Woensdag 10 April 2024

BB2BB2 Dag 28



Ek was regtig be-indruk met die gehalte en netheid van die Victoria Boutique Hotel op Hofmyer. Ek gun so 'n plek sukses. Die gebou, gronde en kamers is besonder netjies. Ek kan ongelukkig nie dieselfde sê van die dorp nie! Aandete van broccoli sop en lams bredie met spenasie en pampoen was ook van hoogstaande gehalte. Ek het vir hulle vir twee ontbyt pakkies gevra sodat ek een vir ontbyt en die ander een vir middagete kon gebruik. 


Ek het weer 05:00 begin roer en net na 06:00 aan die ry gekom. Die R401 uit Hofmyer is so plat soos 'n pannekoek, so reguit soos 'n skietloot en so glad soos 'n babatjie se boude! Ek handhaaf die eerste uur so 20-23 kpu. Gemiddelde spoed so net oor 20 kpu. Daarna begin die pad 'n bietjie op en af gaan en ek ry na 5 uur 30 minute deur Conway wat 48 km van Hofmyer is. 'n Rukkie later kruis ek die N10  wat Cradock, nou Nxuba, en Middelburg verbind. Op 60 km stop ek vir middagete. 



Die aard van die terrein is nou sodanig dat my spoed af kom na 10-14 kpu en dus val my gemiddelde spoed ook. Ek bereik die R61, wat Cradock en Graaff-Reinet verbind na 7 uur in die saal. Nou het ek 19 km teerpad oor die Wapadsbergpas tot by die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg.



Dit neem my 1:45 om die 10 km tot bo-op Wapadsberg af te lê. 'n Kort entjie regs en dan links op die Nieu-Bethesda pad. Na 1 km kry ek bordjie wat sê Kareelaagte is 5 km verder. Die 5 km is harde werk. Toe ek by die hek in draai kom Ina, na 'n funksie was, van Nieu-Bethseda se kant daar aan. Sy wys my die gastehuis waar ek vannaand slaap. Na 'n paar koppies koffie en 'n lekker stort, stap ek op na hulle huis vir aandete wat bestaan uit skaap bredie, aartappels, groen boontjies, pampoen kokkies, pannekoek en waatlemoen! Daarna ontspan ek lekker saam met hulle voor die vuur.


My beplande roete was deur Erasmuskloof, maar aangesien vol riviere 'n probleem mag wees, ry ek môre Nieu-Bethesda oor. Afstand is dieselfde en dit is ook grondpad. 


Totale afstand staan nou op 2,274 km. 







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking