Donderdag 14 September 2023

Enkel breek

 Op 2 September 2023 stap ek saam met my dogter, Carine en haar man, Henk, van Pakhuyspas na Heuningvlei. Die plan was om Saterdag die 11 km Heuningvlei toe te stap en daar te slaap. Die roete staan ook bekend as die "Donkey Trail" aangesien die mense van Heuningvlei besoekers met 'n donkiekar op die roete vervoer het. Sondag stap ons dan van Heuningvlei na Boskloof, ook 11 km. Henk is bevriend met die seun van Boskloof se eienaar en reël dat David ons bo op die Pakhuyspas aflaai en dan terug ry Boskloof toe, waar ons Sondag klaar maak. Dan braai ons sommer daar sam met hulle.



Nadat David ons 09:10 afgelaai het, begin ons stap. Die weer is baie gunstig, koel oop getrek. Die pad is heel goed, maar die donkiekar sal maar sukkel as gevolg van al die verspoelings na die onlangse groot reën. Ons kan van bo tot onder by Travellars Rest in die vallei afkyk. Ons kan ook sien waar die Bidou Vallei in die verte is alhoewel ons nie die vallei self kan sien nie. 





Daar is heelwat watersroompies en ons stop so elke nou en dan om net die natuurskoon te geniet. Daar is ook 'n rots wat duidelik vir "bouldering" gebruik word met die kenmerkende tekens van ankerpunte wat ingeslaan is. Na so 'n twee uur se stap, stop ons vir verversings en Henk maak vir ons koffie op sy gas stoofie. Die pad is baie op en af en selde gelyk. Daar is ook dele wat besonder klipperig is. Ons het op 900 meter begin en was na 45 minute op 1,002 meter! Nou is ons weer terug by 900 meter. Ons daal af na 845 meter, Klim weer 'n stukkie en daal na 832 meter, dan begin die klim weer tot op 1,010 meter. Van hieraf kan ons Heuningvlei in die verte uitmaak. 'n Gedeelte van die pad is gesment, wat aandui hoe styl dit is. Ons stap die laaste 3 kilometer is 50 minute en kom van 4:22 by Heuningvlei aan. 





Nadat ons ons begasie by die blyplek neergesit het, stap ons na die dame in beheer se huis om te bevestig dat ons aangekom het. Oppad daarheen moet ons oor 'n laagwater bruggie, met omtrent 4 centimeter water stap. Aan die regterkant van die bruggie is daar 'n paar klippe sodat mense kan oorstap sonder om hulle voete nat te maak. Toe ek op die tweede klip trap, wankel hy so 'n bietjie en ek gee nog 'n tree na die volgende klip en daar beweeg die eerste klip verder met die gevolg dat ek my balans verloor. In my poging om die saak te beredder, soek ek vastrap plek langs die bruggie met my regtervoet. Soos die noodlot dit nou wou hé, lê daar toe 'n gladde stuk sement. Ongelukkig tref ek die redelik hoog op en so gou soos nou gee my voet mee en val ek. Met die meegee slag, was ek bewus dat my voet 90% na binne gebuig het. Dit is onmiddelik baie seer en ek gaan sit op die wal. Henk stap na die dame (Dalene) toe en hulle kom terug met verbande. My enkel is onsetend seer, maar ek kan darem op hom trap en dus is daar nie 'n ernstige breuk nie. Ons sukkel aan na Dalene se huis waar sy reël dat die buurman my met sy bakkie na ons slaap kwartiere toe neem. 

Ek neem 'n vinnig stort en huppel aan na die sitkamer waar ek die res van die middag en aand sit. Hier is gee selfoon ontvangs, maar Dalene het 'n sataliet telefoon wat ook net werk wanneer die krag aan is! So tussen die krag onderbrekings deur reël hy dat David my die volgende dag met sy motor sal kom haal terwyl hy en Carine die laaste 11 kilometer Boskloof toe stap. 

Henk en Carine maak vir ons kos en na aandete is ek bed toe. Die volgende oggend eet ek saam met hulle ontbyt en hulle val net voor 08:00 in die pad. Soos hierbo genoem is dit 11 kilometer Boskloof toe. Die pad wat David-hulle moet ry is egter 76 kilometer. dus kom hulle eers na 10:00 daar aan. Hulle het besluit om dit 'n dag uitstappie te maak en die hele gesin het saam gekom. Dit is 'n mooi rit terug en die pad van Heuningvlei na Whuppertal is redelik goed. Net voor Whuppertal draai ons links en ry dan 'n paar kilometer tot by die R364 waarop ons links draai terug Clanwilliam toe.

Die reling was dat ons die middag by David-hulle braai. Carine en Henk kom net na 13:00 daar aan. Die pad van Heuningvlei na Boskloof was redelik toegegroei, maar hulle het die staptog geniet. Ons vertrek net na 15:00. Ek tel my ander begasie in Citrusdal op en is net na 18:30 in Blouberg. Oppad skakel ek vir Mike Smit en vra dat hy net na my enkel moet kyk. Hy bevoel dit en druk hier en druk daar en vra of ek pyn het. Alles lyk egter goed en hy dink daar is iets ernstig gebreek nie. 'n Bietjie rus hoort voldoende te wees. 

Toe ek by die huis kom klim ek onmiddelik op my fiets en ry om die blok. My enkel is gevoellig, maar ek kan fiets ry. Dit is posetief. Maandag reën dit en ek gaan Gym toe. Dinsdag lyk die weer beter en ek is net na 10:00 op my fiets met die mikpunt om 20 kilometer te ry. Die reën kom egter terug en na 10 kilometer blaas ek die aftog. Woensdag ry ek 40 kilometer Duynefontein toe en Vrydag en Saterdag ry ek die Botterberg roete. Op hierdie stadium is ek baie posetief want dit is makliker om fiets te ry as om te loop. Ek is nie eers bewys van die enkel wanneer ek fiets ry nie, maar ek kan nie my voet uit die "cleat" swaai nie. Ek kry dus eers my voet uit die skoen en draai dan die skoen uit.

Donderdagaand besluit ek dat dit darem seker raadsaam sal wees om X-strale te laat neem. Ek wil nie halfpad deur my rit van Beitbrug, wat 2 Oktober moet begin, probleme met my enkel optel nie. Ek en Mike kyk na die X-starle en slaak 'n sug ven verligting want dit is duidelik dat daar geen ernstige breuk is nie. Mike skakel my later die dag en sê dat die verslag van die radioloog wel 'n probleem opgetel het en hy beveel aan dat ek 'n Ortopediese Chirug gaan sien.

Maandagmiddag net na 12:30 stap ek by Dr Andre Heyns se spreekkamers in. In my gemoed vermoed ek dat hy gaan sê hy my eers oor 'n week of so kan sien. Ek besluit om hom te vra om net, op sy tyd, na die X-strale te kyk en my sy opinie te gee. Toe ek sy spreekkamer binne stap lyk dit asof hy vir my gewag het1 Hy nooit my onmiddelik in en kry die X-strale op sy rekenaar. Ek wonder nog steeds hoe hy dit reggekry het, want ek het hom nog nooit van tevore gesien nie en daar is geen rede hoekom hy my besonderhede moet hé nie! Hy wys my die X-strale en toon aan dat daar duidelik wel 'n breuk/kraak links agter is en dan kom die verdoemende woorde: "Meneer jy mag vir 8 weke nie op daardie voet trap nie"! Daar gaan my 2 Oktober vertrek datum by die venster uit! Die probleem is nie so groot dat hy voel hy moet opereer nie, maar ek moet op 26 September terug kom vir nog X-strale en 'n besoek aan hom, dan sal hy finaal besluit of daar enige verdere "werk" op my enkel gedoen moet word. Vir nou sit hy my in 'n "moonboot" en op krukke. Hy wil nie eers hé ek moet self terug huis toe bestuur nie! 

Wat 'n "gatslag"! Ek moet erken dat toe ek daar langs die stroompie bo by Heunigvlei gesit het, het ek myself vereenselwig met die moontlikheid dat ek BB2BB2 sal moet uitskuif. Nou gebeur dit en ek het besluit om op 14 Maart, die Donderdag na die Argus, met BB2BB2 "take 2" te begin!








27 September 2023


25 Oktober 2023


Fiets reg vir die groot rit 25 Oktober 2023