooi "single tracks" tussen die Cederbergse unieke rots formasie. Dit is 'n ondervinding wat nie lekker in woorde vas gevang kan word nie. Die ervaring en natuurskoon moet eerstehands beleef word. Dit neem ons ongeveer 58 minute om die ervaring te geniet! Dit word gevolg deur 'n rit op die kant van 'n vallei wat baie op en af is met die gevolg dat dit moeilik is om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf. Die roete bly egter interessant en ek maak goeie vordering.

My agterste "jokey" is 'n bietjie verweer maar het nog heeltyd goed gewerk. Ek was 'n bietjie bekommerd oor die moontlikheid dat hy vir my probleme kon gee. Skielik slaan my agterwiel vas. Gelukkig was dit op ' n klein helling wst tot gevolg gehad het dat ek nie te vinnig gery het nie. Ek inspekteer die skade en suen my agterwiel is skeef. Gelukkig is dit toe net 'n geval dat die as wat die wiel vas hou los gekom het. Ek kry dit gou reggestel deur die wiel behoorlik terug te sit en die as goed was te draai. Verloor dus nie veel tyd nuw en is gou weer aan die gang.

Die laaste 10 km is weer lieflike "single tracks" oor die heuweltjie agter Kaleo waar ons oorgebly het. Daar is 'n paat ryers wat so 'n bietjie sukkel met die tegniese gedeeltes, maar hulle laat my deur en ek voltooi die 85 km in 4:46.

Algehele tyd vir die drie dae is 18:06 en ek eindig 50ste. Die vinnigste tyd was 10:51 en die stadigste 24:14.



Sent from my iPhone

Tankwa trek Dag 2

Daar bars gedurende die nag 'n oorverdowende donderstorm los. Dit is net donderslae en weerlig strale wat duer ligte reën gevolg word. Toe ons opstaan is alles wat buite is, nat. Daar sak ook 'n buitjie uit terwyl ek in die tou staan om in die badkamer te kom. Dit is gelukkig die laaste. 

Na gister is ek opgegradeer na die B groep. As gevolg van gister se opeenhoping aan die begin, begin die groepe vandag 7 minute uit mekaar. Die een voordeel van laas nag se reën is dat die sanderige gedeeltes aan die begin baie makliker ry as gevolg van die klamigheid in die sand. 

Die eerste klim is deur die Dutoit groep se plaas Nooitgedacht. Dit word gevolg deur die ongelofflike Dutoit's Drop, 'n "single track" wat ons van 'n reddelike hoogte punt laat daal tot op die vlak van Prins Alfred Hamlet. Redelik tegnies en 'n paar rowwe gedeeltes, maar "exilerating"! Ons bereik waterpunt 1 na 1:32 en 27 km. Dit word gevolg deur 'n redelik klim oor 'n randjie met redelik rybare "jeep tracks" na waterpunt 2 op 47 km en na net onder die 3 uur in die saal. Terwyl ons hierdie gedeelte ry kan ons links sien waar die radio mas, wat op die bo punt van die Merino Monster is. Hierna volg 'n goeie klim met 'n ou wappad wat ons tot by die teerpad neem wat van Ceres in Sutherland se rigting loop. Na so 'n entjie op die teerpad draai ons links op 'n grondpad wat ons na die afdraai Merino toe neem. 

Waterpunt 3 is aan die begin van die bekende Merino Monster, 'n klim van 1,000 meter oor 12 km! Ek ry die eerste gedeelte van klim totdat ek besluit die gradient is te erg en dit is te warm om te ry. Ek scoot die volgende 2-3 km. Die gradient is nou beter en daar terk ook 'n luggie wat die ry toestande beter maak. Ek ry die res van die klim tot by die waterpunt. Die uitsig van bo is absoluut ongelooflik. Op 'n mooi dag is Tafelberg sigbaar, maar nie vandag nie. Te dynserig. Ek loop weer vir Johan Breunissen hier raak. Ons gesels en neem 'n paar foto's en dan pak ek die tog teen die agterkant van die berg af, aan. Die eerste gedeelte is met sement blokke geplavy. Dan word ons egter op 'n baie rowe jeep track afgegooi. Die oppervlak is baie klipperig en alhoewel ek tot onder ry, lê ek maar versigtigheid aan die dag. Daar kom ook 'n paar haastige ryers by my verby. 

Onder in die vlak kry ons eers 'n lekker stukkie distikspad voordat ons weer op ' n "single track", wat ons deur 'n paar plase neem, herlei word. Ek voel sterk en gaan weer verby 'n paar van die ryers wat vroeër by my verby is. Net voor die einde kom 'n twee man span by my verby en ek hak by hulle aan tot so 500 meter van die einde af. Dan los ek hulle en ry die laaste stukkie rustig. 

Ek voltooi die 86 km in 6:38, 54ste algeheel en 2de in grand masters. 



Sent from my iPhone

Tankwa Trek Dag 1


Ampal Biltong en Nutri Pick, wat my klere vir BB2BB geborg het, het onderneem om my inskrywingsgeld vir die Tankwa Trek te borg.

Donderdagmiddag net voor 14:00 vat ek die pad Kaleo, net anderkant Ceres in die Koue Bokkeveld, toe. Ek kom so net na 17:00 daar aan. Kry parkering onder 'n koelteboom, registreer en kies 'n tent. Omtrent al die tente is in die koelte onder akkerbome wat mooi in rye geplant is. 

Aandete is 18:00 en "race briefing" 19:00. Toe ek wil gaan stort kom ek agter dat ek nie 'n handfiek en seep gebring het nie! Daar is gelukkig 'n redelik skoon afdroogdoek, wat ek vir my fiets gebruik, agter in my motor. Hy sal maar die naweek as "handdoek" moet dien!

Ek stel my wekker vir 05:15, maar raak net voor 05:00 wakker. Staan op, skeer(kop), borsel tande, sit kontaklense in en gaan eet. Beweeg wegspring toe do 06:15.

Ek is in groep C, die laaste groep en ons spring 06:40 weg. Die eerste 3 km is op plaaspaaie, wat die groep "rek" maar nie genoeg nie. Ons kom by die eerste "single track" en kom tot stilstand. Vordering is stadig en dit neem ons 'n hele tydjie om die volgende 6 km af te lê. Teen daardie tyd het ons redelik uitgedprei en ons vorder goed. Ons ry onder andere oor die teerpad wat ek gery het vanaf Kareekloof na Witzenbergvallei. Ons ry egter nie op die teer nie, maar met "single tracks" wat eers links en dan regs van die teerpad loop. 

Aan die begin van die Witzebergvallei draai ons Noord en kom na 'n rukkie by die eerste waterpunt. Ek drink twee bekertjies water, neem 'n eet dingetjie en val weer in die pad. Ek tel twee Duitsers op en ons gesels so 'n bietjie. Hulle vertel dat hulle vroeër die week in die sneeu gery het. Nou is dit amper 30 en dit is net na 08:00! Wanneer ons afdraai van die teerpad, laat ek hulle agter. 

Die volgende twee uur se ry is meesal enkel gelid met baie tegniese klimme en afdraandes. Ek vorder egter goed en op 45 km, halfpad, staan my tyd op 3:08 en ek behoort in 6:15 klaar te maak, indien tweede helfte nie moeiliker is nie. 

Na 'n rukkie begin ons egter klim. Dit is aanvanklik nie 'n moeilike klim nie, maar hy is lank! Die eerste gedeelte is deur 'n plantasie wat lekker koelte gee, maar later is ons op die rug van die berg en bak ons in die son. Die rug is ook baie ongelyk met 'n paar lelike klimme. Die laaste gedeelte is ook heeltemal kaal as gevolg van 'n brand. Die uitsig is onverbeterlik. Oppad af sluit ons aan by die pad wat ek gery tydens BB2BB, maar die keer af, wat baie rof is!

In die leegte is daar 'n waterpunt onder die bome. Na 'n kort stop vat ek weer die pad. Daar is nog net meer as 20 km oor, maar ons moet nog oor die Witzenbergnek op waar ons vanoggend af gekom het!  Dit is net voor 12:00 en in die kloof is dit ongelooflik warm! Aan die einde van dag sien ek dat die maksimum temperatuur van 46 grade Celsius hier gemeet is! Ons klim die nek, kruis die teerpad, gaan anderkant gedeeltelik teen die rant af en klim weer terug na die teerpad waar die laaste waterpunt is. Daar is 'n groot kom met water en al die ryers wat stop staan nader vir 'n beker koue water oor die kop om af te koel! 

Die laaste 10 km einde toe is oor privaat grond met vrugteboorde en landerye tot 3 km van die einde. Dan is daar 'n ongelooflike stukkie "single track" oor die rantjie agter Kaleo wat onbesktyflik mooi is. Ons ry onder andere tussen 'n paar Cederberg rotse deur 'n natuurlik boog vorm. Baie, baie mooi.

Na 6:48 in die saal voltooi ek die 90.2 km en eindig 63ste uit die 99 Solo deelnemers wat klaar maak. Eerste in Grand Masters. 



Sent from my iPhone

Oak Valley 24 uur


Alhoewel ek ingeskryf het, het ek vooraf besluit om net 8 rondtes te doen en Saterdagaand huus toe te kom.

Ek is 09:00  by die huis weg, goeie staan plek in die kamp terrein gekry en geregistreer. Toe dk aantrek besef ek dat my fietsry handskoene, wat vroeër die week gewas is, nie saam gekom het nie. Ek het amper sover gegaan om 'n nuwe paar te koop, maar toe sê die ryer wat kangs my geparkeer was, dat hy 'n spaar stel het wat ek kan leen.

Soos gewoonlik het ons met 'n Le Mans wegspring begin. Ek het my Garmin net voor die begin aan gesit, maar met die wegspring druk ek toe die aan/af knop in stede van Start. Dit kom ek eers na 9 minute agter. Gelukkig sit ek nog altyd my Polar aan en dit het van die begin gemeet.

Die roete was 'n bietjie aangepas as gevolg van die reën wat Vrydag geval het. Die verander was eintlik goed. Die veradering was lekker. Dit het egter die rondtes met ongeveer een kilometer vermeerder. Die klim werk was soortgelyk aan die ou roete. 

My eerste rondte was net oor 44 minute. Die tweede neem 43 en ek hou so om en by 45 minute. Op rondte 5 jou ek stil om my waterbottel vul en iets te eet. Daarna ry ek nog 4 rondtes en maak 19:02 klaar. 9 rondtes in 7:02, 'n gemiddelde van 46.89 per rondte. 22:30 was ek aan die slaap langs my vrou by die huis


Sent from my iPhone

Attakwas


21 Januarie 2017 - My 8ste Attakwas

Ek en Hoffie Conradie het besluit om weer die Attakwas te doen. Hoffie was veronderstel om my 13:00 by my huis te kry, maar as gevolg van probleme mrt sy fietsrak en 'n misverstand met sy dogter oor die hetstel daarvan, daag hy eers 14:00 by my op. Sy dag het 04:00 begin, toe hy in Butterworth opgestaan het, Oos London toe gery het, die vidgtuig Kaap toe gehaal het, met Uber na sy dogter gery het en weer vandaar na waar sy motor was en daarna vir my kom haal. Voorwaar 'n besige skedule om die dag mee te begin.

Ons rit Oudsthoorn toe het goed afgeloop. Ons was net voor 19::00 daar. Het gou by NA Smit, waar ons sou oornag, in geboek, vir die wedren geregistreer en na Bella Cuba gegaan vir aandete.

By slaapplek het ons eers looitjies getrek oor wie bo moes slaap want daar was net 'n dubbelbed onder. Ek verloor toe en moes met die leer opklom na die enkel  bed op die boonste vloer. Daarna het ons eers krieket klaar gekyk voordat ons aan die slaap gekom het. 

Ons was net na 05:00 op en het toe eers besef dat ons nie ontbyt saam gebring het nie. Opgepak en die pad na die wegspring gevat. So 'n vyf minute weg besef Hoffie dat hy sy selfoon in die bangalow vergeet het. Gou terug om dit te kry en weer pad begin toe gevat. Ons het in goeie tyd parkeer plek gery en Hoffie het die motor sleutels in gegee sodat sy motor Groitbrak toe geneem kom word.

In die verlede het hulle eetgoed ny die wegspring voorsien, maar nie meer nie. Ons moes toe maar tevede wees om kitskoffie te koop. Hulle het darem vir ons 'n paar stukkies beskuit saam met die koffie gegee.

Ons het albei in die D groep, wat 06:50 weggespring het, begin. Terwyl ek in die wegspring hok staan en wag vir die begin, desef ek dat ek nie my waterbottel vol gemaak het nie! Ek kyk toe rond dn sien 'n ou met twee waterbottels op sy fiets wat bedig is om uit 'n derde bottel te drink. Ek vra hom toe vir die oorskiet in sy derde bottel. Hy wou eers protesteer dat dit 'n aangemmaakte energie drankie is, maar gooi toe die oorskiet in my bottel. 

Die eerste 10 km is altyd 'n uitsorteer proses, maar die pas was darem redelik en ons bereik die eerste waterpunt na ongeveer 2 uur. Hier kry ek toe vir Johan Breunissen en Allewyn Olwage wat saam met ons in die Kalagadi was in Oktober 2016. Ek kon ook my waterbottel vol maak. 

Van waterpunt een tot by drie ry ons meesal jeep tracks deur privaat grond en natuur reservate. Dit behels 'n paar rowwe gedeeltes en ook 'n bietjie stootwerk. Ek het weereens die tegniese gedeelte net voor die Spur waterpunt gery gekry. Ek moet sê dit is meer rybaar nadat hulle 'n voor verlede jaar se wedren 'n bietjie werk daar gedoen het.

Op 60 km, wat net voor die Sour punt is, het dit gelyk of ek net onder 8 uur sou in kom, so daar was iets om voor te werk. Die laaste 50 km is op distriks paaie, maar dit is baie op en af met twee "killer" bulte in die laaste 20 km. Ek het egter goed gevoel en die weer was redelik met 'n ligte windie wat eintlik 'n lafenis was. 

Met nog so 30 km oor het dit gelyk of ek nie onder 8 uur sou in kom nie. Ek het toe maar berus vir 'n tyd van 8:15-8:30. Op die voorlaaste bult het daar 'n spraaksame ryer by aangesluit en die menig gelug dat ons wel 8 uur kan breek. 

Na die laaste bult het daar 'n paar vinnige manne verby gekom en ek kon by hulle inhak. Ons het later 'n redelike groep gevorm wat lekker saam gewerk het. Dit was op hierdie stadium duidelik dat ek my mikpunt sou bereik. Op die laaste draai kon ek voor 'n paar van die manne inval en oppad na die einde het ek die laaste verby gegaan. Op 7:55 is oor die eindstreep!

Hoffie het ook goed gery en amper 45 minute beter as verlede jaar gery.



Sent from my iPhone

Monday, November 28, 2016

2016 Coronation Double Century

My poging om vanjaar ‘n span vir die DC in te skryf het weereens misluk en alhoewel ek ‘n “tentatiewe” uitnodiging gehad het om by ‘n Gauteng span aan te sluit het ek daarteen besluit as gevolg van ‘n redelik vol fietsry program. Woensdag voor die wedren kry ek egter ‘n Whatsapp van Leon Erasmus wat my uit nooi om saam met hulle te ry. Ek gaan hoor by die wederhelfte (ja dit is nog goed om na 42 jaar se getroude lewe toestemming te vra) en sy stem in dat ek mag ry. Gelukkig is ek redelik fiks, maar was maar bekommer oor hoe ek die pas gaan volhou saam met die jong manne. Leon het verlede week genoem dat hulle strategie gaan wees om al 12 saam klaar te maak. Dus was daar hoop vir my.

Ek werk tans by ‘n kliënt is Brackenfell en reël met my broer, wat die ondersteuning gaan behartig, om my 15:00 daar op te tel oppad Swelledam toe. Soos gewoonlik sluit die roete wat hy volg ‘n paar grondpaaie in en ons kom 18:00 by Kam’Bati, 20 kilometer duskant Swellendam, waar ons gaan kamp, aan. Nadat ons ons staanplek bevestig het, skiet ons gou deur Swellendam toe sodat ek die nodig verandering kan doen as plaasvervanger in Leon se span, genaamde “Flash”!

Ons is 19:30 terug by die kamp, slaan tente op en ontmoet ‘n paar ander manne wat deel van die span is en ook daar kamp. ‘n Vuur word gemaak en ons wag vir Leon wat die vleis bring. Hy was weg op besigheid en het eers 17:30 op Kaapstad lughawe geland. Terwyl die ander manne braai, wag en en Leonico vir Leon wat ons vleis moet bring! Hy en Niel Rossouw kom 22:00 daaraan en ons eet eers 23:00! Ek is onmiddelik tent toe om ‘n slaappie in te kry terwyl van die ander manne besluit om aan te gaan met “kuier”. Hulle het eers na twaalf in die bed gekom.

Ons wegspring tyd is 05:55 en ons moes 30 minute voor die tyd daar wees. Die gevolg is dat ons in die omgewing van 04:00 moes begin roer. Ons kom ongeveer 05:00 weg en is 05:30 in Swellendam. ‘n Paar manne moet nog verstellings aan hulle fietse doen en ons kom drups gewyse by die wegspring hokke aan. Teen die tyd dat ons moet deurgaan is Corne en nog ‘n manne nog oppad van die parkeer plek af. Hulle daag uiteindelik op en ons gaan deur na die wegspring area.



Die groot tog begin offisieel om 05:57! Die pas is redelik gemaklik en ek het geen problem om by te hou nie. Die weer is bykans perfek met ‘n begin tempratuur van 11 grade Celsius en geen wind nie. Die eerste 28 kilometer is ‘n lekker opwarmings rit en dan kom Tradouwpas, wat heel skaflik is. Oor die volgende 16 kilometer klim ons 226 meter, met ‘n paar klein afdraandtjies in gegooi net om die ‘n bietjie makliker te maak. Na die aansluiting by die Barrydale/Montagu pad (R62), is daar ‘n gelydelike gradieënt tot aan die voet van Op de Tradouw, die groot klim van die DC wat na 59 kilometer aangedurf word. In die volgende 4 kilometer klim ons 245 meter.

Ons handhaaf ‘n goeie pas en ek ry self ‘n stukk voor! Bo-op die pas is daar ‘n geleentheid om eet en drinkgoed by ‘n pakstoor te kry. Die “offiële” besluit is dat ons gaan verby hou, maar ‘n paar manne dring daarop aan om voorrade op te tel met die gevolg dat party van ons verby ry en by die uitgang wag vir die wat afgedraai het. Ook net lank genoeg om ‘n bietjie water af te slaan. In die volgende 9 kilometer daal ons 250 meter. Ons “vlieg” letterlik die bult af. My maksimum spoed was 76.8 k.p.u. Dit was asemrowend, maar ek wil nie by wees indien daar iets teen daardie spoed verkeerd gaan nie! Die volgende 30 kilometer tot in Montagu is gelydelik af met so ‘n paar kleiner klimme net om die spoed te breek. Ons bereik Motagu na 3:40 met 104 kilometer agter die blat.

As gevolg van die padwerke deur die Kogmanskloof, het die organiseerders besluit om ‘n neutrale sone van Motagu tot by Ashton te handhaaf. Niemand mag vinniger as 30 k.p.u gemiddeld ry nie en ons moes in enkel gelid ry. Dit neem ons 23 minute om die 11 kilometer te ry. Ons ry die Ashton “ruskamp” binne na 4:04 en 115 kilometer. Ons mag 30 minute hier vertoef en maak ten volle daarvan gebruik. Waterbottels word weer volgemaak en mae word met allerlei lekkernye gevul. Wanneer ons hierdie neutral sone verlaat, staan die horlisie op 4:34, maar ons offisiële ry tyd is nader aan 3:34. Daar is nog ongeveer 90 kilometer oor en ‘n tyd van onder 7 uur is beslis ‘n moontlikheid.



Die pad van Motagu na Robertson en af Bonnievale toe is redelik gelyk en die “trein” loop dat dit klap! Dit neem ons 50 minute vanaf Ashton tot by die ysterbrug net voor Bonnievale. Van hier af begin dinge moeiliker raak met heelwat bulte en ‘n windjie wat van vooraf begin stoot. Ons arriver na 6 uur in die saal en 163 kilometer op die pad by die laaste “ruskamp”. Die keer stop ons net vir 26 minute.

Die laaste 40 kilometer het ‘n hele paar “knoppe” en ons sal moet skouer aan die wiel sit om onder 8 uur op die pad in te kom. Ons finale tyd sal heel wat vinneger wees as gevolg van die neutral sones. Die windjie wat waai is darem nie ‘n te groot problem nie en help om dinge so ‘n bietjie af te koel. Teen die laaste bult voor die Drew afdraai, tel Jaco problem met sy voorste ratte op. Na ‘n gesukkel kry hy dit reg om die ketting op die groot rat te kry. Hy besluit om vooruit te ry aangesien hy verwag om teen van die bulte op te sukkel as gevolg van die fiet dat hy net sy voorste groot rat kan gebruik. Die res van ons volg teen ‘n redelike pas. n Pas wat vir pary manne ‘n bietjie problematies raak met die gevolg dat Leon ‘n paar keer die voorste manne moet vra om die pas nie so “warm” te maak nie. My bene hou goed en ek hang in die middle rond, uit die wind en agter van die groter manne wat die pas aangee.

Ons draai regs op die Ashton/Swellendam pad na 7:06 in die saal en 182 kilometer agter die blat. Nou bly daar net 20 kilometer oor met drie lastige opdraendes tussen ons en die einde. Ons handhaaf weereens ‘n goeie pas en die kilometers vlieg verby. Almal wonder wat van Jaco geword het en ons hoop net dat hy vir ons voor die eindstreep wag sodat ons as ‘n span van twaalf oor die eindstreep kan ry.

Die DC het deesdae ‘n minder aangename angel in die stert! In die laaste kilometer is daar ‘n klim van 35 meter na die eindstreep toe. Ons vreugde was groot toe ons vir Jaco net voor die einde sien en as span van twaalf saam oor die streep kon ry.

Totale ry tyd was 7:55 met ‘n offisiële tyd van 6:36. ‘n Baie aangenaam rit en ‘n span waar daar goeie samewerking en kameradie was. Dit was ‘n voorreg om weereens ‘n DC te voltooi!