Donderdag 18 April 2024

BB2BB2 Dag 36



Na gisteraand se braai het ek eers my blog vir die dag geskryf en kom eers 23:00 in die bed, wetende dat ek nie vroeg hoef op te staan nie. Ek kom eers vanoggend na 08:00 aan die beweeg. Eet gisteraand se oorskiet vir ontbyt, saam met koffie. Ek kom 09:30 daar weg.


Ry lekker rustig. Net voor Suurbraak merk ek 'n "bikepacker" oppad in die teenoorgestelde rigting. Ons stop en gesels. Mark van Skotland. Hy toer net so 'n bietjie deur die land en is eersdasgs oppad terug Skotland toe. Vandag mik hy vir Heidelberg. Ons groet en gaan ons verskillende weë. 


Dit is net 31 km Swellendam toe en ek is net na 2 uur se ry daar. Ek ry die hoofstraat af opsoek na 'n winkel waar ek 'n skeermes kan koop. Op daardie presiese oomblik loop 'n ou kennis, Philip van der Merwe wat in die negentigs saam met my by Pepkor gewerk het, oor die straat! Weereens 'n bewys van die Heer se hand om hierdie tydsbereking so perfek reg te kry. 5 minute enige kant toe en ons het mekaar gemis. Ons reël dat hy môre oggend 'n stuk saam met my gaan ry.


Nadat ek my inkopie gedoen het, stop ek by Aan de Eike vir koffie en iets te ete. Toe ek en Pieter Vermeulen 2021 van Kirkwood na Franschoek toe gery het, het ons hier ontbyt ge-eet! My gasheer is net so 'n entjie op in een van die dwars strate en ek kom net na 13:00 daar aan. Nadat ek my agterstallige bolg inskrywings opgelaai het, stort ek en was my vuil fietsry klere. Internet op Rooiberg en Fleckvieh was baie swak met die gevolg dat ek nie my blog kom opdateer nie. Nou is ek weer op datum.


Sien uit na 'n lekker rustige middag en aandete by Republic of Swellendam. Hulle pizzas is heerlik en in November verlede jaar kon ek nie die hele pizza op eet nie. Sal kyk of ek vannaand beter kan doen.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking