Saterdag 25 Augustus 2018

Trans Baviaans 2018

Na verlede jaar se Trans Baviaans het Hennie de Clercq gesê hy kan nie vanjaar ry nie. Ek het vir toe vir Danie Kotzé genader, maar hy het nie kans gesien om hom vir vanjaar se wedren te verbind nie. Ek nader toe vir Coenraad Fick, wat dieselfde kerk as ons bywoon. Hy het gou ingestem en toe hy hoor ek soek ‘n derde persoon, het hy sy vrou, Nettie genader en so het 2018 se span tot stand gekom.

Ons het twee oefen ritte saam gehad in die oploop na die groot dag en dit het heel goed verloop. Ek het gehoop om vir 14:00 te mik, met die verwagting dat on 15:00 sal maak.

Ons ondersteunings bestuurder het laat in Junie onttrek, maar dit was ‘n bedekte seën en ek het ‘n plaasvervanger in Charl Plaut, binne drie dae, gekry.

Vrydagoggend 17 Augustus 09:00 is ons in die Kaap weg en stop langs die pad by Diesel en Cremé vir middag ete. Ons arriver net na 17:00 in Willowmore. Registrasie verloop glad en ek kry ‘n nuwe ligklamp. Myne het drie weke gelede gebreek toe ek in ‘n spoelsloot op Tafelberg geval het. Ons word weer met groot gasvryheid op Marlu ontvang. Lucia het ook besluit om aan my versoek om in die braai kamer te eet te voeldoen aangesien daar nie so baie gaste was nie. Die laaste gaste wat opdaag is my vriend Andrew Keevy en sy span. Die ete was weereens, soos gewoonlik, voortreflik en niemand kan kla dat daar nie genoeg vir almal was nie. Ontbyt is geskeduleer vanaf 06:30 en later. Ons val net na 07:15 in die pad Willowmore toe.

Ons is gelukkig en kry parkeerplek reg langsaan trokke wat houers na Kontrole punt 2 en 3 neem. Nadat ons die houers in gegee het, kry ons die fietse reg.
Ons beweeg na die wegspring area, waar ons ‘n warm kafiēn inspuiting kry en ou bekends en familie raak loop. Teen 09:30 se kant beweeg ons deur na die wegspring area, waar ek die “lineard”ontvang, wat by die begin en Kontrole punt 2 tot 7 ‘n merkers kry. Sonder die merker word ‘n span nie geklassifeer nie, so dit is belankrik om seker te maak dat die prosedure gevolg word. 

Ons spring stiptelik 10:00, na die sing van die Volkslied, deur ‘n paar “locals”, weg. Dit neem ons ongeveer 2-3 minute om behoorlik aan die gang te kom. Ons vorder goed en almal bly by mekaar. In die eerste 20 km klim ons 250 meter, dus is ons gemiddeld spoed nie besonder hoog nie. Daar is darem so elke nou en dan ‘n afdraand en ons spoed wissel so tussen 10 en 45 k.p.u. Op 30 km is ons bo op die Nuwekloofpas. Oor die volgende 80 km sal ons 800 meter daal! Wanneer daar na die profile van die roete gekyk word, en in ag neem word dat ons meer en deels daal, klink dit maklik, maar so elke hier en daar is daar ‘n bultjie wat die spoed breek. Ons bereik Kontrole punt 1, Vero’s Resourant, op 52 km na 2:14, so ongeveer 14 minute agter skedule! Ons spandeer 7 minute hier, 2 minute te lank. Die volgende 52 km is minder ernstige rollende heuwels en ‘n goeie pas is belankrik vir ‘n goeie tyd. Op 62 km breek die kabel waarmee ek my agter ratte verstel. Daar is gelukkig nie ernstige bulte tot by die volgende kontrole punt nie en ek handhaaf nog altyd ‘n goeie pas.

Nettie begin n bietjie swaar trek, maar ons is na ‘n verdere 2:23 by Kontrole punt 2. Hier is onder andere “marsh mellows” en ander lekkernye om te eet. Hier is ook ‘n werkstasie waar hulle die kabel kan reg maak, maar ek moet my beurt afwag en die fiets waaraan hulle werk se agter deraillier het gebreek, insluitend die koolstof rat! Die gevolg dat dit lank neem om reg te kry. Ek sien iemand daar naby help ‘n ander deelnemer om sy ratte te verstel. Ek verneem of hy my nie kan help nie, maar hy is net die “evacuation driver”! Ons gesels ‘n bietjie en hy onderneem om my fiets reg te maak indien ons ‘n kabel by die werkstasie kan kry. Dit word gou onderhandel en my fiets is binne ‘n verdere 5 minute weer reg om te ry. Ons vertoef 30 minute hier. Dit te same met die 4:44 wat dit ons geneem het om hier te kom blaas enige kans vir ‘n sub 14 uur by die venster uit!

Ons is nou in die Baviaans Natuur Reservaat en die pad oppervlakte is aan- sienlik swakker, wat ook ‘n stadiger gemiddeld spoed tot gevolg het. Die Grasnekpas, 2 Fangs en Holgatpas moet ook oor die volgende 40 km bemeester word. Die meese klim van die Trans Baviaans is in hierdie skofte vasgevang. Die Grasnekpas is eerste op die agenda. Ek klim dit teen ‘n lekker pas uit en wag so ‘n paar minute vir Coenraad en Nettie aan die bopunt.
Anderkant af is redelik rof en ons gemiddeld spoed tussen Kontrole punt 2 en 3 val na 14.5 kpu. By Kontrole punt 3 is daar lekker sosaties en ons stop duur net 19 minute. Ons het ook ons ligte in die houer vir die punt gesit aangesien ons verwag het dat die donkerte ons net voor Kontrole punt 4 gaan vang.

Hierdie Kontrole punt word gevolg deur ‘n lang stuk water wat omtrent 30 cm diep is met baie klippe. ‘n Paar deelnemers het redelik nat geword as gevolg van in die water val, maar ons kom al drie,sonder enige problem, deur. Dit word gevolg deur die twee “Fangs”. Korterige maar styl klimme en dan die grote, die Holgatpas of te wel Mother of all climbs (MAC). Ek bereik die parkeer area net voor die bopunt teen skemeraand en na ‘n rukkie is die res van die span ook daar.
Daar is nou nog so ‘n 4 km se gelydelike klim tot by Kontrole punt 4 (Bergplaas) waar daar lekker warm sop en addisionele warm klere is. Ons gemiddelde spoed tussen 3 en 4 het na 10 kpu geval. Ek maak kontak met Charl, wat vir ons by die volgende kontrole punt sal ontmoet. Ons vertoef 21 minute en durf daarna die bult af in die donkerte aan.

Dit is voorwaar ‘n belewenis om die pas in die donkerte af te ry. Voor jou sien jy net rooi agterligte en wanneer jy so ‘n ent af is en terug kyk, sien jy weer net die helder hoofligte van deelnemers wat die pas af kom. Rondom jou is dit pik donker en mens is nie regtig bewys van die kranse aan die een kant en die afgronde aan die anderkant nie. Die roete tot by Kontrole punt 5 is rollende heuwels met geen noemens waardige klimme nie. Ek geniet dit ook baie om in die nag te ry. Daar is net ‘n “ander atmosfeer” en die kilometers vlieg tot ‘n mate verby. Nettie het in tussen ‘n tweede asem gekry en ry nou voorwaar soos die  ster wat sy is. Ons kom net na 20:30 daar aan en maak gou met Charl kontak. Hy bring vir ons sake wat ons vir hom gegee het met ekstra warm klere. Ons kry ook ‘n “chip roll” en iets om te drink. Ek trek droër sokkies en droë fietsry skoene aan. Ons vertoef 23 minute hier, waarvan die meeste deur my gebruik word.

Tussen Kontrole punt 5 en 6 (wat onbeman is), lê die berugte “never ender”, ‘n 10 km bult,wat nie te styl is nie, maar ‘n lang en geleidelike gradiënt het. Dit neem ons ‘n uur om die 10 km af te lê. By die onbemande kontrole punt moet ons net stop om ‘n merker te kry. Dit is net 6 km na die volgende kontrole punt, waar Charl ons weer ontmoet en vir oulaas aanmoedig. Hier is heerlike “jaffles”. Ons val na 14 minute in die pad on die laaste skof aan te durf.

Ons het nou ‘n 10 km “jeep track” met ‘n kort skep bult in voordat ons ‘n stukkie goeie distriks pad kry en dan die laaste 6 km langs die spoorlyn af. Ons handhaaf ‘n goeie pas oor hierdie laaste deel. Daar heers groot vreugde toe ons die eindpunt 14:39 oorsteek! So eindig nog 'n baie aangename Trans Baviaans en 'n spesiale dankie aan Coenraad, Nettie en Charl wat gehelp het om dit so suksesvol te maak.