Dinsdag 09 November 2021

Namakwapadmaker verkenning

Op 5 November durf ek en Henk Bruwer die Namakwapadmaker roete van die ingang na Cedar Rock/Cederberg Chalets tot by Whupperthal aan. Min wetende wat op ons wag!

Ons spring die oggend net na 06:00 in Citrusdal weg en ry met Henk se bakkie tot by Sanddrif, waar ons as familie die naweek gaan deurbring. Ons parkeer sy bakkie daar en begin 07:42 met die groot trap. 


Die pad vanaf Sanddrif na Matjierivier is 'n goeie grondpad en ons lê die in 9.75 km in 30  minute af. Ons kruis ons die Eselbank/Whupperthal pad, tel ons fietse oor die hek en begin "offisieël" met ons verkennings tog. Die Namakwapadmaker begin by Mount Ceder en eindig 774 km later by die Gariepriveir so 14 km stroom af vanaf Vioolsdrif. Die eerste skof is van Mount Ceder tot by die Cederberg Chalets en die tweede skof is vanaf Cederberg Chalets tot by Doringbos, oor Whupprethal. Die doel van ons rit was om te sien hoe lyk die pad vanaf die ingang na die Cederberg Chalets tot by Whupperthal. Vandaar sou ons dan terug Sanddrif toe ry. Ek het die hele roete op my GPS afgelaai, so ons het darem 'n idee waar ons moet ry!



Nadat ons oor die hek geklim het, is dit bult op! Ons klim vanaf 771 meter tot by 1,135 meter oor 'n afstand van 9 km en dit neem ons net mooi een uur. Alhoewel dit net 'n "jeep track" is, is die pad oppervlakte goed en sekere gedeeltes is sement, met klippe wat ingelê is om beter vastrap plek te gee.


Hierna daal ons na 698 meter. Die pad is besaai met losserige klippe, wat dit moeilik maar om vinnig te ry. Ons spoed wissel so tussen 10 en 30 kpu, afhangende van die pad oppervlakte. Ons is nou in die Cederberg Chalets se grondgebied (sonder toestemming) maar sien geen huisies nie. Daar is net vier huisies en almal is van klip gebou en ver van die hoof toevoer pad, dus het almal gee totale privaatheid. Hier is ook geen selfoon ontvangs nie, dus die perfekte plek indien mense heeltemal wil wegbreek. Vir party mense mag dit "te" afgeleë wees. Daar is net sonkrag en gas. Jy moet ook jou eie drink water saam neem. Ons het gewonder wat hulle doen vir algemeen water gebruik, want hier is nie water nie en ons sien nie opgaar tenke nie. Die Chalets is onderskeidelik 14.2 km, 21.6 km en 24.2 km van die ingangshek af! Die twee op 21.6 is regoor mekaar.


Ons kom by 'n vurk wat regs na Doringrivier en Kantoor wys en links na Chalets. Die GPS wys ons moet links hou. Hier is die pad nog steeds redelik goed en ons ry so teen 10-20 kpu. Ons ry ook verby die twee chalets wat op 21.6 km reg teen die pad is! Woorvaar afgesonder. Ek sê vir Henk dat die huisie so naby aan die pad is, dat hulle probleme met die verkeer gaan hé! Gelukkig sal daar nie veel verkeer op die afgleë plek wees nie!



Na die huisie "verwyn"die pad vir die eerste keer. Ons tel gelukkig gou weer 'n spoor op en ry aan. Op 37 km "verdwyn" die pad weer. Ons is op 'n koppie en klim op 'n hoë klip om te kyk of ons kan sien waar die pad nou gaan. Ons sien in die verte 'n pad, maar hier by ons is niks! Ons besluit om maar die GPS so na as moontlik te volg. Ons moet nou stoot, want hier kan ons nie ry nie. Na so 'n entjite tel ons weer 'n spoor op, maar dit is nie die een wat ons van die koppie af gesien het nie, maar dit stem darem ooreen met die GPS. Dele is baie sanderig wat tot gevolg het dat "hike a bike" aan die orde van die dag is. Na 'n ruk se gestoot tel ons weer 'n paadjie op en kan ons darem weer ry. Dit is egter bult op so die vordering is nie te vinnig nie. Die bult is nie te styl nie en ook nie te lank nie en spoedig is ons weer goed aan die gang.



So op ongeveer 43 km kom ons op twee geboue met 'n onder andere 'n oond in die rots langs aan en 'n klipkring waar daar vuur gemaak kan word. Ons water is min en ons het al 'n paar kranne langs die pad gekry wat heeltemal droog was. Ons kry 'n 20 liter waterkan wat so halfvol is in die een hut en maak ons waterbottels vol. Gelukkig is ek lig op water, maar Henk se water was amper op. Nadat ons 'n vinnige breek geneem het, is ons weer aan die gang.




Henk ry so 100 meter voor my. Ons bereik 'n punt waar die GPS aandui dat ons regs op 'n baie onduidelike sandpaadjie moet draai, terwyl die pad waarop ons is heelwat beter lyk. Ek besluit om aan te hou op die beter pad, in die hoop dat die twee weer bymekaar sal uitkom. Wanneer ek weer by Henk kom noem ek dit vir hom en ons voel albei dat die beter pad 'n beter opsie is. Die pad waarop ons is word op die GPS aangedui as deel van die Whupperthal 4x4 trail, so daar is hoop! Later sal ons ons oordeel bevraagteken! 





Ons klim  weer 'n maklike bult uit. Ons albei sien, wat ons dink 'n bakkie en dus beskawing is in die verte, maar toe ons nader kom is dit net 'n rots!  Ons trek nou al op 57 km en ry al vir 6:15 uur lank en het nog nie 'n lewende siel gesien nie! My beplanning was om na 5:30 by Whupperthal te wees. Nou is ons al 45 minute langer aan die gang en ons het nie 'n idee waar Whupperthal is nie! Ons is nou ook redelik ver van waar die GPS roete loop, maar vertrou dat ons ons bestemming sal bereik. Ons boenner 'n lekker tegniese bult, wat rybaar is, af. Na 'n rukkie sien ons 'n paar huise en 'n dam vol water! Ons hou by die dam stil, drink water en maak weer ons bottels vol. Ons gewaar geen lewe nie en ry aan.  By 'n vurk gaan ons links. Na so ongeveer 500 meter kom ons by 'n stomp in die pad, gevolg deur 'n groot krans. Daar is 'n baie rowwe pad links af, maar die loop onder in die vallei dood. Ons moet maar omdraai en die regter vurk probeer!



Oppad vurk toe, sien ons iemand loop. Ons ry nader om te hoor of die pad Whupperthal toe gaan. Dit is 'n jongerige meisie en sy bevestig dat die pad wel Whupperthal toe gaan, maar is meer bekommerd dat ons onwettig op privaat grond is, en sê sy gaan haar pa roep. Sy het ook iets gesê van 'n hek wat gesluit is. Dit is egter nie vir ons 'n pribleem nie, trouens ons is al vandag oor 'n paar gesluite hekke! Ons draai om en laat spander in die rigting van die regter vurk. Die pad is redelik goed en dit lyk of daar saailande was, maar nou groei daar net onkruid. Ons kry die hek, klim oor en kom weer op 'n situasie af waar daar geen pad is nie! Ons ry tussen die bossies deur en na 'n rukkie tel ons 'n ou verweerde pad op. Na nog 'n entjie se ry sien ons die pad wat van Clanwillaim se kant na Whupperthal toe loop, so daar is hoop! Whupperthal is onder in die kloof, maar dit is ten minste nog 10-15 km weg.


Tussen ons en Whupperthal is daar 'n redelike hoogte verskil! Die pad volg die kontoer van die bult af en is so rof en styl dat ons verplig is om ons fietse te stoot! Alhoewel ons 400 meter daal oor 4 km, is ons gemidelde spoed slegs 3 kpu! Die pad word as 'n "4x4 trial" beskryf, maar ons albei voel dat selfs 'n geharde 4x4 ryer gaan sukkel op die pad op of af te ry. Onder in die vallei kan ons uiteindelik weer ry. Ons kom na 8 ure se ry en 70 km in Whuppertal aan. 





Dit is nou 15:40 en ons soek iets om te eet. Hier is nie meer 'n restourant nie, net 'n klein winkeltjie wat koeldrank en lekkers verkoop! Die dame agter die toonbank lig ons in dat sy wel "slap chips" het en ons verlustig ons aan 'n Coke en "slap chips". Hier is selfoonontvangs en Henk bel die Sanddrif ontvangs by Dwarsrivier en vra dat hulle vir  Carine moet laat weet dat sy ons op Esselbank moet kry. Toe ons die rit bespreek het, het ons die moontlik genoem dat sy in Eselbank se rigting moet ry indien dit laat word en ons is nog nie tuis nie. Teen die huidige pas gaan die donker ons vang en ons het nie daarvoor reggemaak nie.


Na so 'n 20 minute is ons weer oppad. Ons het nou 'n 400 meter klim oor 5 km wat voor lê voordat ons die plato, wat na Esselbank lei, bereik. Dit neem my 50 minute om tot bo te kilm. Die hele pad is sement met 'n gradieënt wat wissel tussen 10% en 18%. So dit is rybaar, maar dit neem tyd! Ek gebruik altyd 'n spoed van 3.5 kpu of stadiger as 'n teken om af te klim en te stoot. My spoed draai 'n paar keer by 3.7 kpu, maar ek hou aan met trap. Wanneer ek bo kom voel ek darem dat ek eintlik 'n baie goeie dag agter die rug het, ten spyte van dit feit dat ons op 'n stadium redelik bekommerd was oor wanneer ons weer beskawing sou bereik.



Bo op die plato is die pad redelik en op 80 km bereik ons Esselbank. Ons soek weer koeldrank maar kry net "minder nugter" mense! Iemand lig ons dat daar koeldrank "net naderkant die elektriese paal" te kry is. Ons ry aan, maar sien niks wat lyk soos 'n plek wat koedrank verkoop nie. Net toe ons by die laaste huise verby ry, kom Carine om die hoek! Ons stop net daar en laai die fietse op die bakkie. Ons ry terug dorp toe en vind toe die huis waar die koeldrank verkoop word. Daarna vat ons die pad terug Sanddrif toe. Die pad is so sleg, dit het Carine 'n uur en 'n half geneem om die 30 km af te lê en sy het ons 17:30 gekry, met die gevolg dat ons eers 19:00 by Sanddrif aankom! 


So eindig 'n besonder gebeurtenisvolle dag op 'n fiets, waar ons heelwat langer as beplan in die saal was.













Saterdag 30 Oktober 2021

Oranje Avontuur Dag 9

Anette by Oude Schuur het nie vir ons plek gehad nie, maar ons het toe by die Bethulie Royal Hotel geholpe geraak. Dit was heelwat duurder, maar wel ‘n baie besonderse ondervind waar ons kennis maak met Anthony Hocking en sy versameling van 120,000 boeke en 80,000 langspeelplate! 

 


Beurtkrag was vir 20:00 geskeduleer en dit was 18:30 toe ons daar aan kom, dus moes ons ons litte roer om darem nog kos by die Old Car Pub te kry voordat die krag afgaan. Buite het dit nou ook honde en katte gereent. 

 

Vrydagoggend het Anthony en sy personeel ons getrakteer met ‘n heerlike ontbyt. Na die laaste oppak, kom ons net na 08:00 aan die ry. 

 

Leon moes onderdele vir sy Land Cruiser by ‘n boer in die Richomnd omgewing kry. Ons draai dus net na Richmond af op ‘n grondpad Victoria Wes toe. Dit het hie rook goed gereent en die pad is redelik modderig. Ons kry die onderdele, ry deur Victoria Wes waar ons ‘n lekker middagete geniet en vat dan die pad Kaap toe via Drie Susters. Ons arriveer so net voor 21:00 in die Kaap.

 


So eindig ‘n besonderse Oranje/Sengu Avontuur!


Hier is die skakel na Philip Hanekom se verslag.


https://philipsewebjoernaal.wordpress.com/

Oranje Avontuur Dag 8

Die het weer omtent heelnag gereent en hard ook. Toe ek die vorige aand in my tent kom, vind ek dat my kampbed en slaapsak albei klam is. Ek besluit toe om sommer in my klere bo-op alles te slaap. Gelukkig was dit nie te koud nie en toe dit koeler raak was die slaapsak darem so dat ek onder dit kon lê.

 

Die dag lyk goed vir fietsry en na ontbyt en oppak val ons teen 07:18 weer in die pad. Ek het vir ons ‘n lekker alternatiewe roete vanaf Ha Moqalo na ‘n punt naby Aalwynskop, waar die teerpad die rivier kruis, uitgewerk. Ongelukkig was die roete verkeerd om afgelaai, met die gevolg dat my Garmin my elke keer terug Ha Moqalo wil neem. Ons identifiseer die roete op Komoot op my selfoon  en begin ry. 

 

Na so 4 kilometer sien ons ‘n paadjie deur die veld, wat lyk of dit ‘n kortpad kan wees en ry daar af. Die paadjie begin egter baie gou parallel met die grootpad loop en na ‘n verdere 3 kilometer is ons terug op die grootpad. Tydens die rit kry ek dit reg om my ketting, wat in elkgeval gedaan is, te breek. Ons herstel dit gou, en ry aan. My ketting is egter nou te kort en ek kan dus nie my laaaste twee klim ratte gebruik nie. Op die profile van die pad wat ons ry is dit gelukkig nie ‘n probleem nie. 

 



Die pad wat ons volg is al teen die kontoer van die berg met ‘n paar redelike klimme en so elke nou en dan ‘n lekker afdraend. Die oppervlakte is redelik rof, maar werk goed met ons fietse se groot wiele. Ons kontroleer so elke nou en dan met Komoot dat ons nog op die regte roete is. Ons kry ook gereeld ‘n mooi uitsig oor die Sengu. Ons kom ook op ‘n brug af wat verspoel het. Gelukkig is daar darem genoeg oor sodat ons met die fietse daar kan oor ry.

 



Na 5 ure se ry sien ons ‘n brug oor die rivier. Toe ons daar kom sien ons dit is die ou enkelbaan padbrug. Ons ry oor en neem ‘n paar “selfies’. Ons kan ook die nuwe padbrug so ‘n entjie verder af sien. Ons ry daarheen kry ook vir Nico-hulle daar. 

 


So eindig ons fietsrit langs die Sengu/Oranje. Ons het op die ou ent net omtrent 50% van wat osn wou trap, getrap as gevolg van die weer en nou teerpaaie, maar dit was voorwaar ‘n besonderse ondervinding. Lesotho het sy naam van “The Mountain Kingdom” beslis aan ons bewys. 

 

 

Totale afstand vir die dag 65.84 km; tyd 5:49:50; klim 1,234.

 

Totale afstand getrap 241.15 km; totale tyd 25:21; gemidelde spoed 9.51 kpu; klim 6,983 meter teen gemiddeld 28.96 meter per kilometer.






Oranje Avontuur Dag 7

Die roete vanaf Qachasnek na Telebrug sou baie teerpad insluit en die teerpaaie het geen skouer nie, wat fietsry redelik gevaarlik maak. Ons besluit dus om vanaf Qachasnek na Ha Moqola met die motor te ry. Dit is 'n afstand van ongeveer 200 kilometer naastenby 60 km van Telebrug af. 
    




Ons kry hier 'n lekker kampplek langs die Sengu waar ons uitspan en tente opslaan. Ons het lekker groot Lesotho 
hoenderboude, minstens twee keer die grote van wat ons in SA kry, om te braai. Net nadat ons klaar gebraai het, begin die hard reent. Ons kry dit reg on ses broodtjies te braai maar moet die ander szes ongebraai eet aangesien dit te hard reent.




 

Oranje Avontuur Dag 6

Elke dag se oppk is 'n missie! Ons kom eers 07:25 weg. Ek gooi my nat klere oop bo-op die ander begasie sodat dit droog kan word. 

Na 'n "selfie" voor die Lodge, ry ons. Vandag het weer 'n paar kwaai klimme in. Die toestand van die paaie is heel goed vir fietsry, maar ek wil nie hier met 'n motor ry nie! Ons kry ons eerste uitsig oor die magtife Sengu! 




What goes up must go down! Elke opdraend word gevolg deur 'n malle afdraend! Die pad is rof maar ons laat wiel bult af! Ons kom op 'n punt waar die roete wat ek op Komoot afgelaai het net nie sin maak nie. Gelukkig het Philip Hanekom 'n roete op Google Earth vasgelê wat nie op enige van my roetes wat ek afgelaai het, aangedui is nie. Die toestand van die pad was ook baie goed en ons volg dit.


Ons klim 'n 6,3 Kilometer lange bult waar tydens ons 507 meter styg. Dit neem my 1:10 om bo te kom, maar dit was 'n lekker klim. Daar was 'n paar kwaai seksies van 17% maar die meeste was so tussen 7-9%. Ons is nou al 6:43 In die saal en die beplande afstand vir die dag is 105 km. Ek besluit om aan die einde van die volgende afdraend op te hou aangesien ek nie eintlik kans sien vir nog 30 kilometer nie en ek hou in elkgeval die ander manne terug. 


Die afdraend was 8 kilometer en het my 30 minute geneem om tot onder te kom. Dit neem vir Nico heelwat langer en ek ry aan totdat hulle my inhaal. Daar stap 'n klomp skoolkinders verby en ek kry hulle om my te help om my fiets in die fietssak in te kry. 


Ons haal die ander op so 90 kilometer in, maar hulle wil klaar ry. Ons ry aan en wag vir hulle by die teerpad. Hulle kom sowat 2 uur nat ek opgehou het by die eindpunt aan. Hulle het dus daardie 30 kilometer in 'n bietjie meer as twee uur afgelê. 




Ons kry slaapplek by 'n lodge in Qachasnek en hulle gee ook vir ons kos. Heerlike skaapvleis met rys en slaai!

Totale afstand 70.13 km; tyd 7:37:18; klim 2,145 meter.







Oranje Avontuur Dag 5

 Ons raak redelik vroeg wakker, eet ontbyt en drink koffie. Die klam tente het darem deur die nag redelik droog geword.

Ek val weer voor die ander in die pad en ry Mokhotlong toe. Die 6 kilometer neem my so 45 minute. Die res kom so 'n uur later daar aan na die oppak en skoonmaak by ons kamp terrein.

Leon koop 'n data kaart sodat ons darem met die buite wêreld kan kommunikeer. Ons kom 09:00 daar weg.

Aanvanklik ry ons teerpad tot 11 kilometer buite Mokhotlong. Dan draai ons af op 'n grondpad wat onmiddelik afdaal na 'n rivierloop, gevolg deur 'n goeie klim. Die toestand van die pad is heel goed. 

Na so ongeveer 1 kilometer wys my Garmin vir my wat kom - 16.57 kilometer met 1,020 meter se klim. Dit is 'n bulletjie. Ons klim vanaf 2,012 na 3,032 meter. Dit neem my meer as 2:45 uur om bo te kom. Die pad oppervlakte is goed so ons kom meeste van die tyd ry, maar klim 'n paar keer af om te stoot. Anderkant is die net mooi die teenoorgestelde en ons hoef vir die volgende halfuur nie te trap nie.




Die res van die dag is gedurig op en af, maar ons geniet die rit. Die weer is hierdie stadium baie lekker. Die omgewing se tepografie bly onveranderd. Hier is omtrent geen bome nie, net grasvelde en berge! 


Ons het tentatief met Nico-hulle ooreengekom dat ons by die kruising van die pad en die Dinakengrivier, gaan kamp. Dit begin so elke nou en dan reent. Toe ons by die plek kom is hulle nêrens in sig nie en ons hou maar aan met ry. Hulle het gereken dat hulle eder 'n beter blyplek soek, wat hulle toe by Mashai Lodge gekry het. Die terrein ontleen hom daartoe dat ons 'n goeie pas kan handhaaf. Dit begin egter al harder reent en ons begin koud kry en raak nat. Na 70 kilometer sien ek 'n klomp bome waar dit redelik droog is en hou daar stil. Leon kry dit reg om met Derick kontak te maak en hulle kom haal ons. 

Ons kry by die Mashai Lodge plek vir die nag. Dit is egter nog 30 kilometer verder, maar gelukkig sit ons in die motor. Daar aangekom lyk dit darem redelik en ons besluit om dit te aanvaar. So eindig dag 5.


Afstand gery 80.91 km; tyd 7:54:50; hoogte geklim 2,202 meter. 

 







Oranje Avontuur Dag 4

Dit het omtrent heelnag saggies gereent met die gevolg dat alles buite nat is. Kondendasie het ook die binnekant van die tent klam gemaak. Om sake te vererger het 'n waterbottel in motor op my klere gelek met die gevolg dat van my klere nat is. Daar was darem droeë klere vir die dag. 

Aangesien ek stadiger as die ander is, het ek so lank begin ry terwyl hulle oppak. Aan die begin was die paaie nat maar dit het nie gereent nie. Die eerste paar kilometers was teer. Daarna gaan ek oor na die nuwe geteerde Sanipas aan die SA kant. Die pad is vir omtrent 10 van die 15 kilometer reeds geteer. Die laaste 5 kilometer is nog onder konstruksie. Dit is hierdie deel waar ek 'n stadige lek op my voorband optel met die gevolg dat ek moet stop en dit pomp. Dit het intussen ook weer liggies begin reent. 

Die deurgang deur Paspoortbeheer is gou en maklik. Ek moet weer die wiel pomp voordat ek kan begin ry. By die eerste waterpoel kyk of ek kan sien waar die lek is maar sonder sukses. Die pad tussen die SA en Lesotho Papoortbeheersposte is baie rof. Dit is ook die deel waarvan mens altyd die fotos sien met ernstige klim en haarnaald draaie. 


Ek loop 2 voertuie met fietse raak en leen 'n voetpomp om die wiel te pomp. 'n Rukkie later kom Leonico en Derick met ons ondersteunings voertuig verby. Die mis is ongelukkig so dig dat ons nie die uitsig kan geniet nie. Die pad is baie styl en soos bogenoem rof met groot klippe en spoelslote. 'n Tweede voertuig met fietse kom af en ek vra weer vir 'n voetpomp. Ons pomp my voorwiel tot op 2 bar. Ek moes die wiel 7 keer pomp voordat ek die bopunt bereik. Ek vra die ouens hoe ver nog en die antwoord is "ver" en dat dit styl en rof is! So twee kilometer van bo, kom Philip Hanekom by my verby. Ollie Greaves kom net voor ons die bopunt bereik, ook verby. Hy neem 'n paar "selfies" en ook 'n foto van by die bord wat die bopunt van Sanipas aandui.

Leon kom daar aan terwyl ons besig is met Paspoortbeheer. Ek is nou redelik nat en die temperatuur is ingeveer 2 grade Cesius. Paspoort beheer verloop glad, behalwe dat hulle daarop aandring dat ons 'n Covid toets moet ondergaan en dit kos R300 in kontant. Hulle lig ons egter in dat die Gesondheidsbeampte nie tans daar is om die toets te doen nie, maar ons kan maar gaan! R300 later!

Daar is 'n gastehuis en kroeg en ons ry daarheen. Hier is daar 'n lekker vuur en "hot chocolate"! Ons bestel ook middagete. 

Ons vertoef redelik lank hier voordat ons die tog Mokhotlong toe aanpak. Die pad is deur die Chinese geteer en in 'n baie goeie toestand. In Mokhotlong koop ons kos en ry Noord na die oorsprong van die Sengu/Oranje. 


Die pad is baie sleg en na ons deur 'n sytak ry sien ons 'n plek waar ons kan kamp. Ons hou net daar stil en maak onsself tuis. So eindig ons eerste dag in Lesotho. 



Afstand gery 24.27 km; tyd 3:57:17; hoogte geklim 1,402 meter. Die temperatuur wat my  Garmin Fenix aandui is omtrent 17 garde te hoog.