Donderdag 14 Oktober 2021

Imbuko Big 5

 18 September 2021


In 2020 het ek probeer inskryf vir die Imbuko Big 5, maar word toe in kennisgestel dat hulle nie inskrywings van persone oor 70 aanvaar nie. Vanjaar het ek besluit ek moet kyk of ek nie wel aanvaar kan word vir die uitdaging nie. Na ‘n bietjie korrespondensie en oorreding, besluit hulle toe wel om my inskrywing te aanvaar. Imbuko Big 5 verwys na die 5 groot klimme van die roete van 75 km. Dit vorm ook deel van een van die Cape Epic se skofte.

 

Ek reël met Johann de Bruyn om hom op te tel en ons kom so net na 06:30 by Imbuko aan. Die wind waai ‘n snot skoot, maar verder lyk die weer goed.

 

Die wiele begin op die kop 07:00 rol. Aanvanklik is dit afdraand en dan op ‘n redelik gelyke teerpad tot op 3 km en dan begin die eerste klim vanaf ‘n hogte van 140 meter. Ons klim oor die volgende 12 km na 749 meter, al teen die hange onder Du Toitskloof pas. Dit is ‘n gemiddelde van 50.75 meter se klim per km gery! Die paaie is hier meesal ou bosboupaadjies. Die eerste 3 km is redelik en ons klim net 60 meter. Oor die volgende 8 km klim ons 530 meter, ‘n gemidelede van 66 meter per km.  Dit is rof is enige taal! Verder waai die wind meeste van de tyd reg van vooraf! Dit neem my 1:30 om die eerste 15 km af te lê. Van die bopunt, net onder waar die pas oor die kruin gaan, daal ons oor 4 km af na 372 meter en die eerste waterpunt. 

 

Wat afgaan, moet weer opgaan en ons begin sommer onmiddelik weer klim. Die wind is darem nou van agter! Ek het ‘n probleem met my ketting, wat eintlik vervang moet word, en die val elke nou en dan af. Ek moet dan maar stilhou en dit weer opsit. Die klim is 4 km lank en ons styg 300 meter. Dus omtrent 75 meter per km. Dit word al erger! Dit neem my 45 minute om die 4 km af te lê. Na 2:35 het ek net 24 km gery. Dus ‘n gemidelde van 8 kpu! Die paadjies is hier oor die algemeen “single tracks” wat spesiaal vir fietsry uit gelê is.

 

Oor die volgende 7 km daal ons weer 460 meter., reg vir die volgende klim! Dit is 13 km lank met ‘n “dip” na 4 km en ‘n total styging van 560 meter. Ons is nou redelik hoog op teen die Lemietberg net agter Wellington. Vanaf 44 tot 51 km daal ons weer ‘n vinnige 550 meter oor 7 km. Ek het agter gekom dat my ketting probleem minder ernstig is indien ek ‘n redelik spanning op die ketting handhaaf. Dit het tot gevolg dat ek harder as normal moet trap, maar dit help om die frustrasie van ‘n ketting wat gedurig af val, te beperk. Nou het ons darem al drie van die Groot 5 agter die rug. Totale afstand staan op 51 km en ek ry al 5:15. Ek kry dit net nie reg om my gemiddelde spoed bo 10 kpu te kry nie!

 

Ons is nou in die meer bekende deel van Welvanpas en die paadjies teen Groenberg se hange net bo Val du Charon. Hulle het dit egter goed gedink om ons op te laat ry waar ons gewoonlik af kom. Dit was nogal ‘n uitdaging met die gevolg dat daar heelwat “gestoot” is in plaas van net te ry. Dit neem 40 minute om 5 km te ry! Ander kant af is daar baie los gruis met die gevolg dat ek ook maar stadig die bult af ry. 

 

Onder in die vallei verminder die klim voor ons die aanloop na die laaste klim begin. Die bopunt van die klim is redelik hoog op teen Beulah se bult, maar ons pak hom aan met dieselfde pad waar ons na vanoggend se eerste klim af gekom het. Ons klim dan van 60 km en 215 meter na 508 meter oor ‘n afstand van 11 km. Heel skaflik aan die einde van so ‘n dag! Daar is ook ‘n lekker “dip” van 65 na 68 km. Die draaipunt is op 71 km en dan is dit 4 km afdraand Imbuko toe! Ek voel heel self voldaan dat ek hierdie uitdgaing suksesvol agter die rug gekry het.

 

Totale tyd 7:46; afstand 75.5 km; klim 2,768 meter en ry teen ‘n gemiddelde spoed van 9.7 kpu. Ek eindig 162 uit 168 deelnemers wat klaar gemaak het. Daar het net drie persone ouer as 60 die wedren voltooi en ek was die derde een. 





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking