Maandag 25 Maart 2024

BB2BB2 Dag 12



Ek het 'n heerlike aand saam met Piet en Karen Nieuwenhuizen deur gebring met 'n heerlike lasagne en dlaai vir aand ete. Al my wasgoed is ook gedoen. 


Vanoggend het ek net voor 06:00 aan die gang gekom. Die weer was aanvanklik uitstekend vir fiets ry. Die pad tot net voor Luneburg is 'n ou teerpad waarvan die slaggate aanvanklik reggemaak is, maar hoe verder ek gery het hoe meer was die slaggate en daar was duidelike tekens dat onderhoud nie meer gedoen word nie. 




So 'n paar kilometer voor Luneburg verander die teerpad in 'n grondpad. Kort daarna begin dit reën. Aanvanklik net liggie, maar toe al harder. Dit is toe "toevallig" op die punt waar ek die roete op my Garmin moet verander. Ek vind gelukkig 'n boom waar onder ek kon skuil en laai ook die regte roete. Dit is nog net 20 km en om onder 'n boom te staan en wag vir die reën om te bedaar maak nie eintlik sin nie, dus ry ek aan. Die paaie is modderig maar gelukkig klou die modder nie aan die wiele nie. Op een stadium kom daar 'n Land Cruiser bakkie teen 'n dolle vaart 'n bult af en ek trek maar, veiligheids gewyse. links en laat hom sy gang gaan. Die reën bedaar na so 'n half uur en die son wil net deurbreek. Ek stop gereeld om seker te maak dat die roete per my Garmin en die een wat ek vorige aand op Komoot gelaai het, oor eenstem. 


Ek is by 'n kruis en Garmin wys regs en Komoot links! Regs gaan na 'n plaas, so ek gaan links. Na 'n entjie stem Garmin saam dat dit die tegte pad is. Onder in 'n vallei ryvek by 'n teken wat sê "Thiele Estates". Die dame met wie ek dié verblyf gereël het se van is Thiele, so ek neem aan dit is deel van hulle grond. Bo-oo die bult kyk ek weer na die "pin" wat Deidre Thiel 'n paar dae gelede vir my gestuur het. Ek sien dat dit is waar ek sopas by Thiele Estates verby gery het. Ek draai om en ry daarheen. Op die werf loop ek vir Carl Thiele raak. Hy sê Basongoma is langs aan, maar hy sal my daarheen neem. Ons drink eers koffie, dan stel hy my aan van die familie voor, wys my deel van die varkboedery en dan ry ons Basongona toe. Toe ek nou na haar boodskap kyk is dit duidelik dat ons mekaar mis verstaan het. Ek was gretig om op die familie plaas te bly, maar sy dink toe ek bedoel Basongoma. So gaan ons deur die met gereelde misverstande, maar meesal werk dit darem goed uit, soos in hierdie geval. Haar Tante, wat baie betrokke by kanker kennisname is, kom kuier nou spesiaal vannaand vir my om oor my betrokkenheid by CANSA te gesels.





Nou sit ek lekker hier op die stoep en ontspan op 'n wildsplaas. Hier is onder andere renosters, buffels, kameelperde en baie bokke. Die reën het ook heeltemal opgehou en alhoewel dit nog bewolk is, is die redelik warm. Ek het ook môre se rit gehalveer en bly by Indwe Farm Stall oor. Woensdag se verblyf is ook bevestig. 


Ontvangs is swak hier, so ek weet nie wanneer hierdie verslag op die blog dal verskyn nie. 


Deidre Thiele se skoonma het kom kuier en die netto resultaat is dat ek opgepak en saam met hulle na die familie plaas is en vannaand daar eet en slaap. Watter wonderlike gas vryheid! Oppad familieplaas toe sien ek 'n renoster en die mooiste reënboog.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking