Maandag 22 Januarie 2024

Attakwas nommer 15






20 Januarie 2024 was weer Attakwas dag. Ek en Johann de Bruyn het Vrydag deur gery en aangesien daar ‘n oop kamer by Hlangana Lodge was, het ons daar ingetrek. Aandete was saam die res van ons groep, wat 7 ryers en een bestuurder ingesluit het, by Die Smitswinkel onder in Baron von Rheedestraat. Na ‘n lekker kennismaking met die ander en goeie kos, is ons terug en bed toe.

 

My wegspringtyd was 06:40 in die A-bondel en Johan het gereël dat ons motor met die “schuttle” deur geneem word Groot Brak toe, dus moes ons die motor 06:00 by die “silos” “drop” en dan die 7 km Chandelier toe met ons fietse ry. Alles loop volgens plan en ons kom so 06:20 by die wegspring aan. Die weervoorspelling was vir hoë temperature en ons maak ons reg vir ‘n warm dag in die saal.

 

Ek spring in A weg as gevolg van die 14 Attakwasse wat al reeds voltooi het en nie omdat ek so vining is nie! Die gevolg is dat ek, saam met Hasie Lourens wat sy 17de een doen, heel laaste is teen die tyd wat ons deur Chandelier se hek ry! My doel is om vandag rustig te ry en te kyk hoe naby aan 10 uur ek kan klaar maak. Verlede jaar was my tyd 10:07:41 en in 2022, toe dit ook baie warm was, 10:45. 

 

Aanvanklik ry ek voor Hasie, maar na so 5 km  kom hy by my verby en sien ek hom nie weer nie. Dit neem die vinnige manne van die B-groep so 20 minute om my in te haal. Dryland het gelukkig daardie lelike bultjie, wat na so 10 kilometer gekom het en twee jaar gelede ingesluit is, nou weer uitgehaal. Dit neem my so 1:33 om waterpunt 1 te bereik. Dit is net na 08:00 en die temperatuur is al reeds bo 30 grade! Ek vertoef 3 minute. Die pad na waterpunt 2 is redelik en die dam waar ons altyd verby ry is redelik vol. Wanneer ek hier verby ry dink ek altyd dat die boer hier seker met klippe boer, want daar is niks anders nie. Vanjaar is die veld oortrek met bossies.  Die eerste styl bult op 27 km is rybaar, maar daar is ‘n paar manne wat stoot en nie wil pad gee nie, met die gevolg dat ek verplig is on die laaste paar meter te stoot. Ek “koop” ‘n stukkie grond oor die volgende stuk toe my voorwiel teen ‘n middelmannetjie gly. Gelukkig is net my ego beseer en daar is ‘n paar bloederige skrape aan my been, maar ek is gou weer op en aan die gang. Ek bereik waterpunt 2 na 1:40 en is nou al vir 3:45 aan die gang en die temperatuur begin so aan 40 grade raak. Na 4 minute is ek weer aan die oppad. 

 

Die gedeelte tussen waterpunt 2 en 3 is die moeilikste van die Attakwas. Hier gaan ons deur die Outenikwa Natuure Reservaat en ook die Attakwaskloof. Die natuurskoon is iets besonders, maar daar trek nie ‘n luggie nie en die temperatuur styg met elke pedaaltrap! Die padoppervlakte wissel tussen redelike “jeep tracks”, baie kilpperige gedeeltes en baie styl op en afdraandes. Die af kry ek almal gery, maar daar is paar van die “ops” wat ek verplig is om af te klim en te stoot. My Garmin wys 46.6 toe ek die Attakwaskloof ingaan. By die “king of the Mountain (KOM)” wys hy 52! Van die ouens om my praat van 57 volgens hulle Garmins! Die feit is, dit is vrek warm! Gelukkig het hulle ‘n onoffisiële waterpunt by KOM. Ek maak my bottel vol en gooi water oor my kop, my bors, my rug en my arms. Dit het my 1:17 geneem om die 10 km sedert waterpunt 2 af te lê. Die stop proses neem 4 minute in beslag en dan is ek weer aan die gang.


Dit neem my ‘n verdere 1:05 om die 12 km na waterpunt 3 te ry. Hier vertoef ek amper 10 minute. Ons is nou op 70 km met nog 51 oor. Totale rytyd staan op 5:55 teen die tyd dat ek vertrek en my gemiddelde spoed het afgekom na 11.7. Ek het nog 5 uur oor vir die volgende 51 km, maar ek is vol vertroue dat ek darem so teen 10:15 sal, klaar maak. Daar lê egter nog ‘n paar “knoppe” in die pad einde toe.

 

Van hier is dit meesal baie goeie distrikspaaie en kan ek ‘n goeie pas handhaaf teen die bulte af en oor die gelykte gedeeltes. Die laaste gedeelt van die bult op 75 km klim  ek maar weer af en stoot. Gelukkig is hier skaduwee! Anderkant laat loop ek. Vir een of ander rede het ek dit in my kop gehad dat daar 27 km tussen waterpunt 3 en 4 is. Ek is toe aangenaam verras toe die waterpunt na 17 km opduik! Die 17 km het my 1:30 geneem en ek vertoef 6 minute om af te koel. Ek sal nou moet wikkel, maar die pad einde het darem minder uitdagings, so my spoed hoort op te tel. Daar is egter twee lelike opdraandes, met waterpunt 5 na die eerste een. Ek kry dié bult uitgetrap en kom na ‘n verdere 1:42 by waterpunt 5. My gemiddeld oor die 22 km was darem 13 km. Na 5 minute is ek weer aan die gang. 

 

Terwyl ek so ry oor hierdie laaste gedeelte, onthou ek dat die laaste bult nie so moeilik die tweede laaste een was nie en dit is ook so. Ek handhaaf ‘n goeie pas en my spoed op die gelyker gedeeltes wissel so tussen 15 en 30 kpu. Waar ek teen die vorige bult teen so 4 kpu gery het, kan ek teen die laaste bult so 6 kpu handhaaf. Dan is dit óf redelik gelyk of afdraand tot by die einde. Ek laat wiel en lê die laaste 13 km in 47 minute af, ‘n gemiddelde spoed van 16 kpu. 

 

Na 10:08:19 is oor die eindstreep en so eindig Attakwas nommer 15! Net 62% van die deelnemers het klaar gemaak en ek km 383ste van die 474 wat binne 11 uur klaar gemaak het. 15de uit 23 van deelnemers oor 60!





Vakansie kaskenades


Ek en Leon Erasmus het gedurende die 2022/2023 jaareind vakansie ‘n interessante pad van The Craggs by Plettenbergbaai na Louterwater in die Langkloof, ontdek. Ons het toe besluit dat ons die pad moet aandurf. Die plan was dat ons by Nature’s Valley begin en in Louterwater klaar maak. Karen, Leon se vrou, sou ons dan daar kry met hulle motor. Planne kan egter verander en Karen moes terug huis om the gaan werk. Ons besluit toe om net in en uit te ry en te kyk hoe ver ons kom. Die hele rit n een rigting is 66 kilometer. 

 

Ek reẽl met Leon dat ek 17 Desember Nature’s Valley toe kom en dan ry ons 18 Desember. Aangesien ek ‘n bietjie stadiger as hulle is, ry ek met die motor na The Craggs en begin 06:25 trap. Leon en ‘n paar ander mense ry vanaf Nature’s Valley, kry vir Philip Hanekom by The Craggs en ry dan verder met die hoop om my langs die pad in te haal. 

 

Ek ry lekker rustig en die weer is heel aangenaam. Dit is heelpad opdraand tot bo op die bult waar mens afdwaal na Soetkraal. Dit is 17 kilometer vanaf The Craggs tot bo op die Soetkraal bult. Dit neem my 2:30 om die 17 km af te lê, ‘n gemiddelde spoed van 6.8 kpu. Teen die tyd wat ek daar aankom is daar nog geen sig van die ander manne nie. Ek hou stil en stap deur die bosse om te kyk waar hulle is. Ek sien vir Philp Hanekom teen die laaste bult op sukkel. Na ‘n rukkie kom Leon daar en toe Philip. Die ander het almal omgedraai. Hulle het ook band probleme gehad, wat verduidelik hoekom hulle so lang geneem het. 

 



Ons pak die pad af na Soetkraal aan. Die pad is so rof dat dit my ‘n uur neem om die 8 km afdreand af te le!Onder by ‘n stroompie kry ek vir Philip. Hy is “op”! Ek ry aan om te sien of ek vir Leon kan kry. Die pad gaan weer op, is styl en rof en ek is genoodsaak om af te klim en te stoot. Na ‘n entjie kry en vir Leon, wat oppad terug is. Ons ry saam tot by Philip. Daar maak ons waterbottels in die stroompie vol en pak dan die pad terug aan. 

 


Ek ry ‘n entjie maar dan raak die oppervlakte, waar ons vroeër afgekom het, te styl en rof en ek klim af en stoot. Dit neem my ‘n uur en ‘n half om die 5 kilometer af te lê tot bo-op die “Soetkraal” bult waar ek vroeẽr vir Leon-hulle gewag het! Van hier af is dit meer redelik maar dit neem my nogtans ‘n uur en ‘n half om die 17 km na The Craggs te ry. 

 

Die eskepade van 47 km het net kort van 7 uur geneem, ‘n gemiddelde spoed van 6.8 kpu! Ons het toe nie Louterwater gehaal nie! Of ons ooit sal terug kom om dit te probeer is ‘n ope vraag. Na aanleiding van die toestand van die pad en dat daar nog 29 km oor was van waar ek omgedraai het, is dit miskien een wat ons maar sal moet oorsien.

 

Maandag het Leon vir my Stinkhoutkloof gaan wys. Dit was regtig ongelooflik mooi en het ‘n bietjie “hike-a-bike” ingesluit. 

 



Ek vertrek net voor 12:00 en ry na Shanzeley Gasteplaas in die Langkloof, waar ek die volgende twee nagte gaan deurbring. Ek het vroeër ‘n Voortrekker roete wat van Hoekwil na Louvain toe loop ontdek en besluit ek wil dit verken. Die roete is ook al deur Dryland vir die Pioneer Trek gebruik. In my navorsing het ek gesien daar loop ‘n pad van Shanzeley agter die berg langs wat by die Louvain roete aansluit.

 

Die volgende oggend is ek net na 07:00 weer in die pad. Na ‘n rukkie kom ek agter dat ek my waterbottel by die huis vergeet het, maar ek het my rugsak op en daarin is twee liter water. Na 5 kilometer kom ek by ‘n plaas uit. Ek doen navraag oor die pad wat ek wil ry en word baie duidelik in kennis gestel dat ek besig is om te oortree en onmiddelik moet terug draai. Ek maak toe maar so en gaan sommer by my blyplek aan om my waterbottel te kry. Daarna volg ek die N9 Louvain toe. 

 


Nadat ek eers gou gekyk het hoe lyk die stop op Louvain waar waterpunt 2 van die 36ONE is, klop ek aan by ontvangs. ‘n Baie vriendelik man verduidelik my mooi hoe ek moet ry en stel my in kennis dat ek die pad na Shanzeley mag ry. Teen die tyd het ek al 20 km gery en is al vir 2 uur aan die gang. Ek is daar weg en vind die pad, wat ook ‘n 4x4 roete is, baie maklik. Daar is aanvanklik ‘n paar styl gedeeltes wat my genoodsaak om af te klim en te stoort maar die uitsig toe ek bo op die eerste bult kom maak dit die moeilte werd. Ek merk ook die pad wat links na Shanzeley toe loop, op. Dit neem my ‘n uur en ‘n half om die volgende 6 km af te lê. Op 3.5 km het ek die mooiste uitsig oor die Langkloof in die rigting van Herold. Na nog so ‘n eintjie het ek die mooiste uitsig oor valleie in ‘n Westelike rigting en dan bo op die laaste bult weereens ‘n asemrowende gesig in ‘n Suid Oostelike rigting. 

 







Die pad is so rof dat ek groot dele van die afdraand moet stap. My spoed op die afdraand wissel van 3-20 kpu! Op 34-kilometer besluit ek dit is genoeg en draai om. Op hierdie stadium is ek so ongeveer 7-kilometer van Sewepasse teerpad, wat my mikpunt was. Ek is nou al vir 4:30 aan die gang en moet nog by die huis kom.

 






Die terugtog is maar teen dieselfde slake pas, maar nogtans baie interessant en verreikkend. Toe ek bo-oor die berg by die Shanzeley pad kom, volg ek hom eder as om terug na Louvain te gaan. Dit is ‘n heel interessante pad en ek sien gereeld swart mense tussen die bosse. Nie baie nie, maar genoeg! Elke hier en daar is daar ook ‘n rugsak, wat duidelik aan hulle behoort. Na ‘n ruk kom ek op ‘n gesluite hek af, maar dit was nog nooit ‘n probleem nie en ek klim oor. Teen ‘n lang bult af kom ek weer van die mense tee wat langs die pad sit en wag. Daar lê netjiese gesnyde bossie langs die pad. Ek stop vra wat doen hulle. Blybaar is die plante wat hulle “oes” en wat uitgevoer word. Toe ek onder by die plek kom waar ek vroeër die weg gejaag is, is daar niemend nie en ek maak “gatskoon” voordat ek weer gestop word.

 

Ek kom na 7:40 in die saal, waar tydens ek net 55 km gery het, by die huis. Dit was weereens ‘n baie interessante dag.

 

Die volgend dag ry ek Kleinmond toe om ‘n paar dae saam met Lizanne en Wynand-hulle daar deur te bring. Daar het ek heelwat op die plaaslike MTB Klub se roetes gery, maar ook Vaderstelpas aangedurf. Ek het ook weer die Kleinmond-Hermans-Stanford-Tesellaarsdal roete gery. Laas genoemde was nogal ‘n ondervind met weer wat droog begin het, toe reën dit, toe weer droog, weer reën en op einde kom ek droog by die huis aan!