Dinsdag 30 April 2019

2019 Erioca Classica

Soos gewoonlike was die Eroica gesekeduleer om ‘n week na die CTCT plaas te vind en soos voorheen op die grondpaaie in die omgewing van Montagu. 

Ek het vir Sue oortuig dat ons ‘n naweek daarvan moet maak met die gevolg dat ons Vrydagmiddag deur gery het Montagu toe. Ons arriver net na 17:30 en ek gaan registreer voordat ons aan klok by Squirrels Gastehuis, waar ons die naweek gaan deurbring. Registrasie verloop redelik glad en ons is net na 18:00 by die gastehuis. Nadat ons uitgepak het, besluit ons om sommer om na  Rambling Rose te stap en daar aandete te gaan nuttig.

Die Classica, wat 135 km lank is, is veronderstel om 07:30 te begin en ek is net na 07:00 by die wegspring. Dinge gaan egter redelik rustig en ons kom eers 07:50 weg! Ek handhaaf ‘n redelike pas en is na ‘n uur se ry aan die voet van Oubergpas. Alles gaan goed tot bo-oor die pas na 28.5 km, toe ek daardie gevreesde gevoel kry van ‘n wiel wat te min lug in het. Papwiel nommer een! Dit neem my 7 minute om weer aan die gang te kom. Na ‘n hele paar kilometer kom ek agter dat die wiel weer besig is om lug te verloor. Na ‘n verdere 25 km sedert my eerste papwiel, stop ek vir papwiel nommer 2! ‘n Italianer, wat by die reelings van die wedren betrokke is, stoo om my te help. Na ‘n verdere 10 minute is ek weer aan die gang, maar o-wee binne vyf minute het ek papwiel nommer 3! Die problem is dat ek nie die wiel styf genoeg gepomp kan kry met ‘n handpomp nie. Die Italianer help my weer en gee ook vir my ‘n splinter nuwe binneband. Die volgende waterpunt is nie te ver nie en ek ry redelik versigtig tot daar  met die hoop dat hulle ‘n behoorlik pomp sal hé sodat ek die wiel hard genoeg kan pomp. Verlede jaar het die wiele 9 bar gepomp en geen problem gehad nie. Vanjaar het ek, vir ‘n onverklaarbare rde, besluit om die wiele nie so hart te pomp nie en nou betaal ek die prys! 

Ek haal gelukkig die waterpunt sonder enige verdere problem en hulle het ook ‘n pomp. Ek pomp albei wiel na 9 bar en dit is toe die einde van dié probleem. Nadat ek lekker ge-eet het, val ek weer in die pad. Totale tyd by waterpunt 2 was 16 minute. Hierdie waterpunt is op 65 km en op ‘n hoogte van 899 meter. Oor die volgende 20 km klim ons, geleidelik, 300 meter. Dit is dus moeilik om ‘n goeie pas te handhaaf en ek besef ek gaan heelwat langer as verlede jaar se 5:11 ry.

Ek bereik die teerpad na 5:28 en 85 km. Ek is dus met nog 50 km oor al reeds 17 minute langer aan die gang as verlede jaar. Van hier af is dit egter heelwat makliker want dit is teerpad tot op die einde met twee lekker lang afdraendes. Na ‘n verdere  halfuur en 12 km, is ek by die laaste waterpunt. Hier is lekker eetgoed en koffie. Ek vertoef 20 minute voordat ek dit reg kry om myself weg te trek van die lekker kos en rus in die koelte om weer aan die gang te kom. 

Daar is nog 40 km oor, maar daar is gelukkig geen ernstige bulte oor nie. Dit neem my 1:45 om hierdie laaste 40 km af te lê. Ek haal 'n groep ryers net voor ons die dorp binnegaan, in en ry saam met hulle tot by die einde. 

Die aand na die wedren word ons onthaal met ‘n heerlike Italiaanse ete wat in die ou KWV gebou, waar die wedren begin het, voorgesit word. 

So eindig nog ‘n Erioca, voorwaar ‘n besondere tipe wedren met sy eie unieke uitdagings.


2019 Cape Town Cycle Tour (Argus)

Ek het op 10 Maart aan my 28ste CTCT deelgeneem. 

Ek het my nommer die Donderdag gaan haal en het beplan om van die huis na die wegspring met my fiets te ry. Ek het by Danie Kotzé verneem wat sy planne was en hy sê toe hy gaan met MyCiti na die wegspring ry. Ek het besluit om dieselfde te doen en ons het mekaar 05:15 by die terminus ontmoet. My wegspring tyd was 06:57. En ons was net na 06:15 in die stad.

Dit was my eerste wedren na my motorfiets ongeluk op 13 November 2018, wat my vir 8 dae in die Milnerton Mediclinic se Intensiewee Eenheid laat beland het. Die gevolg was dat ek maar bra versigtig was. Die versigtigheid het my gereeld na die agterkant van die bondels laat terugsak en wanneer ek my kom kry ry ek om my eie. Dit het natuurlik nie te lekker gewerk met die wind wat op die dag gewaai het nie. Teen die tyd wat ons deur Simonsstad gery hethet ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek gaan sukkel om in onder 4 ure klaar te maak.



Ek het geen probleme tydens die rit gehad nie en het eintlik baie lekker gery, net nie hard genoeg probeer om by die bondels te hou nie. Elke nou en dan het daar ‘n bondel by my verby gekom en wanneer ek my kom kry ry ek weer alleen en het hulle vir my weg gery.

Dit het vanaf die draaipunt by die afdraai na Kaappunt beter gegaan, maar teen daardie tyd was ‘n sub 4 uur reeds verby. Ek het ‘n goeie pas oor die tweede helfte gehandhaaf en heelwat minder tyd verloor as oor die eerste helfte. Ongelukkig kon ek nie die verlore tyd opmaak nie en voltooi vir die eerste keer die wedren in meer as 4 uur! My finale tyd was 4:02 en ek eindig 5,203 uit 23,127 van 35,000 wat begin het, wat die wedren voltooi.