Saterdag 30 Oktober 2021

Oranje Avontuur Dag 8

Die het weer omtent heelnag gereent en hard ook. Toe ek die vorige aand in my tent kom, vind ek dat my kampbed en slaapsak albei klam is. Ek besluit toe om sommer in my klere bo-op alles te slaap. Gelukkig was dit nie te koud nie en toe dit koeler raak was die slaapsak darem so dat ek onder dit kon lĂȘ.

 

Die dag lyk goed vir fietsry en na ontbyt en oppak val ons teen 07:18 weer in die pad. Ek het vir ons ‘n lekker alternatiewe roete vanaf Ha Moqalo na ‘n punt naby Aalwynskop, waar die teerpad die rivier kruis, uitgewerk. Ongelukkig was die roete verkeerd om afgelaai, met die gevolg dat my Garmin my elke keer terug Ha Moqalo wil neem. Ons identifiseer die roete op Komoot op my selfoon  en begin ry. 

 

Na so 4 kilometer sien ons ‘n paadjie deur die veld, wat lyk of dit ‘n kortpad kan wees en ry daar af. Die paadjie begin egter baie gou parallel met die grootpad loop en na ‘n verdere 3 kilometer is ons terug op die grootpad. Tydens die rit kry ek dit reg om my ketting, wat in elkgeval gedaan is, te breek. Ons herstel dit gou, en ry aan. My ketting is egter nou te kort en ek kan dus nie my laaaste twee klim ratte gebruik nie. Op die profile van die pad wat ons ry is dit gelukkig nie ‘n probleem nie. 

 



Die pad wat ons volg is al teen die kontoer van die berg met ‘n paar redelike klimme en so elke nou en dan ‘n lekker afdraend. Die oppervlakte is redelik rof, maar werk goed met ons fietse se groot wiele. Ons kontroleer so elke nou en dan met Komoot dat ons nog op die regte roete is. Ons kry ook gereeld ‘n mooi uitsig oor die Sengu. Ons kom ook op ‘n brug af wat verspoel het. Gelukkig is daar darem genoeg oor sodat ons met die fietse daar kan oor ry.

 



Na 5 ure se ry sien ons ‘n brug oor die rivier. Toe ons daar kom sien ons dit is die ou enkelbaan padbrug. Ons ry oor en neem ‘n paar “selfies’. Ons kan ook die nuwe padbrug so ‘n entjie verder af sien. Ons ry daarheen kry ook vir Nico-hulle daar. 

 


So eindig ons fietsrit langs die Sengu/Oranje. Ons het op die ou ent net omtrent 50% van wat osn wou trap, getrap as gevolg van die weer en nou teerpaaie, maar dit was voorwaar ‘n besonderse ondervinding. Lesotho het sy naam van “The Mountain Kingdom” beslis aan ons bewys. 

 

 

Totale afstand vir die dag 65.84 km; tyd 5:49:50; klim 1,234.

 

Totale afstand getrap 241.15 km; totale tyd 25:21; gemidelde spoed 9.51 kpu; klim 6,983 meter teen gemiddeld 28.96 meter per kilometer.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking