Sondag 27 Augustus 2023

Trans Baviaans nommer 9

Na verlede jaar se “no show” as gevolg van Sue se siekte en die slegte weer, was ek reg vir Trans Baviaans nommer 9. Johann het intussen vir Annemarie en Lisa ingetrek sodat ons nou vier in die span was. Ons het ‘n paar oefen rite gedurende Junie en Julie in gekry en was reg om die twee “newbies`’ te wys hoe dit gedoen moet word.


Danie Kotzé tree op as ondersteunings bestuurder en ons val Vrydagoggende net na 09:00 in die pad. By Johann konsollideer ons. Egbert Roberstson en sy broer ry ook, dus is ons nou twee voertuie en 8 mense. Egbert-hulle word deur Carien, sy vrou en Fred Lowe ondersteun. Langs die pad geniet ons middagete by Diesel en Crème in Barrydale. Ons kom net voor 18:00 op Willowmore aan en nadat registrasie afgehandel is en ons huoers vir waterpunt 2,3 en 4 ingegee het, vertrek ons Marlu toe waar ons gaan oorbly. Ons wou eers by Sandkraal, waar ons slaap, aangaan oppad Marlu toe, maar mis die afdraai in die donkerte. Na ‘n lekker aandete is dit Sandkraal toe. Dit is nou pik donker en ons kry eers die huis met die tweede  poging. Saterdagoggend is ons weer Marlu vir ontbyt. Oppad terug is dit eintlik ongelooflik hoe duidelik Sandkraal se huis op die hewel is. Dit is amper moeilik om te glo dat ons die vorige aan so gesoek het!


Na ‘n 07:00 ontbyt, vat ons die pad Willowmore toe. Na ‘n 350ml koppie koffie maak ons reg vir die wegspring. Ek het probleme met my Brookes saal, maar ons kry dit darem uitgesproteer met ‘n paar “cable ties”. So 09:30 se kant beweeg ons na die wegspring toe.






Op die kop 10:00 begin die wiele rol. Die temperatuur wissel so tussen 16 -19 grade Celsius. Na 2 uur se ry daal ons met Nuwekloofpas af, die Baviaankloof in. Waar ons ‘n ligte briesie van voor gehad het, is dit nou redelik stil. My agterwiel het oppad ‘n bietjie “sealant” gespoeg, so ek kan nie wag vir waterpunt 1 by Vero’s Restourant nie sodat ek ‘n bietjie meer lug daar kan in kry.

Ons bereik dit na 3 uur en 52 km. Na ‘n paar verversings en 9 minute se stop, val ons weer in die pad. Die temperatuur het in tussen tot 28 grade Celsius gestyg! Van hier tot by waterpunt 2 is daar geen noemenswaardige klimme nie en behalwe vir ‘n paar klein “knoppies” daal ons meeste van die tyd. Wanneer die roete gery word, besef mens dit nie, maar wanneer jy na die profile kyk, sien jy dat dit die geval is. Na 5:07 uur en 92 km bereik ons waterpunt 2. Nadat almal iets ge-eet en gedrink het, stoot ons weer aan. Ons vertoef 14 minute. Die twee dames hou goed by. Ons is veral be-indruk met Annemarie, wat in die aanloop na die wedren ‘n bietjie siek was. Sy toon nie juis enige ernsige nagevolge nie. 




Na ‘n kort klimmejtie net na die waterpunt, is dit weer punt in die wind en meesal bult af. Ons daal van 433 meters na 281 oor die volgende 21 kilometer. Ons is nou in die Baviaanskloof Natuur Reservaat en die natuurskoon is iets besonders. Ons is egter hier besig met ‘n wedren en op 114 km begin die eerste ernstige klim, die Grasnekpas. Wanneer dit gery word, voel dit soos ‘n kwaai klim. Ons klim van 281 meter tot by 480 oor ‘n afstand van 4 kilometer. Op ‘n Garmin profile lyk dit na ‘n “knoppie” terwyl dit in realiteit ‘n stewige klim is. Op 125 km en na 7:10 bereik ons waterpunt 3. Hier vertoef ons 19 minute, sit ons ligte op en maak reg vir die ergste water kruising van die Baviaans. ‘n Afstand van ongeveer 400 meter waar die rivier in die pad af loop. Die eerste gedeelte is nie baie diep nie, maar die laaste 20 meter kom tot ongeveer by my knieë. Johann het besluit om sy sokkies voor die kruising uit te trek en stop dus net daarna om dit weer aan te trek. Dit help darem so ‘n bietjie om die voete droeër te hou.


Die temperatuur is nou weer af na 12 grade Celsius. Hierna is dit ‘n gemaklike rit tot by die ”Fangs”.  Op 126 km en na 7:40 in die saal, breik ons die eerste van die “Fangs”. Die is twee kort kwaai klimme van 300 meter oor net meer as ‘n kilometer elk. Hierna is daar so ‘n 2 kilometer voor ons die Holslootpas, of wat die MAC (Mother of all climbs) genoem word, aanpak. Dit is op 133 kilometer en ons is nou al 8:20 aan die trap. Dit neem my 50 minute om die 5 kilometer tot by die parkeerplek, waar ons gereël het om vir mekaar te wag, af te lê. Ek wag 20 minute voordat die groep volledig is. Lisa sukkel op die stadium baie en ons moet vir haar wag om by ons aan te sluit. Ek het ook probleme ondervind met my ketting wat ‘n paar keer af geval het sodra ek die boonste ratte gebruik. Ons bereik Bergplaas na 9:55 se trap! Hier is daar lekker warm sop en in seker gevalle trek van ons ook droë klere aan of nog ‘n warm baadjie. Ons vertoef 35 minute. 



Nou volg Combrinkpas bergaf en dit is rof, veral in die donker! Bergplaas was op 142 kilometer en dit neem my 30 minute om die 10 kilometer tot onder af te lê. Hier wag ons weer vir Lisa om by te kom. Nou is daar “rolling hills” tot by Hankey en waterpunt 5. Hierdie is ook ‘n baie mooi gedeelte van die Trans Baviaans, maar in die donker kan ons dit nie regtig wardeer nie. Ons tel ‘n groep deelnemers op en ry saam met hulle. Na ‘n ruk kom ek agter dat die ander nie deel van die groep is nie en ry stadiger sodat hulle my kan inhaal. Ons bereik die pakhuis in Hankey waar waterpunt 5 is na 12:18 en 176 kilometer. Fred wag hier vir ons. Ek trek droë sokkies en skoene aan. Ons val na 23 minute weer in die pad. Die temperatuur het in tussen na tussen 9 en 11 grade Celsius geval. Tussen hier en waterpuint 7 is daar nie die “never ender” en die onbemande kontrole punt 6. Ons groep ”verbrokkel” op die “never ender”. Ek en Annemarie ry teen ‘n konstante pas van so 9-12 kpu. Agter hou Johann vir Lisa, wat nou kwaai sukkel, geselskap. Ons gaan oor een van die baie bultjies aan die einde van die “never ender” en Annemarie vra of ons nie vir Johann-hulle gaan wag nie. Ek sê ons wag bo op die l;aaste hoogte. Ons wou net stil hou toe Johann by ons aansluit en ons inlig dat Lisa tou op gegooi het. Nou gooi ons mielies, deur die onbemande kontrole, waar ons ‘n plakker optel, na waterpunt 7. Hier is daar heerlike “jaffles” en ek eet sommer twee! Annemarie beleef ‘n oomblik van “onsekerheid” oor hoe sy voel, maar kom gou daaroor. Met die wegtrek verloor sy haar balans en val oor ‘n wortel in die grond! Gelukkig kry net haar “ego” seer! 


Daar is nog 23 kilometer oor met net die “mini MAC” en die laaste stukkie langs die treinspoor oor. Ons ry ‘n goeie pas. Dit neem ons 24 minute om die 6 kilometer tot aan die voet van die “mini MAC” af te lê. Nou is daar nog 15 kilometer oor, maar die “uitmergelend” stuk langs die treinspoor, lê voor. Met nog 6 kilometer oor, begin ons die “single track” langs die treinspoor. Johann ry voor, dan Annemarie en ek agter. Dit neem ons 30 minute om die laaste stuk te voltooi. 




So eindig my 9de Trans Baviaans met ‘n totale tyd van 16:52. ‘n Baie lekker wedren teen ‘n baie gemaklike pas. Ons tyd was nou nie te wonderlik nie, maar die “pas” was wel! Die kameraderie was uit die boonste rakke!