Sondag 18 Junie 2023

Richtersveld ekskursie en Trans Augrabies MTB


 Richtersveld Ekskursie

 

Wynand het my oortuig bom die week af te vat en ‘n draai in die Richtersveld te gaan maak en dan die drie daagse Trans Augrabies MTB te gaan ry. Ek is toe Sondagaand 11 Junie na Crine-hulle op Citrusdal om die rit The Growcery, so 19 km wes van Vioolsdrift so ‘n bietjie korter te maak. Maandagoggend laai ek vir Carine by haar skool af en vat die pad The Growcery toe. Die reën omtrent heeltyd tot by Steinkopf. Ek het my motor Sondag volgemaak en die meter het toe aangedui ek kan 1,020 km op die tenk kry. Soos ek ry kom die getal af, maar toe ek deur Springbok ry wys dit ek maklik The Growcery en terug te behoort te maak. Toe ek by The Growcery stil hou, dui die meter aan dat ek nog 80 km oor het en die naaste fulstasie is Steinkopf, wat 87 km weg is! Sal maar ‘n plan moet maak om te kyk of ek ‘n paar lieter diesel by een van boere kan koop!

 







Nadat ek in bespreek het, verken ek die omgewing ‘n bietjie met my bergfiets. Ek soek onder andere ‘n pad wes van The Growcery al langs die Oranjerivier, wat deel van die pad terug van Eksteenfontein is. Die pad op my kraate bestaan egter nie, alhoewel daar ander paaie is. Ek daar dus maar om. Gerrit Bruwer het my sy suster se telefoon nommer gegee. Hulle boere naby waar ek bly. Ek besluit om hulle te gaan opsoek. Internet ontvangs is sleg en selfone werk net met Namibiese foonkraate of “roaming” wat baie duur is. Ek ry by ‘n plaas in en doen navraag. Gerrit se suster is net so 2 km die pad af. Daar aangekom moet ek hoor dat hulle vir die dag Springbok toe is. Ek ry dus maar terug The Growcery toe. Anndete is deel van my bespreking en ek word aangenaam verras net die kwaliteit van die ete. Die verblyf is maar karrig maar goed genoeg vir een person. My plan is om die volgende dag ‘n sirkel roete deurEksteenfontein te ry.

 

As gevolg van die probleme om die pad Wes gister te kry, besluit ek om maar net ‘n gedeelte van die pad Eksteenfontein toe te ry en na so 30 km om te draai en ‘n goedgunstige boer, wat my ‘n paar lieter diesel sal verkoop, op te soek. Die rit oor die Helskloofpas is baie interessant. Die pad is oor die algemeen in ‘n baie goeie toestand. Dele van die pas is rof, maar ek sal, met sorg, die met my Q5 kan aanpak. Op 30 km draai ek om. Oppad terug soek ek weer die pad langs die Oranje en kry dit die keer. Die eerste deel verskil wesenlik, maar na ‘n rukkie kry ek ‘n baie interssante pad wat al langs die rivier afloop. Ek ry tot op die einde en dan in die kloof, waar die pad wat ek terug van Eksteenfontein wou ry, op. Daar bestaan ‘n pad wat later in die riveirloop oploop en dus redelik sanderig sal wees. Ek draai op die punt om. 

 














Terug by die hoofpad, ry ek weer na Gerrit se suster en die keer is ek gelukkig. Hulle is tuis. Ek en haar man gesels lekker en hy is bereid om my 6 liter diesel te verkoop. Ek reël om dit die volgende oggend 09:00 te kom haal.


Na nog ‘n interessante aandete en goeie nag se rus, pak ek op. Na ontbyt gaan haal ek die diesel en kan toe sommer Springbok toe ry met die eksta wat ek ingegooi het. Ek maak op Springbok vol en vat die pad Augrabies toe. Die reis is voorspoedig en en kom so teen 14:00 daar aan. 

 

Ek bespreek in, kry ‘n staanplek en slaan my tent op. Net na 17:00 registreer ek. “Race briefing” is 18:00 en aandete 19:00. Ek is net voor 21:00 in die bed.

 


 

Trans Augrabies Dag1

 

Ontbyt is 07:30, maar net na 06:00 is ek wakker. Die wedren begin eers 09:00. Ek trek aan en kry my fiets reg. Ek ry so ‘n bietjie in die kamp rond om die tyd te verwyl. Daar is 4 wegspring groepe, met 5 minute posesse. Groep 2 spring stiptelik 09:00 weg. Die res van ons spring almal saam 5 minute later weg. Ek ry lekker rustig en redelik agter. Op die oop pad besluit ek om ‘n bietjie meer “effort” in te sit en skuif so ‘n paar plekke op. Ons ry op die Natuurpark se diens paaie wat soos ‘n distriks pad is, maar baie sinkplaat. Na 16 km draai ons af na die eerste waterpun waar daar lekkr beesbiltong, droëwors en ander lekkernye is. Van hier af ry ons op ‘n rowwe “jeep track” wat afgewissle word met lekker gelyk gedeeltes deur die veld, ‘n paar lekker dik sanderige gedeeltes en ook klipbanke. Daar is ook ‘n paar lekker  skerp klimme en afdraendes. So ‘n kilometer en ‘n half voor ons weer by ‘n grootpad aansluit,  gaan ons by ‘n baie rowwe en steil afdraende af. Die ergste is dat dit duidelik is dat ons later weer hier sal mpet op!

 

Onder draai ons links op die pad en ry verby vrugteboorde tot by ‘n brug wat ons oor die Oranjerivier neem. Anderkant draai ons regs deur Vredesvallei en dan die heuwels in, met ‘n geleidelike klim op ‘n baie goei pad. Na so ‘n uur se ry word ons links verwys op ‘n “jeep track” wat al hoe rowwer raak hoe verder ons ry! Dit is ook ‘n gedurige op en af met baie klippe. Hulle het in die “race briefing” van “albasters” gepraat. Nou kon ek duidelik sien wat hulle bedoel het. Op die stadium lyk dit of ek so 6 uur gaan trap. Op 41 km bereik ons die volgende waterpunt, wat net so goed soos die vorige een bevoorraad is. Na ‘n paar glasies Coke, stukke biltong en “jelly babies”, val ek weer in die pad. Ons kry nou die enigste “single track”vir die dag. Dit is 8.3 km lank en neem my 43 minute, maar dit is regtig iets besonders. Dit word afgewissel tussen redelik lekker gelyk dele met ‘n paar gemiddelde klimme wat ons gelydelik al hoër neem. Dan kom die afdraend! Hier het die ouens hulleself werklik oortref. Dit is lekker tegnies, maar met die regte pas en vertroue kan alles gery word. Daar is ook ‘n paar skerp draaie en los gruis, so ons moet mooi konsentreer. Dit is ook seker die enigste plek waar ‘n “single track” met rooskwats uitgemerk word! Die laaste 3 km is weer op ‘n distrikspad en dan doen ons weer by waterpunt 2 aan vir die terugtog. 

 

Die eerste gedeelte is baie soos die vorige “single track”, net makliker met een deurgang tussen twee groot rotse wat net breed genoeg is om ‘n bergfiets se hanvatsel te akkommodeer! Na so 3 km is ons weer op ‘n distrikspad en meesal af, wat beteken ons handhaaf ‘n goeie spoed. Ons ry weer deur Vredesvallei en oor die Oranje terug na die “groot bult” wat Augrabies Monster gedoop is! Nie so kwaai soos die Tankwa Trek se Marino Monster nie, maar ‘n monster op sy eie. Gelukkig is dit nie te lank nie en ek kry hom uitgetrap, behalwe vir die keer toe my ketting aan die binnekant van my groot rat afgespring het. Ek kry dit gou reg en trap voort. Die pad terug na die volgende waterpunt, op 66 km, is dieselfde een waarmee ons vanoggend gekom het. Dit is interessant dat die sandkolle, wat nou die hitte van die dag ervaar, nou ‘n bietjie moeiliker trap! Ek is besig om goed tyd op te maak en hoort onder 6 uur in te kom. 

 

Ek bereik die laaste waterpunt op 5:05. Na ‘n glasie Coke en ‘n paar stukke van die lekker biltong, vat ek weer die pad. Ek handhaaf ‘n baie goeie pas en dit lyk of ek 5:45 sal maak. Die pad deur die veld raak al beter en dit is meeste van die tyd afdraend. Ek handhaaf ‘n gemiddeld spoed van meer as 20 kpu en trap dat die byle huil. Met 5 km oor sien ek ek hoort 5:30 te maak en ek sit ‘n bietjie ekstra in. By die kamp se ingang lei hulle ons weer op ‘n “single track”, waar ons ‘n hele aantal “toeskouers” in die vorm van bobbejane , het. Hulle pla ons darem nie en so maak ek dan klaar in 5:31:50 vir die 81.17 km. ‘n Goeie dag se oefening.

 








 

Trans Augrabies Dag 2

 

Ek slaap so lekker dat die wekker my wakker maak. Skeer en oggend roetine met ‘n 07:30 ontbyt. Weet nie wat ek gister verkeerd gedoen het nie, maar ek is opgeskuif na die B groep. Ons spring 09:05 weg en ry die eerste 2 km rustig agter ‘n bakkie. Toe hy aftrek verander die pas nie noemenswaardig nie. Mettertyd tel die pas op. Die eerste 12 km is die teenoorgestelde van gistermiddag se laaste deel. Op 14.73 kruis ons ‘n grootpad. Daar is geen pyltjies nie en almal ry aan. Na ‘n rukkie stop die voortse ryers. Ons is op verkeerde roete. Ons moes by die grootpad links gedraai het, maar daar was geen teken nie. Die roete op my Garmin wys ook so, maar ek het soos alle skape agter die trop aan gery!. Ons handhaaf ‘n goeie pas op die grootpad en kom  na 1:05 by die eerste waterpunt. Na die beruiklike Coke ens val ek weer in die pad.

 

Ons is nou op ‘n “jeep track” wat wissel van baie goed tot baie rof met ‘n voordurende klim en daal en klim en daal. Dit is nou opregte bergfiets terrein. Daar is heelwat tegniese gedeeltes, ‘n paar sand kolle en elke hier en daar ‘n skerp bultjie wat baie energie verg om uit te ry, maar dit is ‘n lekker uitdaging. Dit hou vir 26 km aan. 26 km se bergfiets genot uit die boonste rakke! Dit neem my 2 uur om die 26 km af te lê. Alhoewel daar ‘n paar ryers by my verby kom, haal ek ook ‘n hele aantal in, veral na die einde se kant toe. Dit bring ons by waterpunt 2. 

 


Ons is nou weer op ‘n grootpad met ‘n redelike hellings en afdraendes, met die gevolg dat my gemiddelde spoed redelik gou verbeter. Ek haal weer ‘n klomp ander deelnemers in. Van ons ry ‘n rukkie saam, maar dan raak hulle agter wanneer ons deur ‘n rivierbedding gaan wat gevolg word deur ‘n kort sterk klim. Na 4:19 en 68 km kom ons by die laaste waterpunt. Ek stop vir 4 minute en val dan weer in die pad. Ons ry ‘n verdere 9 km op die pad en dan gaan ons oor na die Klipspringer voetslaanpad. Dit is ‘n voetpad waar San Parke vir ons spesiaal toestemming gegee het om dit met ons fietse te ry. Dit is “single track” uit die boonste rake. Baie tegniese en uitdagende gedeeltes, maar weklik besonders. Daar is selfs ‘n gedeelte waar ek my fiets ala Freedom Challenge styl ‘n bult moet uit dra. Die oprganiseerders het darem mense voorsien om fietse te dra vir die deelnemers wat nie kans gesien het om dit self te dra nie. Die 6 km neem my 30 minute.


Nou is ons weer op ‘n grootpad en al wat nou nog voor lê is Maanrots. Dit bereik ons na 89 km en vir die volgende 2 km ry ons oor hierdie masiewe rots wat van 674 na 695 meter klim en dan weer na 658 meter daal. Al wat nou oorbly is die laast paar kilometer huis toe.

 

Ek voltooi die 92 km in 5:55. Heel te vrede met ‘n dag se goeie oefening en wonderlike “mountain biking”.

 


Trans Augrabies Dag 3

 

Ek slaap weer lekker en word deur my wekker wakker gemaak. Ek beplan om na die wedren deur te ry Victoria Wes toe om ‘n dag by Martin en Helene Marais van Nooitgedacht, te kuier, so ek begin met die oppak proses voor en na ontbyt. 

 

Die laaste skof is in die vorm van ‘n tydtoets en ons spring twee=twee weg. My tyd is 09:17. Die eerste gedeelte is die teenoorgeselde van die vorige dag met ‘n ekstra stukkie Klipspringer in. Die Maanrots is baie styler van hierdie kant wat ‘n stukkie stoot noodsaaklik maak. Anderkant gaan dit lekker en ek laat die deelnemer saam met wie ek begin het, agter. Ons gaan oor ‘n stukkie dienspad en dan is dit die Klipspringer. Die ekstra gedeelte is baie soos gister syne met lekker gladde veld paadjies en baie klipperige gedeeltes. Ek geniet die uitdaging terdee en gaan by ‘n hele aantal ander deelnemers verby. Daar is ook ‘n paar ander vinnige manne wat by my verby kom. Die eerste 15 km neem 1:15 om te voltooi. Ons gaan oor na ‘n goeie “jeep track” en dan ‘n entjie op die dienspad voordat ons weer op ‘n “jeep tack” die veld in gelei word. Die pad klim gelydelik en ek sukkel weer met my ketting wat aan die binnekant van die groot rat afglip en dan tussen die spekke vas geknyp word. Na ‘n gesukkel. Kry ek hom uit en trap ‘n stylerrige bult uit. Hierna vloei die roete lekker deur die veld met ‘n goeie mengsel van op en af, harde veld pad en sand kolle. Op 18 km stop ek by die enigste waterpunt van die dag. Ek vul al my “voorrade” aan en laat maak ook my waterbottel vol. 

 

Nou is dit voet in die hoek tot by die einde. Die volgende 2 km is teen ‘n gelydelike helling en my spoed wissel so tussen 12-18 kpu. Daarna verander die helling en ek tel spoed op. Hierdie terrein duur voort tot op 33 km. Nou betree ons plaasgrond en ry vir die volgende 6 km tussen tafeldruif wingerde deur. Na 2 km deur die veld tussen twee plase kom ons by die Pecanneut plantasie vir die volgende 4 km. Nog so ‘n entjie deur die plaasgrond en dan is ons weer in die park. Eers met ‘n veld paadjie en dan is ons op die laaste dienspad kamp toe. 

 

Die dag eindig op 49 km en na 3:17 in die saal. 

 

Samevatting. Dit was voorwaar een van die aangenaamste bergfites wedrenne wat ek in ‘n lank tyd aan deel geneem het. ‘n Biejie korter as die Tankwa Trek, maar in graad van uitdaging en genot, beslis op dieselfde vlak. 

 

Totale: afstand 222 km; tyd 14:44; klim 3,015 meter.