Vrydag 12 April 2024

BB2BB Dag 30



Sjoe, 30 dae aan die gang! Ek kan dit amper nie glo nie. Dit voel soos gister toe ek op die vliegtuig Johannesburg toe geklim het. 


Gisteraand lekker saam met Elsa en Garth ge-eet en gekuier. Kom so 21:00 in die bed en staan eers 06:15 op aangesien dit net 107 km Marlu toe is en daar is ook geen ernstige klimme in die "pad" nie.


Ek kom 07:07 daar weg. Dit is 17 km na Aberdeen Weg. Die pad is redelik goed maar daar is 'n paar "poele" waardeur ek moet ry. Een is so diep dat my skoene sop nat word. Gelukkig is dit nie te koud nie, so dit is nie 'n ernstige probleem nie. Op 'n kol loop daar 'n "rivier" oor die pad, maar die water is nie meer as 3 cm diep nie. Ek kom na 1 en 'n kwartier by die Aberdeen Weg T-aansluiting aan. Rus 'n bietjie en trek eerste laag warm klere uit. 




Nou is dit 37 km Klipplaat toe. Die pad is redelik goed en ek handhaaf 'n goeie pas. Elke nou en dan skud ek uit mekaar as gevolg van die sinkplaat, maar dan gaan ek maar heeltemal na die kant van die pad waar dit gewoonlik gelyker is. Na net meer as 4 uur is ek in Klipplaat. Ek is heel verbaas oor die baie huise en selfs mense wat nog hier woon. Die plek is ook maar redelik verwaarloos met 'n netjies omheinde polisie stasie. wat die res konstrateer. Om te dink dit was 'n belangrike spoorweg spulpunt! Nou is die die treinspoor toe onder die sand! 



Net anderkant Klipplaat draai ek regs op 'n Steylerville pad. Na 23 km is daar 'n vurk wat links na Steytlerville gaan en regs is daar 'n teken wat sê "Pad gesluit. Geen deurgang na Steytlerville". Gelukkig het ek toestemming om hier deur te ry. My swaar Chris se werkgewer, Nelis Meiring, is die eienaar van die grond en hulle wag langs die pad vir my en sal sorg dat die hekke oopgesluit is. Die gehalte van die pad verswak, maar is rybaar. Hier en dit bietjie klipperig maar nie 'n probleem vir 'n fiets nie. Ek moet gereeld stop om hekke oop en toe te maak. Die "golwe" in die berge is merkwaardig. 




Ek kom nader aan Nelis se huis en word tegemoed gekom deur Nelis, Chris en sy vrou, Wendy, in 'n "golf karretjie". Ons groet vinnige en hulle draai om sodat ons by die huis kan uitkom. Daar is 'n ligte middag ete en koffie. Ons kuier lekker en neem 'n paar fotos.



Dan val ek weer in die pad. Nog so 9 km grootpad toe en dan regs na Marlu, wat 'n verdere 19 km die pad af is. Daar is 'n paar "knoppies" in die pad, maar ek ry lekker en kom na 8:27 en 106 km op Marlu aan. 



Totale afstand staan nou op 2,637, dus is daar nog net meer as 800 km oor. Die einde van hierdie wonderlike avontuur kom nou vinnig nader. Môre is 'n groot dag, die tweede langste in afstand, so ek sal vroeg aan die gang moet kom.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking