Saterdag 30 Oktober 2021

Oranje Avontuur Dag 5

 Ons raak redelik vroeg wakker, eet ontbyt en drink koffie. Die klam tente het darem deur die nag redelik droog geword.

Ek val weer voor die ander in die pad en ry Mokhotlong toe. Die 6 kilometer neem my so 45 minute. Die res kom so 'n uur later daar aan na die oppak en skoonmaak by ons kamp terrein.

Leon koop 'n data kaart sodat ons darem met die buite wêreld kan kommunikeer. Ons kom 09:00 daar weg.

Aanvanklik ry ons teerpad tot 11 kilometer buite Mokhotlong. Dan draai ons af op 'n grondpad wat onmiddelik afdaal na 'n rivierloop, gevolg deur 'n goeie klim. Die toestand van die pad is heel goed. 

Na so ongeveer 1 kilometer wys my Garmin vir my wat kom - 16.57 kilometer met 1,020 meter se klim. Dit is 'n bulletjie. Ons klim vanaf 2,012 na 3,032 meter. Dit neem my meer as 2:45 uur om bo te kom. Die pad oppervlakte is goed so ons kom meeste van die tyd ry, maar klim 'n paar keer af om te stoot. Anderkant is die net mooi die teenoorgestelde en ons hoef vir die volgende halfuur nie te trap nie.




Die res van die dag is gedurig op en af, maar ons geniet die rit. Die weer is hierdie stadium baie lekker. Die omgewing se tepografie bly onveranderd. Hier is omtrent geen bome nie, net grasvelde en berge! 


Ons het tentatief met Nico-hulle ooreengekom dat ons by die kruising van die pad en die Dinakengrivier, gaan kamp. Dit begin so elke nou en dan reent. Toe ons by die plek kom is hulle nêrens in sig nie en ons hou maar aan met ry. Hulle het gereken dat hulle eder 'n beter blyplek soek, wat hulle toe by Mashai Lodge gekry het. Die terrein ontleen hom daartoe dat ons 'n goeie pas kan handhaaf. Dit begin egter al harder reent en ons begin koud kry en raak nat. Na 70 kilometer sien ek 'n klomp bome waar dit redelik droog is en hou daar stil. Leon kry dit reg om met Derick kontak te maak en hulle kom haal ons. 

Ons kry by die Mashai Lodge plek vir die nag. Dit is egter nog 30 kilometer verder, maar gelukkig sit ons in die motor. Daar aangekom lyk dit darem redelik en ons besluit om dit te aanvaar. So eindig dag 5.


Afstand gery 80.91 km; tyd 7:54:50; hoogte geklim 2,202 meter. 

 







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking