Dinsdag 02 April 2024

BB2BB Dag 20


 

Ek het 'n heerlike aand saam met Jelle en Cynthia deur gebring. Ons kom toe agter ons was albei in Port Natal Hoër. Hy was in matriek toe ek Standerd 8 was. Ek is einde Staderd 8 daar weg. Verder het hy 'n hele paar jaar saam met my neef by Durban Munisipaliteit gewerk. Klein wêreldtjie!


Ek het geweet vandag gaan 'n lang dag wees, dus reël ek vir 05:00 ontbyt sodat ek 05:30 kan weg kom. Toe ek gisteraand my Garmin nagaan om seker te maak vandag se roete is reg, kom ek agter dat ek nie roetes vir Underberg tot by Vuvu op my Garmin het nie. Ek gaan my fenix 6 na en sien dit is dieselfde daar. Ek tree onmiddelik vir Komoot aan en werk roetes uit soos ek dit onthou vir dié dae. Verder het ek 2019 se Freedom Challenge kaarte en "narratives" op my selfoon. Tussen die lot hoort ek darem my weg te vind. 


Cynthia is vroeg op en maak vir my padkos. Na 'n ontbyt van Weetbix en koffie, val ek 05:19 in die pad. Ek moet eers 'n entjie op die R617, rigting Bulwer ry voordat ek regs draai op die Coleford pad. Dit is 'n goeie grondpad wat eers deur plase loop en dan teen die einde deur die Coleford Natuurreservaat voordat dit by die R617, rigting Swartberg, aansluit. 


Dit neem my 2:18 om die eerste 21 km af te lê. Alhoewel die pad goed is, is daar heelwat lang bulte, wat my gemiddelde spoed laag hou. Die volgende 21 km na die R617 is beter en ek kom na presies 4 uur en 43 km daar aan. Ek stop vir my eerste broodjie en val na 15 minute weer in die pad. Nou is dit 22 km teerpad na die volgende afdraai. Hier gaan dit 'n bietjie beter en ek is na 1:45 daar. Die volgende 64 km is grondpad en die grootste gedeelte is tipies van Suid Kwazulu-Natal. Dit is iets wat gesien moet word om te verstaan. Dit is baie klipperig, maar die klippe is vas in die padoppervlakte. Die gevolg is dat die "locals" almal teen 20-40 kpu ry en hulle motors klink soos "rammel kaste"! Dit maak dit veral moeilik om vinnig afdraend te ry. Verder skud mens uitmekaar! 








Ek is nou op die Freedom Challenge (FC) roete en ken dus die pad wat ek moet volg redelik goed. Die enigste verskil is dat waar FC deur die "bosse" gaan, ek op die openbare pad bly. Ek gaan ook gereeld my vordering op Komoot na en sien dat ek op die regte koers is. Met so 15 km oor word ek "oorweldig" deur die mooiste wolk! 




Ek het in 2019 Masakala Guest House se afdraai gemis, so ek gaan mooi na op die "narratives" waar ek moet afdraai. Ek draai egter te gou, maar kom darem na so 'n kilometer agter dat ek verkeerd is. Met die tweede poging werk alles mooi uit en ek kom na 130 km en 12:30 by my blyplek aan. Dit was 'n lang dag. Buite donderweer dit, so ek weet nie wat môre vir my wag nie. Ons het gisteraand 'n donderbui in Underberg gehad en vanoggend was die weer perfek! Hoop vir dieselfde môre. 







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking