Donderdag 27 April 2023

Erioca SA Hero

 Saterdag 22 April 2023 was weer tyd vir Erioca SA. Erioca gaan daaroor om die gees van die Tour ‘d France van die vroeë jare vas te vang deur met ‘n staalfiets, wat voor 1990 vervaardig is, op ‘n grondpad te ry, sonder enige bystand van derde partye. Vanjaar het twee opsies gehad. 40-70 km en jy kon enige tyd tussen 07:00 en 10:00 begin. Langs die pad was daar drie verversings stasies waar jy allehande versnapings kon kry, insluitende alkohol! Die tweede opsie, wat vir die meer ernstige deelnemers en manne en vroue bedoel was, was oor 170 km Noord Ooste van Montagu. Hier was daar vier waterpunte, een waar daar twee keer gestop sou word en ook geen alkohol beskikbaar nie. Ek het hierdie opsie gekies. Ons spring 05:00 weg! Ek het al in Desember 2022 ingeskryf en my verblyf is gedurende Februarie gefinaliseer.

 

Ek het beplan om so teen 15:00 op Vrydag 21 April te ry. Ek kry egter ‘n WhatsApp boodskap op die Erioca groep oor iemand wat ‘n geleentheid Montagu toe soek. Ek bied aan om een person te help en kry dus vir Kai Pringle 14:00 by Eden on Big Bay. Ons gesels lekker tydens die rit Montagu toe en kom so 17:00 daar aan. Nadat ek geregistreer het, meld ek by my gasheer en vrou vir die naweek aan. Leon, my broer se seun, is ook hier en ons eet die aand by ‘n restaurant in die dorp.





Die foto hierbo is ek saam met Chris Bradley wat van Southampton in Engeland gekom het vir Erioca!

 

Ek het ‘n paar keer getwyfel oor die wysheid om 170 km te ry en veral om 05:00, wanneer dit nog pik donker is, te begin. Die weer het ook nie te wonderlik gelyk nie, alhoewel die moontlikheid van reën, volgens die weer voorspelling, hier na die einde van die week redelik afgeneem het. Ek het myself egter voorberei vir lae temperature. Gedurende die nag het ek ‘n paar keer wakker geword met die klank van reën druppels op die dak gehoor. My wekker het 03:45 afgegaan, want ons moes 04:30 by die wegspring wees. Ek het vining by die deur uit geloer en gesien die grond is nat, maar dit reën nie. Ek is net na 04:15 by die voordeur uit en “verwelkom” met ‘n paar verdwaalde druppels. Gelukkig niks ernstig nie. “Race briefing” het eers 05:05 plaasgevind aangesien daar ‘n paar manne was wat verslaap het. Ons kom 05:12 aan die gang. Die eerste paar kilometer is “neutraal” en wanneer die wedren begin is die pas heel rustig. Almal spaar hulle kragte vir die 170 km wat voorlê. Ons is so tussen 20 en 30, waarvan seker die helfte “garvel” fietse is. Hulle ry dieselfde roete as ons en hulle wedren staan as Nova bekend. Hulle het ook ‘n paar Strava seksies waar hulle tyd gemeet word. 

 

Na 4.3km draai ons links op ‘n grondpad, in die rigting van Oubergpas. Dit reën nou liggies, maar darem nie so dat ek deurnat raak nie. Die temperatuur is 10 grade Celius. Dit is nog steeds donker en ek ry maar versigtig in die lig van my koplig om seker te maak ek slaan nie ‘n klip en kry ‘n papwiel nie. Die grootste probleem met die staalfiets op die grond pad is die moontlikheid van papwiele, veral as gevolg van die dun wiele wat maklik deurstamp. Op die probleem te adreseer, het ek my wiele kliphard gepomp, met die gevolg dat die rit redelik stamperig is. My pas is rustig en heelwat deelnemers kom by my verdy. Na 14 km begin ons Oubergpas klim. Dit begin nou lig raak en ek kan my lig afskakel. Teen die tyd wat ons bo uit kom, is die al heel lig, maar daar is geen sig van ‘n son nie. Dit is bewolk. Gelukkig het dit opgehou reën en die weer is eintlik idiaal vir fietsry, veral indien jy reg aangetrek is. Ek is dankbaar vir die warm handskoene en twee baadtjies wat ek aan het. 

 

Die afdraendes is op Erioca vir my die “moeilikste”. Ek moet baie versigtig wees om nie ‘n klip teen ‘n spoed te slaan nie, want dit sal onmiddellik ‘n papwiel tot gevolg hé. Waar ek met my bergfiets teen 40 kpu bult af sal gaan, beperk ek myself nou tot so 20-30 kpu!. Ek bereik waterpunt 1 na 2:45 en is redelik ver agter in die groep van deelnemers. My gemiddelde spoed is 12 kpu. Teen die pas gaan ek eers na donker klaar maak! Hier kry ek koffie en ‘n boerewors rol. Ek spandeer so 13 minute hier en val dan weer in die pad. Die pad is nou redelik gelyk, wat help dat ek ‘n beter pas handhaaf, maar die oppervlakte is rof en daar is ook ‘n paar sanderige driffies waar die dunwiele deur gestoot moet word. Dit neem my 2:25 tot by waterpunt 2. Die afstand was 44 km, dus ‘n gemiddelde spoed van 18 kpu. Dit lyk darem of ek voor donker gaan klaar maak! Ek drink weer koffie en eet van die verversings wat beskikbaar is. Ek vertoef 12 minute.

 

Van so ‘n entjie voor waterpunt 2 en tot by 3 is die pad in ‘n uitstekende toestand. Die oppervlakte is lekker glad, daar is geen bulte nie en ook baie min klippe. Die gevolg is dat ek ‘n besonder goeie pas handhaaf. Ek gaan ook by ‘n hele aantal deelnemers verby. Ek handhaaf ‘n pas van so tussen 20-30 kpu. Na 7 uur in die saal en 112 km, kom ek by waterpunt 3 aan. My gemiddelde spoed oor die 35 km was 23 kpu. Nou lyk ‘n ligdag einde al hoe meer ‘n werklikheid! Ek word hartlik ontvang deur Johan, ‘n prokureur van Johannesburg, wat deeltyds hier boer. Kry weer koffie en ook ‘n vetkoek met “mince” en ‘n pannekoek. Die gasvryheid maak die moeilik om weg te kom en ek val na 17 minute weer in die pad. 



 

Die pad oppervlakte het aansienlik verswak en is nou baie stamperig en vol los klippe, so ek moet versigtig ry. Na 16 km sluit ek weer aan by die pad, waarmee ons vanoggend uit gekom het, maar nou in die teenoorgestelde rigting, aan. Waar die pad tussen waterpunt 2 en 3 lekker gelyk was, is die gedeelte redelik op en af, maar gelukkig is die klimme nie te ernsitg nie. Dit neem my 1:23 om die 26 km tussen waterpunt 3 en 4 af te lê, ‘n gemiddelde spoed van net onder 18 kpu. My gemiddelde spoed vir die dag staan nou op 15.9 kpu. Heelwat beter as die 12 kpu van 6 urr gelede! Waterpunt 1 en 4 is op dieselfde plek. Hier kry ek weer koffie en hoeder kerrie en rys! My stop neem 16 minute in beslag.

 



Nou net die laaste 33 km huis toe, maar dit sluit Oubergpas af in. Op was moeilik, maar ek moes dit maar net uit “grind”. Af gaan ook moeilik wees, want dit is baie klipperig en ek wil nie nou ‘n papwiel kry nie! Dit gaan maar moeilik, maar ek kry dit darem reg om so 20-30 kpu te handhaaf, behalwe vir die verspoelde dele waar ek baie stadig ry. Ek moet heeltyd rem en dit plaas baie druk op my hande en polse. Ek is dankbaar toe ek na ‘n half uur weer op gelyk pad kom. Tydens die 2019 Freedom Challenge het ons ook hier afgekom en toe het ek meer as 20 driffies van hier tot by Montagu getel. Die res van die pad is redelik gelyk en meesal afdraend tot net voor Montagu, waar daar ‘n paar kort bultjies is. Die oppervlakte is ook baie klipperig en ek moet hard konsentreer om seker te maak ek slaan nie ‘n klip en kry ‘n papwiel nie. Dit sal nogal ‘n “tragedie” wees om op hierdie stadium met ‘n papwiel te sukkel! Die laaste 4 km is weer teer.

 

Na 10:40 in die sal, kom ek weer by De Bos aan na. Totale afstand 172 km. My verbassing was groot toe ek in kennis gestel word dat ek die eerste staalfiets is. Ek het regtig  nie gedink ek is eerste nie en my doel was net om klaar te maak en, indien moontlik, sonder enige papwiele. Dit het ek dan ook reg gekry. Stan Engelbrecht, die onganiseerder, was byderhand en neem ‘n “in pompto” video van die “wenner”! Ek moes later agter kom dat hulle ‘n fout gemaak het en dat ek eintlim tweede gekom, maar “so what”, ek het my doel bereik. Erioca gaan nie oor wie gewen het nie, maar om klaar te maak! Dit was ‘n baie suksesvolle dag op me 32 jaar oue Le Jeune waarmee ek al 32 Argusse voltooi het. Ek wonder of vandag se fietse dit sal kan doen.