Woensdag 17 April 2024

BB2BB2 Dag 34





Ons reël dat Mike en Johan na 56 km by La Plume, Volmoed by my aan te sluit en dan die laaste 77 km saam te ry. Ek begin, soos gewoonlik, 05:00 roer en kom net na 06:00 weg. Weer is perfek vir fiets ry so vroeg in die oggend.



Ek ry met Harold pad af, kruis N9 Langkloof en draai links op die Paardekloofpad. Ek hoor die rivier duidelik terwyl ek deur die kloof ry. Toe ek by die Heimersrivier kruising links draai, word ek begroet met 'n mooi sons opkoms. Van hier is dit 'n paar kilometer na die N12 waar ek regs draai en na 'n paar honderd meter links na Zebra. Van hier is dit 27 km tot by die R328. Komoot vat my weer op 'n " geen deurgang" pad, maar die hekke is oop en niemand keer my voor nie. Daar is ook geen noemenswaardige verskil tussen die twee opsies nie. Ek ken die roete van Heimersrivier tot by kilometer 118 goed want dit is deel van die 36ONE wedren wat ek vanjaar vir die tiende keer aanpak. 


Ek kom so 10:40 by La Plume aan. Laat weet vir Mike-hulle ek is daar en bestel 'm ham, kaas en tamatie broodjie en koffie. Hulle arriveer net nadat ek klaar ge-eet het. Daar is 'n lang klim van hier vir die volgende 15 km en ek verduidelik die roete vir hulle en val so lank in die pad. So halfpad teen die klim uit, haal hulle my in. Ons ry lekker saam van hier af. 




Dit is 'n redelike lang "trek" tot by die Gouritsrivier en die die pad gaan weereens óf op óf af, maar dit maak die rit interessant en die klimme is nie te moeilik nie en die afdraendes is "lekker"! Ons stop by 'n gesluite huis net voor ons die Gourits kruis en vul ons waterbottes by die watertenk. Nou af en oor die Gourits. Dit is net 'n laagwaterbrug met 'n baie klipperige aanloop. Ek was in my agterkop 'n bietjie bekommerd oor die moontlike vlak van die water by die laagwater brug, maar na gister se "avontuur" met Montagupas, was ek nie van plan on my rygenote daarop attent te maak nie! Ons sou maar net die situasie op meriete moes hanteer wanneer ons daar kom. Ek het nog nooit, in die 11 keer wat ek hier deur is, die Gourits so vol gesien nie. Die aanloop is net 'n poel water en ons is genoodsaak om 'n klein ompad oor ander klippe, waar die water nie so diep is nie, te volg. By die laagwater brug loop die rivier sterk en is kniediep! Ek is eerste deur en moet versigtig wees om te verseker die water druk my nie van balans nie. Dan kom Mike. Ek neem teen die einde sy fiets by hom en hy gaan terug om vir Johan te help. Nadat ek sy fiets op die droë grond neer gesit het, gaan ek terug om vir hom en Johan te help met Johan se fiets. Ons moet seker maak dat die e-bikes se moters nie nat word nie. Dit neem ons 20 minute om oor te kom!  Gelukkig het die "meriete" van die situasie nie negatiewe nagevolge gehad nie en die kruising het bevredigingend afgeloop.




Anderkant uit is daar weer 'n lang klim. Nie baie styl nie, maar aanhoudend!



Dit word gevolg deur 'n hele paar ops en afs tot ons by kilometer 118 kom. Hier draai die 36ONE roete regs. Ons draai ons links. Nog net 7 km Rooiberg Lodge toe! Na nog 'n paar klimme is dit afdraend tot by die Rooiberg afdraai. Dan so 3 km met Rooiberg se pad tot by ontvangs waar ons opdaag nadat ek vir 10:25 en 127 km aan die gang was.










Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking