Dinsdag 20 Augustus 2019

2019 Trans Baviaans

Die plan was dat ek en Coenraad Fick weer die Trans Baviaans saam sou aandurf. As derde lid het hy vir Garreth Sexton, wat saam met hom werk, nader getrek. Nettie Fick het egter ‘n pos in Nederland aanvaar en die Ficks is middle Junie oor Nederland toe. Coenraad het beplan om vir middle Augustus in SA te wees vir werk en wel deel te neem. Ons drie het dus op 8 Junie saam ‘n oefen rit op Durbanville se agterpaaie gehad. Coenraad se relings het egter skeef geloop en hy moes onttrek. Ek en Garreth het toe besluit om as tweeman span deel te neem.  Op 29 Julie het ons ondersteunings bestuurder ook onttrek. Die problem het ons opgelos gekry deur met my broer te reël om ons ‘n geleentheid te gee vanaf Jeffreysbaai na Willowmore, waar ons een van die motors sou agter laat.

Ek het net na 08:00 op Vrydag uit Bloubergstrand vertrek. By Garreth se huis het ons die fietse op sy feitsrak gesit en mer sy motor die rit Willowmore toe aangepak. Langs die pad het ons, soos gewoonlik, by Diesel en Cream stil gehou vir middagete. Ons was net na 16:00 in Willowmore. Registrasie het glad verloop, die houer vir waterpunt 4 (Bergplaas), met ekstra klere en warm baadjies, is afgegee en ons was voor 18:00 by Marlu Gasteplaas. My broer, wat vir sy seun ondersteun het, was ook reeds daar en sy seun en die se spanmaat het ongeveer 19:00 daar ge-arriveer. Martin, die gasheer, het soos gewoonlik gebraai en ons het lekker gesellig in hulle braaikamer saam gekom vir aandete.

Ontbyt was 07:00 reg en ons vat net na 07:30 die pad Willowmore toe. Gee houer vir Waterpunt 3, wat my ligte en ‘n warm baadjie in gehad het, af en gaan na die gastehuis waar ons gereël het om die ekstra motor te parkeer. Nou was dit net die groot wag toe 10:00 vir die begin van die wedren.

Ons het die vorige aand na die weer gekyk en tot ons ontsteltenis agtergekom dat daar Vrydag ‘n Weste wind gewaai het, wat Sateradg sou omdraai na Suid-Oos (reg van voor) en dan Sondag weer Wes sou waai. Ons moes dus maar verlief daarmee neem dat ons heeldag teen die wind sou ry. Dit was dan ook so, maar gelukkig was die darem nie te sterk nie. Net sterk genoeg om ‘n bietjie ekstra energie uit ons bene te trek. Die gevolg was dan dat ons 20 minute langer as verlede jaar geneem het om by die eerste waterpunt uit te kom. Die eerste deel van die pad was omtrent in die selfde toestand as verlede jaar met heelwat sinkplaat maar darem ook groot dele waar ons dit kon vermy.

Na die aanvanklik klim is daar natuurlik meer afdraand as opdraand tot by die Waterpunt 1. Oor die eerste 30 kilometer klim ons 330 meter en oor die volgende 80 kilometer sou ons 900 meter daal! Wanneer jy ry kom jy nie agter dat jy so baie hoogte verloor nie. Die wil voorkom asof groot dele van die pad wel gelyk is, maar dit voel beslis nie heelpad afdraand nie. Ons het ‘n redelik goeie tempo oor die stuk gehandhaaf en ek en Garreth het vir groot gedeeltes ‘n hele tou ander deelnemers op ons agter wiele gehad. Die pas waarteen ons gery het was blykbaar so dat niemand by ons wou oorneem nie, maar ons het ons self darem ook nie ooreis nie. Om die waarheid te sê ek het dit nogal geniet om voor te ry.  Jy bepaal dan die pas en hoef jou nie te bekommer oor die person voor jou se pas nie. Ons het ook nou in groepe van eenderse sterkte gery, met die gevolg dat dieselfde deelnemers gewoonlik in ons omgewing was.
Ons lê die eerste 114 kilometer (halfpad) in 5:40 af. Net voor Waterpunt 3 klim ons Grasnekpas uit. Ons bereik waterpunt 3 na 6:25. Teen hierdie tyd het die baie water in van die laagwaterbruggies en die rowwe pad oppervlakte, ons momentum negatief begin affekteer. Daar was een heel komies geval by ‘n langerige en modderige waterstrook,. Ek het ses weke van tevore tydens die Freedom Challenge in die teenoorgestelde rigting hier deur gery. Almal was nou egter besig om deur te stap want hulle was nie bewus hoe diep die poel was nie. Hulle verbassing was redelik groot toe ek heel gemaklik deurry. Vooraf kennis van omstandighede is gewoonlik voordelig! Garreth se rug het hom so ‘n bietjie begin pla maar dit het ons pas te erstig be-invloed nie.

Na Waterpunt 3 kom “langwater”, die “fangs”en dan Holgatpas of te wel MAC (Mother of All Climbs). Die afstand tusse Waterpunt 3 en 4 is 12.5 kilometer en ons klim 490 meter, Dit neem ons 1:50 en ons kom na 8:40 in die saal daar aan. Teen hierdie tyd is dit al donker. Die donkerte het ons net voor die einde van die klim gevang. Hier word ons ingewag deur lekker sop en vars klere! Ek en Garreth  raak ontslae van ons nat gesweette tops en sokkies, wat deur die water is, trek droë klere en ‘n paar ekstra lae aan. Ek het ‘n paar Sealskinz sokkies, wat waterdig is, ingepak en kan dus dubbel sokkies aan elke voet trek om hitte in te hou en die Sealskinz sal die klamheid van die natskoene uithou. Garreth oorkom sy natskoen problem deur ‘n plastiek sak oor elke voet te trek! Ons spandeer 38 minute hier.

Dit is redelik mistig op die berg en ons daal versigtig teen die Combrinckpas af. Links van ons is daar donker afgronde en regs is daar kranse! Wanneer ons onder kom is dit redelik aanskoulik om die liggies teen die pas te sien af kom. Die padoppervlakte teen die pas af is ook baie rof, maar wanneer ons onder kom is dit heel wat beter en ook redelik gelyk met ‘n klein klimmetjie elke nou en dan. Dit neem ons 40 minute om die 15 kilometer van die pas af te ry  Die volgende 20 kilometer sluit grootendeels die Grootrivierpoort in. Ons handhaaf hier ‘n goeie pas en kom na 10:51 by die Hadley pakstoor, Waterpunt 5, aan. Ons eet vining ‘n “chip roll”en val na 12 minute weer in die pad.

Die einde is nou in sig met nog net 50 kilometer oor. Ongelukkig lê die “neverender”en ‘n paar lastige bultjies nog in ons pad. Oor die volgende 20 kilometer klim ons amper 300 meter. Dit sluit die “neverender” en die “onbemande” kontrole punt 6 in. Dit word gevolg deur 7 kilometer, wat meesal afdraand is, na Waterpunt 7. Hier word ons ingewag deur ‘n waffel en Milo!  Garreth het teen hierdie tyd beslis die einde geruik en ek moet my litte roer om by te hou. Die pad einde toe sluit ‘n verskydenheid pad oppervlaktes in. Aanvanklik is dit ‘n kort enkelspoor wat ons na ‘n plaaspad toe neem.
Dit sluit die “MiniMAC”, ‘n 80 meter klim oor ‘n afstand van 1 kilometer, in. Daarna sluit ons by ‘n goeie distrikspad aan tot by die begin van die laaste 6 kilometer. Dit is ‘n enkelspoor is wat al langs die treinspoor loop. Dit neem ons 26 minute om die 6 kilometer af te lê.

Ons kom na 14:47 by die einde aan. Moeg maar tevrede! Totale afstand volgens my Garmin was 227.02 kilometer en ons het 2,749 meter geklim en 3,419 meter gedaal. Totale ry tyd was 13:13, dus het ons stoptyd by waterpunte 1:34.