Dinsdag 25 April 2017

360NE

Ek kon verlede jaar nie die versoeking weerstaan om vir die 360NE in te skryf nie. Mense beleef maar hierdie oomblike van swakheid! Dit was ongeveer 9 maande gelede.

My voorbereiding het goed verloop en met die aanbreek van die grootdag was ek vol vertroue dat ek gereed is vir die uitdaging.

Sue het vir ons vir Donderdagaand slaapplek op Barrydale by die Mountain View Gastehuis gekry en ons het aandete by die plaaslike Bistro Blue ge-eet. Na 'n 08:30 ontbyt, vat ons die pad Oudsthoorn toe. Registrasie is van 10:00-16:00 vir die wedren wat 18:00 op Vrydag 21 April begin. Na registrasie bespreek ons in by Yamelka Gaste huis en gaan eet iets ligs by Beans about Coffee. Terug by die gastehuis kry ek alles reg en stort om so 'n bietjie varser te voel. Net na 16:00 sê ek totsien vir Sue en ry die entjie af na die wegspring area by Kleinplasie. Daar ontspan ek lekker op die gras en knoop 'n geselsie aan met van die mense wat ook daar rond wag vir die "race briefing" en die begin. Die inligtingsessie is veronderstel om 17:00 te begin, maar aksie neem 16:45 in aanvang. Die roete het 'n klein aanpassing met die kruising van die teerpad tussen De Rust en Oudtshoorn. Ons gaan vanjaar nie met die teerpad langs ry nie, maar met 'n brug onderdeur die pad. Om die afstand pressie op 361 km te kry, is die offisiële begin so 3 kilometers buite die dorp. Ons ry dus in formasie tot daar en die wedren begin eers wanneer ons onder die wegspring bannier buite die dorp gaan. 

Ons vertrek 18:00 en ry rustig in 'n groep agter die bakkie wat ons begelei. Die aanvanklike pas is heel rustig, maar as gevolg van die baie deelnemers is die baie stowwerig. Na ongeveer 14 km sluit ons bt die Kango Grotte teerpad aan en na 'n verdere 8 km draai ons regs na De Rust toe. Die eerste 5 km van die pad is redelik gelyk en ook teer. Daarna verander dit na 'n grondpad en begin ons ook al meer klim. Teen die tyd is dit al donker en moet ons ons ligte aan skakel. Gedurende die volgende 16 km klim ons 302 meters. Hierna volg 13 km afdraand met 'n hele paar skerp draaie. Dit raak noral "nerve-racking" wanneer jy 40-50 km in die donker teen 'n bult af ry en dan nog 'n paar skerp draaie moet trotseer! Na 2 uur 30 minute en 50 km bereik ons die eerste waterpunt, net buite De Rust. 'n Gemidelde spoed van 20 kpu na al die klim wat ons gehad het, was glad nie sleg nie. Die afdraand het beslis gehelp. Ek stop hier vir 4 minute om 'n ietsie te eet en te drink.

Na die waterpunt word ons langs die teerpad op 'n tweespoor paadjie gely wat ons onderdeur die teerpad neem. Daarna sluit ons by die vorige jare se roete aan wat ons deur 'n paar plase neem tot ons weer by 'n goeie distrikspad aansluit. Gedurende die tyd merk ek 'n ou en 'n jong meisie op wat baie lekker gesels en gedurig in my nabyheid bly. My "manlike ego" sê vir my ek moet darem vir hulle wegry. Ons bly egter heeltyd in mekaar se omgewing. Dan is ek voor dan haal hulle my weer in en so gaan dit aan. Die volgende half uur is ons pad meer af as op en lê ons 15 km af. Dan word ons weer met 'n enkel paadjie, wat ons buite om Dysseldorp om neem, teen 'n 13 km opdraad gely wat ons 45 minute neem om af te lê. Op 78 km bereik ons waterpunt 2 wat ook die eerste kontrole punt is. Hier word ons in "gescan" en daar is heelwat eetgoed, insluitende sop en koffie. Aangesien die temperatuur besig was om te daal, trek ek my Indola baadjie aan. Ek neem 'n tydjie om 'n bietjie te rus en val na 15 minute weer in die pad. 

Die profiel van die pad tussen kontrole punt 1 en 2 lyk soos 'n saag. Die klimme is nie moeilik nie en word gevolg deur kort afdraandes, maar dit hou nie op nie! Gelukkig is die pad redelik reguit en kan ons teen die afdraandes ons avontuurlike gees vrye teuls gee! Dit hou vir die volgende 90 kilometer en deur nog twee waterpunte so aan. Ek spandeer 5 en 3 minute by die twee waterpunte. Die laaste 10 km voor kontrolepunt 2 (waterpunt 5), is op teer en redelik gelyk. Dit is ook die halfpad merk en ek trek na 9:06 daar in. Dit is 'n gemiddelde van amper 20 kpu en ek is omtrent 'n uur vroeër as vorige jare. Teen hierdie tyd voel my "ego" ook goed want die twee wat so lekker gesels het is nêrens te sien nie!

Deel van die reëls is dat jy bokse met klere en toerusting na die kontrolepunte kan stuur. Ek het onder andere 'n warm baadjie en warm handskoene in my boks gesit, wat ek hier uithaal en aantrek. Ek drink 'n lekker stawberry gegeurde melk, eet 'n stuk "lasange" en drink 'n koppie koffie. Teen die tyd is my "go" redelik uit, dus vat ek dit maar rustig. Ek vertoef vir 26 minute hier. Dus is my totale tyd van die begin tot dat ek vertrek 9:30, wat my 'n netto gemiddelde spoed van 19.08 kpu gee. Ek begin droom van in onder 20 uur klaar maak! Die eerste 180 km het ek regtig baie lekker gery. Die pas was redelik en ek het myself nooit te kwaai gedruk nie, maar toe ek weer op die fiets klim toe kon ek voel dat my bene 180 km afglê het!

Aanvanklik was ek bekommerd dat die verkeerde besluit was om nie ook 'n warm broek aan te trek nie, want die temperatuur het skielik aansienlik begin daal. Dit was gelukkig van korter duur en met die eerste klim, na 12 km styg dit gou. Die klim hou vir 14 km aan met een klien "dip" voor ons weer 'n lekker afdraand slaan. Op een van die afdraandes kom ek amper my moses tee toe "iets", ek vermoed dit was 'n hond, skielik uit die bosse voor my in hardloop. Gelukkig was die ontmoeting nie te hard nie en kon ons albei voortgaan met ons togte sonder enige ernstige letsels! Die laaste watertafel wat in die donker by stop, is op 214 km. Ek vertoef 6 minute hier. Op 225 km daal ons af na die Gourits rivier en daal die temperatuur na 3 grade Celsius! Hier teen 05:30 se kant merk ek op dat my lig se rooi liggie begin wys. Dit beteken dat my battery se krag aan die min kant raak. Ek maak so 'n paar berekeninge en kom tot die gevolgtrekking dat die lig behoort te hou tot so 06:30 wanneer die dag begin breek. Dit was toe ook so en ek kon die lig afsit toe dit lig genoeg was om sonder 'n lig te ry. Teen die tyd was ek al meer as 12 uur aan die gang. 

Die klim aan die anderkant van die revier is nie baie styl nie, maar dit hou aan en aan en aan! Gedurende die volgende 20 km klim ons 220 meter. Dit is nie veel nie, maar na 230 km kom mens agter dat die energie vlakke nie meer is wat dit aan die begin van die wedren was nie. Die eerste daglig waterpunt kom op 242 km. Ek trek my warmbaadjie uit en hou net die Indola, waarmee ek begin het, aan. Hierna is dit 'n kort entjie en dan die groot klim van Rooiberg! Oppad Rooiberg toe besef ek dat ek my Garmin aan my batterypak sal moet koppel ommsy battery te laai, aangesien die krag voorrad tot onder 10% gedaal het. Ek hou aan die voet van Rooiberg stil om dit te doen en na so 2 minute is ek weer aan die gang. My gemiddeld spoed teen die pas uit wissel so tussen 4.5 en 6.5 kpu. Dit is so 'n bietjie vinniger as 'n fris stappie! Toe ek amper bo is tref 'n mini ramp my. My ketting glip in die binnekant af met die opskakel na die grootste rat en wig in tussen die binnekant van die rat en die speke. Ek probeer aanvanklik om die ketting nie uit te trek, maar hy sit te vas. Ek draai toe maar my fiets onderste bo en probeer so. Weer sonder sukses. Ek maak toe maar die wiel los en na nog 'n gesukkel behaal ek uiteindelik sukses. Die episode kos my 5 minute! Terwyl ek so sukkel kom die geselserige dame van vroeër, by my verby. Sy verneem of als OK is en ek sê ja. Nadat ek weer 'n ent gery het, kry ek weer vir haar langs die pad. "Kan ek help" vra ek. "Nee" sê sy "ek neem net 'n bietjie energie in" terwyl sy iets eet! Dit neem my 1:15 op die 7 km van Rooiberg af te lê terwyl ek 442 meter klim! Anderkant af is die pad redelik rof en dit is moeilik om 'n goeie spoed te handhaaf. Dit neem my 22 minute om die 11 km af te lê. Van hier af is die pad redelik gelyk tot by kontrole punt 3 (waterpunt 8). Op hierdie stuk vorm ons 'n drietal en ry die volgende 42 minute saam toe by die kontrole punt. 

Hier is daar weer bokse en ook genoeg om te eet. Ek het egter nie veel van 'n eetlus nie. Ek trek al my warm klere uit, haal al my ligte af en gooi dit in my boks. Eet twee pannekoeke, drink 'n koppie koffie en val weer in die pad. Terwyl ek fiets toe stap sien ek die dame van vroeër lekker rustig sit en eet. Ek noem dat ons mekaar seker weer voor die einde sal sien en ek is op my fiets en aan die gang nadat ek 28 minute vertoef het. Teen die tyd is ek al 16:40 aan die trap! Ek voel op hierdie stadium so tam, dat ek tywel of ek vinniger as 22 uur in totaal sal kan ry. Daar is nog 90 km oor en ek het net meer as 5 uur om dit klaar te maak indien ek onder 22 uur wil klaar maak en dan is daar nog 'n paar lelike bulte voor die einde! Ek maak vrede met 'n tyd van net onder 24 uur!

Die temperatuur begin nou klim en raak so aan 25 garde Celsius. Na 'n rukkie kom die "geselserige dame by my verby en ek sien haar in die verte verdwyn. Gedurende die volgende 2 uur klim ons 300 meter oor 'n afstand van 40. Die temperatuur draai in die hoë dertigs. Gelukkig het ek genoeg water en spuit my arm nat om af te koel. Ons daal af na die tweede laaste waterpunt op 315 km. Hier sê ek vir iemand dat indien "opgee" deel van my woordeskat was, het ek daar op sou gehou het, maar aangesien ek nie so 'n "woord" ken nie, klim ek maar weer op en ry. Nog 46 km huis toe met twee lelike "knoppe" in die pad. Ek kruip teen die bulte uit en is dankbaar wanneer ek oor die kruin van die laaste een gaan. Van hier is die redelik met net 'n paar kleiner heuweltjies tot by die einde. Na 'n paar minute kom twee manne by my verby. Aanvanklik laat ek hulle gaan, maar na 'n rukkie haal ek hulle weer in en ons begin saam ry. Daar word nie veel gepraat nie, maar baie getrap! Ons bereik die laaste waterpunt saam en besluit om saam te werk einde toe. Met nog 25 km oor is die energie vlakke nou op 'n laagtepunt. Gelukkig is daar nie meer moeilike dele nie, maar die padoppervlakte van die Lategansvlei pad na die Oudtshoorn teerpad is redelik rof en ons moet gedurig rigting aanpas om die beste gedeeltes te vind. By die teerpad gekom word ons op die skouer gelei om uit die verkeer se pad te bly. Na so ongeveer 600 meter sluit ons by die teerpad aan. Ons tel ook 'n ander deelnemer op en is nou is ons vier in die bondel. Ek weet nie waar die energie vandaan gekom het nie, maar ek begin die pas aangee. Toe ons verby die militêre kamp gaan kyk ek om en sien net een man agter my! Die pas was blykbaar te kwaai vir die nader manne. Ons twee ry saam tot by die einde en ry soos twee spanmaats oor die streep. Daardie laaste 25 km het ons in 51 minute afgelê!

Total ry tyd volgens my Garmin was 21:29:32. My offisiële tyd was 21:26:03 omdat die wedren eers buite die dorp begin het. Dit is ook my beste tyd ooit vir die 360NE. Die eerste 180  en die laaste 40 km het ek werklik baie geniet. Die stuk tussen in was regtig 'n beproewing!

Totale afstand 363.83 km, totale tyd 21:29:32, totale aantal meters geklim 4,980.