Woensdag 27 Maart 2024

BB2BB2 Dag 14



Lekker saam met die Muhl's en hulle kinders aand ete genuttig. Seun se skoonma is familie van Shaun van Durbanville Cycles! Reël met Gail Muhl vir toebroodjies vir die pad en tel dit eers by hulle huis op voordat ek in die pad val. Oppad uit word ek gegroet deur 'n son wat tussen die bome deur vir my loer!


By die grootpad sê Garmin ek moet regs draai op die R34 en ek maak so. Na so 5 km besluit ek om na die roete wat ek op Komoot afgelaai het, te kyk. Die sê ek moes links gedraai het! Ek besluit om vir Komoot te luister en draai om. Die pad is redelik besig en ek is dankbaar toe ek op die R33 regs kan draai en so 'n paar kilometer verder weer links by Kingsley op 'n grondpad. Hierdie pad is in 'n goeie toestand en daar is minimale verkeer. Na 'n ruk stop ek om bene te rek. 'n Boer kom verby en verneem of als reg is en ry dan verder. Die landskap hier is redelik heuwelagtig maar gelukkig is die gradiënt nie te veeleisend nie. Op 40 km kom ek by 'n T-aansluiting waar ek links draai na die Bloedrivier Monument wat so 8 km verder aan my linkerkant verskyn. 




Daarna is dit op en af deur swart landelike gebied met klompies huis elke hier en daar. Na so 60 km kruis ek die R68 en Garmin neem my deur die "veld". Ek onthou die paadjie van my 2016 rit, maar sal volgende keer eder by die groter paaie hou want ek moes meeste van die volgende 3 km my fiets stoot. Ek sluit darem later weer by 'n redelike grondpad aan wat my deur neem tot by die kruising van die Buffelsrivier en Rorckesdrift. 




Van hier tot by Elandsview is daar twee klimme van 3 en 6 km, maar weereens is die gradiënt nie te veeleisend nie. Die pad is ook heel goed en die omgewing mooi met heelwat bome en baie gras. Die mense van Elandview het gister vir my 'n "pin" gestuur en ek volg die pad daarheen. Tydens my 2016 rit het ek by Elandsheim, wat eintlik 'n jeug afsonderings plek is, gebly. Elandsview Gastehuis is 1.8 km en 'n lekker klim verder! Ek kom 14:15 hier aan. Nog 'n goeie dag agter die rug. Hier kom blybaar vannaand Britte en hulle gids wat die "Battlefields" besoek oor bly, so ek sal darem geselskap vir aandete hé.


Ons kry blykbaar "potjie" vir aandete en Philip Voigt het 'n vuur op die stoep gemaak, so ek sit nou lekker en ontspan voor die vuur!









Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking