Vrydag 05 April 2024

BB2BB2 Dag 22

 


Ons het gisteraand kwaai donderweer gehad en dit 'n groot deel van die nag gereent! Ek was redelik bekommerd dat die paaie modderig sal wees en dat ek in die reën sal moet ry. Toe ek buite kom sien ek redelike skoon lug met net 'n paar wolke. 


Ontbyt was 'n stewige bord mieliepap, twee viennas, roer eier en vier gebotterde snye brood. Ek het die eier op die brood gesit vir padkos en die res, saam met koffie vir ontbyt genuttig. 



Ek kom 06:40 weg. Die paaie is natterig met klein modder kolle, maar niks ernstig nie. Daar is redelike ferm gedeeltes wat net breed genoeg is vir die fiets. Die Freedom roete (FC) uit Malekonyane is gewoonlik 'n navigasie uitdaging en gaan basies deur die veld voordat dit net voor die Ongeluksnek Natuurreservaat by die grootpad aansluit.  Ek hou maar by die pad. Na 11 km gaan ek verby waar die FC roete weer die veld indraai. Die pad ry lekker en die op en afdraendes wissel mekaar gereeld af. Gelukkig is die opdraendes nie te styl nie. 


Ek ry links van Thaba Chitja kop verby en sien in die FC roete na Blackfountain. Ek volg die distrikspad wat my in 'n Suid Oostelike riging neem. Ek ry nou oor 'n gras begroeide vlakte en stop vir 'n toebroodjie. Na ongeveer 40 km draai ek Noord Wes en sien waar die FC roete die berg afkom na die Tinanarivier. Hierna gaan ek oor die Tinanarivier, met baie opdrifsels teen die brug, wat daarop dui dat die rivier onlangs redelik sterk moes afgekom het. My roete neem my weer tot op 'n punt waar my roete en die FC roete ooreenstem. Dit is die geval tot waar die FC roete die Vuvuvallei betree. Van die punt af hou ek weereens by die distrikspad.





Die laaste 25 km Vuvu toe is baie veeleisend en frustreerend met baie klimme en afdraendes. Die probleem is die helling en die gereeldheid. Daar is omtrent geen gelyk gedeeltes nie en die bulte is almal baie styl, maar gelukkig redelik kort. Die uitsondering is die tweede bult. Die is 4 km lank met 'n 6-9% gradiënt met so elke nou en dan 'n stuk waar die gradiënt wissel tussen 12-17%! 









Na, wat soos 'n oneindigheid voel, bereik ek die Vuvu skool na 9:02 en 85 km met 1,870 meter se klim. 


Die Vuvu skool is die plek waar ons altyd ontvang word en dan van daar na 'n huis geneem word. Hier is egter niks en ook geen syn nie! Ek maak myself maar tuis op die stop en wag. Na 'n ruk roeo iemand van die heining af. Ek stap af, ons gesels en die dame sê sy sal my gasvrou gaan roep. Die kom na 'n rukkie daaraan en neem my na haar huis. Dit is "toevallig" die huis waar ek tydens 2014 se FC geslaap het! Sy wys my na my slaapkamer en bedien my met vetkoek en tee. Ek moet weer in 'n kom was en aandete sal 18:00 bedien word. 




Môre is die Rhodes en dus nader aan "normaal".





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking