Woensdag 17 Mei 2023

36ONE nommer 9

Almal ouer as 70 jaar kan verniet vir die 36ONE inskryf. Ek neem aan borge respekteer die deudringends vermoeë van enige 70-jarige person wat 36ONE kilometer in 36.1 uur wil ry en dat daar ook darem ook nie te veel van ons sal wees nie. Wel ek is een van hulle en laat nie so ‘n geleentheid maklik verby gaan nie, dus is ek in vir 2023 se 36ONE op 12 Mei 2023.

 

Johann de Buyn was ook van plan om te ry, maar sukkel nog mt sy skouer nadat hy die derde laaste dag op die Epic geval het. Ek het toe besluit om vir Danie Kotze te vra of hy nie wil saam gaan nie, dan kan hy sommer as ondersteunings bestuurder optree. Ons vertrk dus Donderdag 11 Mei so net na 10:00 uit die Kaap. Dit is trietserig en nat! Die weervoorspelling vir Oudtshoorn lyk ook nie te belowend nie, alhoewel die reënval liggies gaan wees en die minimum temperatuur darem net 9 grade.

 

Ons het so net voor 18:00 in Oudtshoorn aangekom en na ‘n pizza redelik vroeg in die bed gekom. Ek het vir ons ontbyt van eiers, spek, sampioene en brood voorgesit en daarna is ons na Kleinplasie om te registreer. Hier loop ek ‘n paar ou vriende raak wat ook vanjaar weer gaan deelneem. Ons eet middag ete by Beans about Coffee en gaan rus dan in afwagting van die wegspring. Dit reën heel oggend redelik deurdringend, maar hou so elke nou en dan op vir so ‘n paar minute. Die hoop beskaam nie! Ons vertrek net na 14:00 na Kleinplsie toe vir die wegspring. Dit reën dit nie meer nie en die vooruitsigte vir goeie weer redelik goed. Die wolk sit hoog en lyk nie dreigend nie. Die vraag is natuurlik, wat het al die reën aan die pad oppervlakte gedoen?

 

 So net voor 15:00 begin ons naderstaan vir die wegspring. Op hierdie staium lyk die weer goed. Bewolk, maar geen reën nie. Die eerste paar kilometer is maar altyd redelik rustig. Alhoewel dit nie reën nie, is die pad redelik nat. Op 6.5 kilometer draai ons regs net voor Buffelsdrift Game lodge. Nou klim ons vir 10.5 kilometer. Op 18.5 kilometer draai ons weer regs in die rigting van Dysseldorp. So elke nou en dan val daar ‘n paar druppels, maar die lug lyk redelik oop vorentoe en die pad is nie te modderig nie. Ek en die ryer langs my begin gesels en dit blyk dat hy Pieter Jansen van Rensburg van Parys is, maar hy het ook ‘n plek op Oubaai. Ons ry ‘n ruk saam en gesels baie lekker. Op ‘n kol verloor ons mekaaar, maar ons paaie sou nog ‘n paar keer voor die einde weer kruis. Ons is albei nimmer einders! Op kilometer 26 draai ons regs op ‘n plaaspad. Ons is weereens gelukkig aangesien die oppervlakte sanderig is en dus redelik ferm is, wat ry omstandighede baie bevoordeel. Na 31 kilometer kruis ons die De Rust/Oudtshoorn pad. Ons is nog steeds op goeie plaaspaaie. Op kilometer 34.5 sluit ons weer by ‘n distrikspad aan, wat na ‘n verdere 1.5 kilometer wes draai en op 44 kilometer weer suid wes. Die roete neem ons kruis en dwars oor die Klein Karoo! Op 55 kilometer klim ons op die pad wat ons deur die Hotomskloof neem en na waterpunt 1 wat ons na 55 kilometer bereik. Ek is nou al 2:53 aan die gang, ‘n hele 22 minute langer as verlede jaar. 

 

Die weer het tot nou goed gehou en baie belowend gelyk met groot oop kolle in die lug. Na 3 minute rol die wiele weer. Intussen het daar ‘n redelike sterk suid wester opgekom en die vlae wapper in die lug en daar val ‘n swaar reëbui! . Ons klim weer vir so 3 kilometer, waarna die pad links draai, wat reg teen die wind sal wees. Gelukkig is ons nou teen die regterkant van die hang en waai die wind bo-oor ons en die reën het opgehou. Toe ons bo kom, is daar, wonder bo wonder, nie veel meer van die wind oor nie. Op 71.5 kilometer draai ons links op die Heimersrivier pad. Van hier tot net voor Louvain is dit ‘n geval van rooi ligte wat oor ‘n bult verdwyn en wanneer ons by die bopunt kom, sien ons weer die rooi ligte, maar nou hoër. So hou dit aan tot op 95 kilometer, waar ons regs draai Louvain toe. Op 98 kilometer word ons afgelei op ‘n “single track” om ons onder deur die R62 te neem. Aanvanklik gaan dit goed, maar hoe later, hoe kwater! Die pad raak al meer modderig. Teen die tyd wat ek by Louvain aan kom klink my ratte vreeslik. Gelukkig is daar ‘n tuinslang, maar ons moet in ‘n tou staan om ‘n beurt te kry om ons fietse skoon te spuit. Verder word ons in gelig dat die volgende 7 kilometer nog erger is! Ek het nou 101 kilometer ge ry en is al 6:58 aan die gang, 45 minute langer as verlede jaar. Die nat toestande het darem sekerlik iets daarmee te doen. Dit is waterpunt 2 en kontrole punt 1 en ek kry vir Danie hier. Ek neem ‘n ekstra warm baadjie, ruil handskoene en neem my spaar battery uit die sakkies wat hy vir my bring. Na 34 minute en twee koppies sampioen sop, pak ek die volgende skof aan. 


 

Aanvanklik is die pad nie so slegs as wat ek verwag het nie, maar op 116 kilometer moet ons deur ‘n geploegde land gaan waar die modder so dik is dat ek my fiets ‘n ent moet sleep aangesien die wiel te dik gekoek is van die modder. Ons kruis die R62 op 125 kilometer en daal deur die Paardekloof af na die Heimerrivier pad en waterpunt 3 op 134 kilometer. Na ‘n paar glasies Coke en  stukkies piesang brood, val ek weer in die pad na 9 minute. Ek sien weer vir Pieter Jansen van Rensburg hier. Ons ry nou met ‘n baie rowwe plaaspad om vorentoe by die Heimersrivier pad aan te sluit. Ons gaan, onder andere, deur ‘n stroompie. Alhoewel ek sien van die ouens trek hulle sokkie uit en stap deur, het ek my nog nooit deur ‘n water stroompie laat terug hou nie en ek besluit om deur te ry. Ongelukkig loop die stroompie in die middel ‘n bietjie sterker as waarvoor ek gereed was! Ek verloor my balans en land in die water. Gelukkig is net my bene en handskoene nat. My reën baadjie het sy werk gedoen en my lyf is nie nat nie. Met die val het ek my knie gestamp en ek kan hom nou voel. Weereens is die geluk aan my kant en ek kan sonder te veel pyn aan ry. Die Heimersriveir pad van hier tot by Zebra is nie juis veel anders as die deel wat ons vroeër gery het nie. Dit weereens ‘n geval van bult op en bult af en gewoonlik is die volgende bult hoër. Die weer is goed en ek kan selfs die maan sien, so dit lyk belowend vir die res van die wedren. Op 142 kilometer word ons weer oor plaaspaaie en langs die treinspoor, onder deur die R62 geneem. Dit is minder modderig hier as tydens die vorige episode! Daar was een jaar ‘n waterpunt net nadat ons oor ‘n rivier so ‘n paar kilometer na Zebra is, maar hulle het duidelik besluit dat dit nie nodig was nie. Ek moet maar voort sukkel tot by kilometer 155 waar ons waterpunt 4 kry. Hier stop ek vir 7 minute. Alhoewel ek nou al 1:04 agter verlede jaar se tyd is, voel ek heel goed. Dit bly nog steeds ‘n geval van op en af met ‘n paar afdaendes wat skrik vir niks. Iets wat in die donker ekstra gevaarlik is, maar ek oorleef dit.  My hande en voete is nog klam, maar my bene is droog. Ek ry meeste van die tyd op my eie. So elke nou en dan kom daar ‘n paar ryers by my verby. Op 162 kilometer begin ons om in die Kandelaarsrivier vallei af te daal en op 171 kilometer sluit ons by die R328 aan. Nou is dit teerpad tot by waterpunt 5, wat ook kontrole punt 2 is. Ek arriveer hier na 177.74 kilometer en 11:43 se ry. My lig het begin rooi wys en ek ruil dus batterye en gooi die ou battery in die boks met spaar klere wat ek hierna toe laat stuur het. Ek gebruik nie enige van die klere nie, wat seker ‘n tegniese fout was, want daar was nog ‘n lekker warm baadjie in die boks. Ek rus lekker, eet pasta en drink koffie omdat die Milo op is! Na 34 minute val ek weer in die pad. 

 

Van Volmoed af klim ons konstant vir die volgende 25 kilometer. Daar is so hier en daar ‘n afdraend, maar die meeste van die tyd gaan die pad op. Dit sluit ‘n aaneenlopnede klim van 5 kilometer gevolg deur een van 3 kilometer. Na 200 kilometer in jou bene, is dit redelik moordend. Na, wat soos ‘n ewigheid voel, kom ons by waterpunt 6 aan. Ek moet sê ek het gedink die waterpunt kom nooit. Teen 38 kilometer na Volmoed, is dit nogal ‘n lang “stoot”! Ek vertoef vir 8 minute. Elke bult word darem gewoonilk gevolg deur ‘n afdraend en ons daal geleidelik totdat ons die Gouritsrivier kruis. Van hier af is daar weer ‘n baie geleidelike klim oor ‘n afstand van 18 kilometer! Ons klim van 110 meter tot by 230 meter. So die gradiënt is nie moeilik nie, maar meendoenloos! Dan is daar nog so ‘n paar “knoppe” tot by waterpunt 7, net voor die begin van Rooiberg. Na 7 minute is ek weer aan die gang. Ek meet gewoonlik my rite met my Garmin 830 en met my Fenix 6. By die waterpunte neem ek dan die tyd wanneer ek daar aan kom en weer wanneer ek vertrek. Ek het skynbaar die “stop” knoppie van die Fenix 6 gedruk toe ek vertrek het in plaas van “lap”! Dus hou Fenix 6 se rit hier op! Ons kry nou te doen met die die meeste modder sedert vroeg gister aand. Dit is so erg dat ek moet stop om die meeste af te krap en ook ‘n stok by my hou om so in die ry die modder van my bande af te krap. ‘n Baie modderige 5 kilometer, bring ons aan die voet van Rooiberg. My pas wissel so tussen 3.5 en 6 kpu. Dit neem my 1:15 om die 6 kilometer tot bo op die pas af te lê. Ek het selfs so ver gegaan om ‘n paar stukkies te stoot! Daar is deesdae ‘n “onoffisiële“ waterpunt aan die bopunt. Ek vertoef nie lank nie en durf die pad af aan.


Daar is aan die pad gewerk en baie van die rowwe gedeeltes is heelwat beter as vorige jare. Ek moet ook sê dat my hande en gewrigte heel wat beter gevoel het toe ons weer op gelykke grond gekom het. Die stuk tussen die voet van die pas en die Calitzdorp Spa pad is ook minder sinkplaat. Na die “drag” Calitzdorp toe, arriveer ek daar na 282 kilometer en 21:16 uur in die saal. Danie is weer hier en ek gee my lig en reën baadjie vir hom. Hy het egter my sakkie met droëklere en by Louvain vergeet, so ek het geen ander keuse nie as om aan te gaan met wat ek aan het. Ek is darem nie meer nat nie, maar alles is klam. Na 24 minute durf ek die laaste skof aan. Pieter Jansen van Rensburg kom hier aan net toe ek vertrek.

 

Nadat ek so ‘n rukkie aan die gang was, kom ek tot die besef dat ek in die donker gaan klaar maak en dus my lig nodig gaan hé. Ek skakel vir Danie en vra hom om my op die Calitzdorp dam pad te kry en my lig vir my te bring. Hy kry my na so 5 kilometer. Dit reën nie, maar die lug is klam en ek besluit, wyslik, om ook weer my reënbaadjie te neem. Oor die volgende 25 kilometer klim ons van 253 meter tot by 657 meter, met baie min verligting, dus 16 meter per kilometer se klim. Enige iets oor 10 begin styl raak en 16, na 290 kilometer is moordend!  Verder is die pad modderig, met ander woorde ek kan nie opstaan om te trap nie, want dan gly my agterwiel. Dit as gevolg van ‘n konstante gedrup! Dit reën nie hard nie, maar dit hou ook nie op nie! Ek besef dat ek baie gelukkig is dat ek weer my reënbaadjie by Danie geneem het. Indien ek dit nie gedoen het nie, sou ek nie die wedren kon voltooi nie as gevolg van hypertermia veroorsaak sou word deur die reën en koue! Ek het na my 4de 36ONE vir Sue gesê sy moet my skiet indien ek die wedren weer ry. Nou is ek jammer sy het dit nie gedoen nie! Daar kom ‘n ryer by my verby en ek sê vir ek dink ons moet Maandag ‘n sielkundige gaan sien. Geen  normale mens onderwerp jou, vrywillig, aan sulke marteling nie. Ek het die begeerte gehad om 10 te doen, maar vanaand besluit ek 9 is genoeg. Dit neem my 3:26 om die 25 kilometer af te lê. Op 312 kilometer kry ek die tweede laaste waterpunt. Ek kla hier oor my nat handskoene en Carl Heroldt bied my ‘n paar handskone aan wat iemand die vorige aand by Louvain vergeet het. Hulle is nie baie dik nie en ook nie waterdig nie, maar het “inners” en is droog! 

 









Die waterpunt was in die verlede bo-op die volgende bult en ek het gewonder hoekom dit geskuif is. Net na die waterpunt draai ek links op die Kruisriveir pad. Om die draai kry ek drie bakkies in die pad. Ek word gestop en hulle wys my hoe die rivier lyk. Hy loop so sterk dat ek nie eers my fiets daar deur gestoot sal kry nie! Nog twee deelnemers daag op en ons word op die bakkie gelaai en kruis die rivier so. Anderkant word obs afgelaai en ry op ons eie aan. Daar is nou nog twee klimme voor ons regs draai by die Swartberg Natuur Reservaat. Ek het die stuk van die afdraai tot by die begin van die Lategansvlei pad die afgelope paar jaar nog altyd lekker gery en vanjaar is geen uitsondering nie. Ek ry soos ‘n maniak deur die poort en handhaaf ‘n spoed van so 20 en 30 kpu, aangedryf deur suiwer adrienalien, want van energie is daar nie meer veel sprake nie. Al wat ek nou aan dink is die links draai op die teer pad, want dan is daar net 6 kilometer oor huis toe. Ek dryf voort en kort voor lank draai ek links. Die teer pad het nie veel van ‘n skouer nie, en ek moet elke keer links op die grond ry wanneer ek ‘n motor hoor aan kom. Gelukkig is die oppervalkte lekker gelyk. Daar is so ‘n klein bultjie en dan ‘n afdraend, links verby die hospital en die weermag tot op die einde van die dorp waar ek regs draai verby Langenhoven Hoër na die lig onder in die pad wat die indraai na Kleinplasie aandui. Na 28:48:44 kom ek by die eindstreep aan. Dit was voorwaar ‘n ontbering! Ek is dan ook die 3de 70-jarige wat klaar maak! Die teverdenheid en genoegdoening van die vermoeë om so ‘n moeilik wedren klaar te maak, is onbeskryflik. Ek het al ‘n paar keer gesê daar is niks lekker aan die ry van die 36ONE nie, al wat lekker is, is die feit dat jy kan sê jy het deurgedruk. Ek dink nie ek was al ooit in my lewe so na aan opgee soos vandag nie!

 



Sue het my toe nie na 4 geskied nie en Sondagoggend, na ‘n gespek met Fred van Zyl en die manne van Dryland word ek oortuig om wel nommer 10 in 2024 aan te pak! “Some people are suckers for punishment”! Ek merk ook op dat Pieter Jansen van Rensburg wel klaar gemaak het. Die ou doring!










 Hier is 'n foto van Pieter Jansen van Rensburg, wat deur gedruk het en klaar gemaak het as "last man standing"! Welgedaan Pieter!