Sondag 14 April 2024

BB2BB Dag 32



Laasnag het dit honde en katte in Uniondale gereent! My plan was om 06:30 te begin, maar toe val daar weer 'n harde bui. Ek wag so 'n bietjie en teen 07:00 bedaar dit en ek val in die pad. Teen die tyd wat ek buite die dorp kom, het dit heeltemal opgeklaar.


Die eerste 11 km is deur die Uniondale Poort, wat 'n mooi teerpad met lieflike natuurskoon, is. Na 59 minute daai ek regs op die Langkloofpad en na 'n paar honderd meter, links op die pad Knysna toe via die Prins Alfredpas. Die volgende 5 km is opdraend en dan volg die heerlikste afdraend van 14 km tot by De Vlugt. Die Plaaskind Padstal is oop en ek nuttig 'n lekker roosterkoek met eier, spek, kaas en tamatie tesame met 'n lekker koppie moer koffie. 






Hierna volg daar 'n stuk van 23 km wat meesal klim is. Daar is so 'n paar afdraendes, maar die meeste van die tyd is dit skouer teen die wiel al die bult uit. Dit neem my 3 uur om die "probleempie" agter die rug te kry. Wanneer ek bo kom gaan ek "offisieël" die Knysna woude binne. Ek ry deur "tonnels" wat deur die bome gevorm  word. Dit is 'n besondere voorreg om so iets te kan beleef. Daar is ook 'n lekker lang afdraend waar ek af vlieg.







Op 60 km bereik ek die Kom se Pad afdraai. Nou volg ek Kom se Pad deur Knysna se woude. Nog 'n besondere voorreg. Die klimme is meesal gemaklik en die natuurskoon is asemrowend! Ek stop by 'n stroompie en vul my waterbottel met heerlike bergwater! 




Na 27 km bereik ek die stroompie wat die Simola klim aankondig. 2.6 km se klim wat wissel tussen 6 en 13%! Na 27 minute is ek bo. Nou is dit afdraend huistoe! Ek sien duidelike tekens dat Knysna rag maak vir die Simola Heuwelom wat van 2-5 Mei plaasvind. Onder draai ek regs en so 'n entjie die pad af links in by The Point, waar ek vannaand saam met Johan Schoeman en Mike Smit bly. Môre pak ons drie die Sewe Passe en Montagupas tot in Harold, aan.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking