Maandag 22 Januarie 2024

Attakwas nommer 15






20 Januarie 2024 was weer Attakwas dag. Ek en Johann de Bruyn het Vrydag deur gery en aangesien daar ‘n oop kamer by Hlangana Lodge was, het ons daar ingetrek. Aandete was saam die res van ons groep, wat 7 ryers en een bestuurder ingesluit het, by Die Smitswinkel onder in Baron von Rheedestraat. Na ‘n lekker kennismaking met die ander en goeie kos, is ons terug en bed toe.

 

My wegspringtyd was 06:40 in die A-bondel en Johan het gereël dat ons motor met die “schuttle” deur geneem word Groot Brak toe, dus moes ons die motor 06:00 by die “silos” “drop” en dan die 7 km Chandelier toe met ons fietse ry. Alles loop volgens plan en ons kom so 06:20 by die wegspring aan. Die weervoorspelling was vir hoë temperature en ons maak ons reg vir ‘n warm dag in die saal.

 

Ek spring in A weg as gevolg van die 14 Attakwasse wat al reeds voltooi het en nie omdat ek so vining is nie! Die gevolg is dat ek, saam met Hasie Lourens wat sy 17de een doen, heel laaste is teen die tyd wat ons deur Chandelier se hek ry! My doel is om vandag rustig te ry en te kyk hoe naby aan 10 uur ek kan klaar maak. Verlede jaar was my tyd 10:07:41 en in 2022, toe dit ook baie warm was, 10:45. 

 

Aanvanklik ry ek voor Hasie, maar na so 5 km  kom hy by my verby en sien ek hom nie weer nie. Dit neem die vinnige manne van die B-groep so 20 minute om my in te haal. Dryland het gelukkig daardie lelike bultjie, wat na so 10 kilometer gekom het en twee jaar gelede ingesluit is, nou weer uitgehaal. Dit neem my so 1:33 om waterpunt 1 te bereik. Dit is net na 08:00 en die temperatuur is al reeds bo 30 grade! Ek vertoef 3 minute. Die pad na waterpunt 2 is redelik en die dam waar ons altyd verby ry is redelik vol. Wanneer ek hier verby ry dink ek altyd dat die boer hier seker met klippe boer, want daar is niks anders nie. Vanjaar is die veld oortrek met bossies.  Die eerste styl bult op 27 km is rybaar, maar daar is ‘n paar manne wat stoot en nie wil pad gee nie, met die gevolg dat ek verplig is on die laaste paar meter te stoot. Ek “koop” ‘n stukkie grond oor die volgende stuk toe my voorwiel teen ‘n middelmannetjie gly. Gelukkig is net my ego beseer en daar is ‘n paar bloederige skrape aan my been, maar ek is gou weer op en aan die gang. Ek bereik waterpunt 2 na 1:40 en is nou al vir 3:45 aan die gang en die temperatuur begin so aan 40 grade raak. Na 4 minute is ek weer aan die oppad. 

 

Die gedeelte tussen waterpunt 2 en 3 is die moeilikste van die Attakwas. Hier gaan ons deur die Outenikwa Natuure Reservaat en ook die Attakwaskloof. Die natuurskoon is iets besonders, maar daar trek nie ‘n luggie nie en die temperatuur styg met elke pedaaltrap! Die padoppervlakte wissel tussen redelike “jeep tracks”, baie kilpperige gedeeltes en baie styl op en afdraandes. Die af kry ek almal gery, maar daar is paar van die “ops” wat ek verplig is om af te klim en te stoot. My Garmin wys 46.6 toe ek die Attakwaskloof ingaan. By die “king of the Mountain (KOM)” wys hy 52! Van die ouens om my praat van 57 volgens hulle Garmins! Die feit is, dit is vrek warm! Gelukkig het hulle ‘n onoffisiële waterpunt by KOM. Ek maak my bottel vol en gooi water oor my kop, my bors, my rug en my arms. Dit het my 1:17 geneem om die 10 km sedert waterpunt 2 af te lê. Die stop proses neem 4 minute in beslag en dan is ek weer aan die gang.


Dit neem my ‘n verdere 1:05 om die 12 km na waterpunt 3 te ry. Hier vertoef ek amper 10 minute. Ons is nou op 70 km met nog 51 oor. Totale rytyd staan op 5:55 teen die tyd dat ek vertrek en my gemiddelde spoed het afgekom na 11.7. Ek het nog 5 uur oor vir die volgende 51 km, maar ek is vol vertroue dat ek darem so teen 10:15 sal, klaar maak. Daar lê egter nog ‘n paar “knoppe” in die pad einde toe.

 

Van hier is dit meesal baie goeie distrikspaaie en kan ek ‘n goeie pas handhaaf teen die bulte af en oor die gelykte gedeeltes. Die laaste gedeelt van die bult op 75 km klim  ek maar weer af en stoot. Gelukkig is hier skaduwee! Anderkant laat loop ek. Vir een of ander rede het ek dit in my kop gehad dat daar 27 km tussen waterpunt 3 en 4 is. Ek is toe aangenaam verras toe die waterpunt na 17 km opduik! Die 17 km het my 1:30 geneem en ek vertoef 6 minute om af te koel. Ek sal nou moet wikkel, maar die pad einde het darem minder uitdagings, so my spoed hoort op te tel. Daar is egter twee lelike opdraandes, met waterpunt 5 na die eerste een. Ek kry dié bult uitgetrap en kom na ‘n verdere 1:42 by waterpunt 5. My gemiddeld oor die 22 km was darem 13 km. Na 5 minute is ek weer aan die gang. 

 

Terwyl ek so ry oor hierdie laaste gedeelte, onthou ek dat die laaste bult nie so moeilik die tweede laaste een was nie en dit is ook so. Ek handhaaf ‘n goeie pas en my spoed op die gelyker gedeeltes wissel so tussen 15 en 30 kpu. Waar ek teen die vorige bult teen so 4 kpu gery het, kan ek teen die laaste bult so 6 kpu handhaaf. Dan is dit óf redelik gelyk of afdraand tot by die einde. Ek laat wiel en lê die laaste 13 km in 47 minute af, ‘n gemiddelde spoed van 16 kpu. 

 

Na 10:08:19 is oor die eindstreep en so eindig Attakwas nommer 15! Net 62% van die deelnemers het klaar gemaak en ek km 383ste van die 474 wat binne 11 uur klaar gemaak het. 15de uit 23 van deelnemers oor 60!





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking