Saterdag 06 April 2024

BB2BB2 Dag 24

 





Gisteraand is ek getrakteer op 'n 5 gang maal. Broccoli sop, tong, florel, beesvleis stew en sous kluitjies! Dit was 'n fees. Die porsies was klein, maar baie aangenaam. 


Ontbyt was veronderstel om 07:00 te wees, maar ek kom eers 07:45 aan die eet as gevolg van die kombuis wat sy tyd neem om aan die gang te kom. 


Om terug te kom na gister. James Reeders gaan net twee keer per week na sy plaas aan die anderkant van Naudesnek. Ons paaie het gekruis minute nadat ek by die plaaspad aangesluit het. Die ernstige reën het begin val net nadat ek in die bakkie geklim het. Dit is net genade van bo dat die dinge so mooi in plek geval het.


Ek kom eindelik teen 08:07 aan die ry. Die weer lyk wispeltierrig maar dit is droog. Laasnag het ons baie donderweer en reën gehad. Die pad is nat, maar daar is droë spore waar motors al reeds gery het. Daar is 'n hele paar klimme uit Rhodes uit en dit neem my 'n hele ruk om die eerste 14 km tot by die Bokspruit afdraai af te lê. FC draai hier links en ons roetes sal eers by Rossouw, 60 km anderkant Barkley Oos, weer saamloop. Ek ry aan op die R396 na Barkley Oos. Regs van my reent dit lekker hard in die berge. Gelukkig bly ek dit gespaar. Die donker wolke kom en gaan en die reent bly weg van my af. 


Die toestand van die pad is goed en ek kry dit reg om 'n redelike pas te handhaaf. Dit begin liggies reent maar niks om oor bekommerd te raak nie. Dit hou vir so 15 minute aan. Vanaf 30 km aan ry ek in heerlike sonskyn. Totale klim vir die dag is net 27 meter minder as wat ek gedaal het. Ek moet sê dit het gevoel asof ek baie meer gedaal het. Ek kom net na 13:00 by my bestemming in Barkley Oos aan. 








Met verwysing na Dana Murray se vraag oor my roete, net die volgende. Steve Thomas en David Bristow het van Beitbrug na Kaappunt gery en 'n boek met die naam "Riding the Spine of the Dragon" oor die rit uitgebring. Jaco Strydom het die FC verkeerd om gery en ook 'n boek genaamd "4 Beautiful Years", wat onder andere daardie rit beskryf, uit gebring John Brand het in 2014 van Kaappunt na Beitbrug gery. Dan is daar natuurlik oor die Freedom Challenge. Ek het my roete saamgestel deur na al hierdie bronne te verwys en 'n roete gekry wat rybaar is met genoeg slaapplek langs die roete beskikbaar. Ek het ook van die begin af besluit om die Freedom Challenge resep na te volg. Met ander woorde ek wil elke aand 'n bord kos, 'n stort en 'n bed hê om in te slaap. Elke dag se skof moet so tussen 5-10 uur in beslag neem en afstand word deur die terrein bepaal. Ek het ook besluit om "hike-a-bike", wat gereeld op die FC voorkom, sover moontlik uit te skakel. In 2016 het ek van Willowmore oor Prins Albert, Lainsburg, Witsenberg, Tulbagh en Riebeek Kasteel gery. Vir vanjaar se rit het ek, na 'n voorstel deur Johan Schoeman, wat beplan om 'n gedeelte teen die einde saam te ry, besluit om Uniondale, Knysna, die sewe passe, Montagupas, Vanwyksdorp, Gysmanshoekpas, Swellendam, Greyton en Franschoek in te sluit. Dit het 2016 se roete met 200 km gerek, maar ek dink dit heelwat interessanter gemaak. Ek moes ook, noodgewonge, my roete van Bakley Oos na Romansfontein, net verby Molteno, aanpas omdat ek nie my beplande gashere op Moordenaarspoort in die hande kon kry nie. In plaas van Rossouw, Jamestown, Molteno ry ek nou Rossouw, Dordrecht, Molteno. Dordrecht het verblyf en Jamestown nie, so môre aand slaap ek in Dordrecht. 


Vannaand is ek in die Royalmanor Hotel in Barkley Oos. Toe ek saam met Leon Erasmus en andere in 2022 die 20 passe gery het, het ons ook hier gebly. 







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking