Dinsdag 17 Maart 2020

Eroica SA 2020

Die naweek van 13-15 Maart was weer Eroica naweek. Ek en Sue het weer by Squirrels inbespreek en ons vat die pad Montagu toe so om en by 12:30. Verkeer was dik en ons kom net na 16:00 in Montagu aan. 

Registrasie verloop glad en ons meld by Squirrels aan. Nadat ons afgepak het vertoef ons saam met die gasheer en sy vrou op die stoep te same met Norman wat van Howick in Kwazulu-Natal af kom en ook verlede jaar hier gebly het. Net voor 19:00 stap ons af na die registrasie area, waar aandete bedien word.



Die Eroica Classica deelnemers spring 08:00 weg. Ek leen 'n voetpomp en pomp my fiets se wiele 6 bar. Nadat Stan Engelbrecht ons eers weer ingelig het oor die roete en wat daarmee saam gaan, spring ons 08:08 weg. Soos gewoonlik word ons deur 'n ou motor uit die dorp begely tot by die eerste afdraai. Vandag is dit 'n De Soto wat uit die laat vyftigs dateer. Hy ry voor tot by die Ashbury afdraai en van daar is ons op ons eie met nog so 'n kilometer se teer en dan begin die grondpad. 

Die oppervlakte is redelik goed maar ons moet mooi kyk om die groter klippe te vermy. Ek is veral versigtig vir die afdraande want dit is moeiliker om klippe te vermy wanneer jy vinnig ry. Daar is vyf deelnemers voor my en hulle trek gou 'n groot gaping op my. Na 'n rukkie gaan ek een van hulle verby nadat hy 'n papwiel gekry het. Daar is 'n waterpunt na 20 km en ek hou stil. Daar is water en vrugte. Ek neem 'n peer. My waterbottels is nog vol genoeg.

Na 24 kilometer is ek by Oubergpas. Dit gaan maar sukkel-sukkel want my kleinste rat is nie klein genoeg nie of ek raak te oud! Ek sal moet kyk na die moontlikheid om 'n groter rat agter te kry of om my voorste klein ring kleiner te maak, maar vandag is dit skouer aan die wiel sit en trap! Dit neem my 28 minute om die 3 km af te lê en ons klim 310 meter. Teen die bopunt haal ek iemand amper in, maar voordat ek hom kan vang is ons bo en hy trek onder my uit.

Op 30 km kom die eerste Nova Eroica, vir deelnemers met "gravel" fietse, by my verby. Hulle het duidelik nie probleme om vinnig oor die rowwe oppervlakte te ry nie. Op 34 km draai ek links op die pad Hoek van die Berg toe. Hier is al die "gravel" manne in 'n groep en staan rustig en gesels. Ek stoot aan op die pad waarvan die opoervlakte nou redelik goed is. Ek kan dus 'n goeie pas handhaaf. My spoed wissel so van 20-30 kpu met so 'n paar bultjies waar dit af kom tot net onder 10. Waterpunt 2 is net 'n bakkie wat water het en aangesien ek nog genoeg water het, druk ek aan. 

Na 'n rukkie kom ek agter my voorwiel is papperig. Hy stamp egter nog nie deur nie en ek druk aan. Na nog so 'n paar kilometer besluit ek om stil te hou en die wiel te pomp. Ek is nou al vir 2:42 aan die dang en het 43 km afgelê. Die wiel hou die lug goed en ek vorder mooi. Ek haal die deelnemer, wat ek aan die bopunt van Oubergpas gesien het, in en gaan hom verby. Kort daarna moet ek weer stilhou en pomp en hy gaan weer by my verby. Die wiel het 6 km gehou en dit is nog 14 km na die volgende waterpunt. Ek pomp hom die keer 'n bietjie stywer in die hoop dat ek die volgende waterpunt op 65 km sal haal. Daar kan ek dan 'n ander binneband in sit. Ek gaan weer my mede ryer verby. Die wiel hou beter. Ek sien nog twee deelnemers voor my en ook die volgende waterpunt in die verte. Die wiel is nou redelik pap maar ek is vol vertroue dat ek darem die waterpunt sal haal. Ek gaan die ander twee voor die waterpunt verby en kom daar aan met 'n redelike pap wiel. 

Ek neem 'n glas koeldrank en vervang die binneband. Hulle het nie 'n pomp nie, dus gebruik ek 'n CO2 bommetjie om die wiel styf te kry. Ek eet van die slaaie wat daar beskikbaar is, drink nog 'n glas koeldrank en maak my waterbottels vol. 'n Hele klomp Nova manne kom aan asook die drie Classica deelnemers wat ek ingehaal het. Ek vertrek voor hulle. Die stop duur 13 minute.

Dit is net 500 meter na die afdraaipad na die R310 wat van die N1 na Montagu loop. Hier daar ek links. Nou is dit 20 km verby Leeuwenbosfontein tot by die R310. Die pad oppervlakte is redelik goed en behalwe vir 'n goeie klim verby Leeuwenbosfontein, is daar nie enige ander ernstige bulte nie. Dit neem my 1:04 om die 20 km af te lê. Ek draai links, Montagu se rigtimg op die R310. Daar is so 'n 2 km klim en dan is dit meesal afdraend oor die volgende 10 km tot by die laaste waterpunt, insluitend Rooihoogtepas waarvan die draaie nie te skerp is nie. Ek haal my maksimum spoed van 63 kpu hier. 

Waterpunt 4 is altyd 'n hoogtepunt. Hier is koue water, koue bier, koue Coke, koffie, roosterkoek, droëwors, biltong, gedroogte mango, neute en dadels! Ek drink twee Cokes en eet 'n roosterkoek met kaas en konfyt. So tussen deur eet ek biltong en droëwors. Ek neem 'n stuk droëwors saam vir padkos en stop 'n mango stuk in my mond. Intussen is my waterbottels weer volgemaak. Die mense lig my in dat ek 2de in Eroica Classica is, maar die deelnemer voor my is al 20 minute gelede daar weg. Die derde deelbemer in Classica kom daar aan net voordat ek vertrek. Die stop duur ook 13 minute.

Nou is daar nog 40 km huis toe en dit sluit Burgerspas, wat net afdraend is, in. Die res is redelik gelyk met so 'n paar kleiner bultjies. Ek handhaaf 'n pas van so 20-40 kpu. Net voor Montagu gaan ek verby twee groepe van die 60 km deelnemers wat besig is om papwiele reg te maak. Die laaste 7 km is of gelyk of 'n gelydelike afdraend. Dit is voorwaar lekker om 'n wedren met so 'n einde klaar te maak.

Ek kom na 7:04:21 en 136.95 km by die eindpunt aan. Voorwaar 'n lekker dag in die saal en my 30 jarige Le Jeune het foutloos geloop.

<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/4654730574' title='Montagu Eroica SA 2020' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>

Sondag 08 Maart 2020

2020 CTCT

Sondag 8 Maart was dit tyd vir my 29st Cape Town Cycle Tour, wat altyd Die Argus was!

My wegspring tyd was 06:50 en ek en Danie Kotze is weer met MyCiti in stad toe. Ek het so om en by 06:10 by my wegspring blok aangekom. Die weer was perfek in die stad. Lekker koel en geen wind nie. Die weervoorspelling het gesê daar gaan 'n 20 kpu wind by Simonstad waai, so ons kon 'n "briesie" in daardie omgewing verwag.

Ons het stiptelik 06:50 begin. Ek het redelik voor begin, so daar het aanvanklik heelwat deelnemers by my verby gekom. Ek is nou op 'n stadium waar ek ry om dit geniet en myself nie te ooreis nie! Die kompiterende gees veroorsaak egter dat ek elke nou en dan myself 'n bietjie druk en saam met 'n groep ry wanneer hulle by my verby kom. Ek hou goed by 'n paar groepe en ry na 1:15 by Jubilee Square in Simonstad verby. Dit is goed genoeg vir 'n tyd van so 3:40-3:50 vir die hele roete, indien ek die pas kan handhaaf. Dit pas goed by my mikpunt vir 'n tyd vir die dag.

Soos in die verlede is dit interessant om te sien hou dieselfde deelnemers in jou omgewing bly. Hulle kom verby, maar na 'n ruk haal ek hulle weer in. Dit is veral op die bulte wat ek weer deelnemers sien wat op die gelykpad by my verby gekom het.

Ek gaan die halfpad merk verby in 1:53. Dit gee 'n tyd van 3:46 vir die hele afstand, so ek moet net so volhou.
Ons handhaaf 'n goeie pas van die Kaappunt afdraai tot by Soetwater. Dit weer 'n geval van vasbyt en by groepe hou en dan maar weer 'n bietjie terugval totdat 'n ander groep verby kom. Op die pad tussen Seaview en die Sun Valley 4-rigtingstop, kom 'n idioot deur ons groep teen 'n baoe hoër spoed as wat ons ry. Die gevolg is dat een deelnemer vir hom uitswaai en een van die verkeers "cones" in die pad tref en neerslaan. Met die val raak hy my agterwiel, maar gelukkig be-invloed dit my nie verder nie. Ek vermoed hy het redelik hard geval en ook 'n paar ander saam met hom grond toe laat kom!

Ek handhaaf 'n goei pas teen Chapman's Peak uit en gaan heelwat ander deelnemers verby. My gemiddelde spoed hier is so tussen 10-15 kpu. Met 29 km oor is my tyd 2:52. Indien ek dus die laaste 29 km, wat Chapman's Peak en Suikerbossie insluit, binne 'n uur kan aflê, sal ek in 3:52 klaarmaak. Nou vir die stukkie deur Houtbaai en dan Suikerbossie! Hier kom my gemiddeld spoed af na so 9-12 kpu, maar ek haal nog steeds heelwat deelnemrs in. Daar heers 'n feestelike atmosfeer langs die pad met musiek en mense wat ons aanmoedig.

Anderkant af is die finale been einde toe met meesal afdraende en gelyk pad. Daar is lekker bondels waar ek kan byhou en ons ry teen 25-35 kpu verby Oudekraal en deur Kampsbaai. Elke nou en dan wil ek die groep laat gaan, maar dan byt ek weer vas en ry saam! Die laaste stukkie deur Seepunt gaan teen 'n dolle 30-40 kpu en ek maak in 3:45 klaar.

So eindig CTCT (Argus) nommer 29. 'n Baie lekker dag, met uitstekende weer geen teespoed nie. Oppad huistoe word ons aangejaag deur 'n redelike ontstuimige Suid Oos. Ons is dankbaar dat hy eers laat oggend begin waai het. Die ouens wat laat begin het sou hom beslis moes trotseer!

Ek eindig 5,817 uit 22,270 en 45 uit 451 in my ouderdomsgroep van die wat klaarmaak. My tyd is better as verlede jaar, maar my possisie is swakker en daar het minder mense klaargemaak.





2020 MTB Challenge

Die MTB Challenge is terug geskuif na die Saterdag voor die CTCT en ek skryf dus in vir die 60 km bergfiets wedren in die Banhoek vallei tussen Stellenbosch en Simondium.

My wegspring tyd is 07:05 in groep B! Ek het dus geweet daar gaan heelwat ouens by my verby kom aan die begin, want ek is nie groep B standaard nie, gesien dat dat daar 6 wegspring hroepe was nie.


Dit was ook dan so, maar toe die pad begin rowwer raak, het ons het gou 'n goeie ritme begin handhaaf en minder deelnemers het van agter verby gekom. Die padoppervlakte was aan die begin baie rof met baie groterige klippe op die roete. Die gevolg was dat die meeste deelnemers net 'n redelik pas gehandhaaf het om in die spoor te bly. Dit was die geval vir die eerste 10 km.
Vir die volgende 5 km was ons 'n paar dienspaaie en toe begin die eerste klim. Aanvanklik was die gradiënt redelik, maar later het dit al styller geraak. gedurende die volgende 5 km klim ons 268 meter.  Gedeeltes van die roete is so styl dat die grondeienaars sementstroke gegooi het.



Bo gekom draai ons links in 'n Suid Westelike rigting en begin 'n wonderlike enkelspoor wat spesiaal vir bergfiets ryers teen die hange van Simonsbeg, aan Pniel se kant, uit gekap is. Dit neem ons tot by km 26. Hierna volg ons "Jeep tracks" al aan die bokant van Pniel to reg oor Kylemore, net bo die Hillcrest bessieplaas tot bo op Helshoogte. Ons volg die ou pas af tot by 34.5 km. Hier draai ons links en na 'n redelike klim ry ons met 'n stomwatersloot onderdeur die nuwe pad. Anderkant begin 'n groot klim al teen die kant van die berg tot redelik hoog op teen die hange van Bosmanskop. Die volgend watrepunt is op 38 km en ons is amper bo. Ek hoor een van die deelnemers sê vir sy maat dat die pad nie gemaak is vir ouens met hoogte vrees nie! Dit was inderdaat so, maar baie mooi en baie uitdagend! Van die draai punt tot bo klim ons 311 meter oor 'n afstand van 6 km. Dit word gevolg deur 'n paa draaie deur die wingerde op die rant en elke hier en daar 'n lekker enkelspoor wat teen die hang af kronkel. Dit is ons voorland vir die volgende 6 km.

Hierna draai ons regs op 'n goeie dienspad. Dit neem ons na paadjies deur vrugte boorde tot 'n redelike rowwe "jeep track" in die vallei op. Ons ry nou in 'n Suid Oostelike rigting al langs die Banghoekrivier. Ons kruis die rivier by 'n laagwater bruggie en begin onmiddelik weer klim, nog steeds op die "jeep track" wat hier 'n sement pad is. Bo-op die heuwel draai ons regs en kronkel die hang van die berg op met 'n baie goeie en redelik breë enkelsoppr paadjie. Dit is ons voorland vir die volgende ongeveer 10 km. Ons daal 'n stukkie en begin dan weer klim tot ons die finale afdraend kry wat ons na die eindpunt toe neem.


My Garmin wys die regte tyd, maar het vir een of ander onverklaarbare rede op 48 km ophou om die afstand te meet. Dit is die eerste keer dat so iets met my gebeur!

My totale tyd is 4:21 en my Polar gee 'n afstand van 55.46 km.