Dit is weer tyd vir Trans Baviaans en ek, Johan de Bruyn en Annemarie Muller span weer saam. Bespreking is al in Desember 2024 gedoen en ek reël met Christoff Viljoen om saam te gaan sodat hy ons motor deur kan neem Jeffrysbaai toe. Johan “oortuig” vir Egbert Robertson om saam te ry, so ons word ‘n span van 4. Dit, te same met ‘n versoek van Leon Erasmus vir ‘n geleentheid vir sy ry maat, kompliseer die ry relings so ‘n bietjie met die gevolg dat ons verander en van Christoff se dienste af sien en reël vir ‘n “shuttle” om die motor in Jeffreys te kry. Die “komplikasies” hou egter nie daar op nie. Nadat Egbert ‘n week lank sukkel om toestemming by Ecobound te kry om sy inskrywing te aanvaar, lig die dokter hom ‘n dag voor die tyd in dat hy longvlies ontsteking het en nie mag ry nie! So ons is weer net vier in die motor Willowmore toe. Leon se maat ry saam met hulle terug.
Johan en Annemarie kry vir my en Jacques 09:30 by my dogter se huis. Reis Wollowmore toe, met “verpligte” stop by Diesel en Crème in Barrydale, verloor sonder enige voorvalle. Ons kom net na 16:30 daar aan en registrasie verloop glad. Dan uit plaas toe vir oornag en lekker eet. Leon-hulle bly ook daar. Ek het in vroeër die week my fiets by hom afgelaai en ek en my fiets en Leon en Jacques “herenige” op Marlu.
Saterdagoggend se ontbyt was 07:00 en dan is dit dorp toe om reg te maak vir die begin. Ons kry ons fietse reg en gee die motor af vir die “transfer” Jeffreysbaai toe. Ons gaan drink koffie en beweeg dan na die wegspring area. Nou vir die groot wag totdat ons 10:00 begin.
Ons begin amptelik 10:00 maar dit neem ons ‘n paar minute om behoorlik aan die gang te kom. Dorp uit en deur Poortjie Natuur Reservaat tot by die R332 wat ons tot by Patensie omgewing gaan neem, maar ons sal eers oor ongeveer 11 uur daar aan kom! Die weer voorspelling was vir ‘n wind van agter, maar waar ons nou ry is daar nie veel teken van wind nie. Ons draai na 31 km en 1:42 af Baviaanskloof toe. Nog so ‘n klein klimmetjie to bo-op Nuwekloofpas en dan gaan ons “offisieël” die Baviaanskloof binne. Dit is altyd ‘n voorreg om hier te ry. Die natuur is baie mooi en die pad is meer af as op! Daar is so ‘n paar klein opdraendes, maar ons daal merentyds tot by waterpunt 2 na 94 km.
Waterpunt 1, Vero’s Restaurant kom na 53 km en 2:26 se ry. Hier kry ons, soos gewoonlik roosterkoek en iets om te drink. Na 8 minute rol die wiele weer. Die wind stoot nou. Meesal, lekker van agter. So elke nou en dan, wanneer ons deur ‘n kloffie gaan, kom hy van ‘n ander rigting, maar meesal in ons blaaie. Oral langs die pad is daar mense wat ons aanmoedig. Ook by Dam se drif, een van die Freedom Challenge se Ondersteunings stasies. Na 94 km en 4:13 kom ons by waterpunt 2. Hier is daar suiker lekkers, piesangs en aartappels te eet. Ons maak ook waterbottels vol. Ons ondervind dat die waterpunte vandag baie meer “besig” is as in die verlede. Ons neem aan dit is omdat daar vandag meer mense is aangesien daar vanjaar net een wedren is en nie twee soos in die verlede nie. Ons het altyd die tweede naweek gery wanneer die atmosfeer ook meer “rustig” was. Ons stop hier vir 20 minute.
Tussen waterpunt 2 en 3 moet ons oor Grasnekpas. Oor die 5 km klim ons 190 meter. Anderkant af daal ons 250 meter oor 4 km. So ‘n entjie verder kry ons waterpunt 3. Hier is die tweede van ons “bokse” met onder andere ons ligte, want ons verwag om teen donker by waterpunt 4 uit te kom. Hier is ook altyd sosaties en vanjaar is dié besonder lekker. In die verlede was dit gewoonlik te droog gebraai, maar vanjaar is dit so lekker ek eet sommer twee. Die Coke is ongelukig warm so daar word net een glasie gedrink. Nadat waterbottels weer vol is en ligte op ons fiets gemonteer is, val ons weer, na 18 minute in die pad.
Net na die waterpunt kom “langwater”. Hier loop die pad in die rivier af en moet ons vir ongeveer 600 meter in die water ry of loop. Die water is nie baie diep nie, so 15 na 30 cm, maar die oppervlakte is klipperig en redelik onstabiel. Baie mense verkies om te loop, maar ek ry deur. Moes een keer stil hou toe iemand voor my tot stillstand gekom het, maar verder geen probleme nie. Johann merk op dat hy lanklaas die water so laag gesien het. Net ‘n entjie na die “langwater” kom die “fangs”. Twee kort en styl klimme van so ‘n paar honderd meter elk. Gedeeltes is ook met sementblokke uitgelê. Ons ry nou deur van die mooste gedeelte van die Baviaans. Redelik dig begroei met ‘n stoompie al langs die pad.
Op 133 km begin ons klim met Holgatpas, ook bekend as MAC. Mother of All Climbs! Ons klim oor die volgende 9 km van 160 meter na 645 km, die meeste daarvan oor die eerste 6 km. Na dié 6 km is daar ‘n groot parkeer area waar ons gewoonlik eers weer “konsolideer”. Ek ry vooruit en Johann vergesel vir Annemarie. Hulle kom so 15 minute na my daar aan. Nou is dit die laaste 3 km teen ‘n gelydelike 3-6% klim tot by waterpunt 4. Die son het net begin sak toe ek by die parkeerplek gekom en teen die tyd wat ons waterpunt 4 bereik, is dit donker.
Ons staan nou op 142 km en is al vir 8:48 aan die gang. Hier kry ons lekker warm sop. Daar is ook geleentheid om ander klere, wat ons in ons boks gesit het, aan te trek. Ek besluit om niks ekstra aan te trek nie, maar neem my warm sokkies en “thermal” langbroek saam om by waterpunt 5 aan te trek. Ek trek my baadjie se “hoodie” oor my kop om dit warm te hou. Ons vertoef 37 minute hier.
Die pad af is rof en nou met ‘n afgrond aan ons linkerkant. Ek ry redelik rustig. Wil nie nou val en my Europeese rit wat Vrydag 15 Augustus begin, bederf nie! Johann en Annemarie is agter my en ek ry aan tot by die Natuur Reservaat se hek, waar ek vir hulle wag. Langs die pad sien ek ‘n meisie met ‘n fiets waarvan die ketting pap hang. Sy vra dat wanneer ek ‘n man met ‘n koplig sien, ek vir hom moet sê sy het probleme. Gelukkig is dit afdaend so sy is aan die beweeg! Na so ‘n paar kilometer kry ek ‘n groepie van drie wat, op navraag, bevestig dat sy deel van hulle is. Hulle kom tussen waterpunt 5 en 7 by ons verby. Hulle het darem haar fiets weer aan die ry gekry, maar sy het net drie ratte! Hulle is egter sterker as ons en ry onder ons uit.
Na 176 km en 11:17 se ry, kom ons by waterpunt 5, wat vanjaar terug by die pakhuis net voor Andrieskraal is, aan. Ek gee die “chip rol” ‘n mis en drink net ‘n paar glasies Coke. Trek ook my warmsokkies aan. Na 18 minute ry ons weer. Nou kom die “never ender”. ‘n Bult van 12 km waar tydens ons 245 meter klim. Die gradient wissel so tussen 3 en 7%, maar hy is lank. Voor hom is daar ook nog so ‘n klein bultjie en na hom volg daar ook ‘n paar, een na die “onbemande” waterpunt op 198 km. Toe ek daar aankom sê ek vir my maats dat ek nou net op “fumes” ry! Na ‘n verdere 5 km kom ons by die laaste waterpunt aan, maar net voor hom neem hulle ons onderdeur die grootpad en met ‘n kort, maar baie styl bult op na die waterpunt toe! Hier is daar “jaffels” en drink goed. Ek het gehoop daar sou Milo wees, maar moet maar “settle” vir nog Coke. My “jaffle” was koud, maar op die stadium maak dit nie ietlik saak nie! Na 22 minute durf ons die laaste skof aan.
Nog net 21 km oor, maar dit sluit die “mini MAC” en ‘n lelike klim net voor die einde in. So dit gaan ons nog ten minste 1:30 neem voor ons klaar maak. Die pad na die “mini MAC” toe ry lekker en ons handhaaf ‘n goeie pas. Ons kan nou al Jeffreysbaai se ligte sien, maar ek weet wat voorlê. Die MAC is rof en onbeskof, maar ek druk deur en trap hom uit, net net! Dit word gevolg deur ‘n lekker glyk stuk en ek wens dit kom tot by die einde so gaan! Op 228 km draai ons regs. Aanvanklik is die buklt nie te styl nie en daar is selfs ‘n stukkie afdraend, maar dan kom die voor laaste kilometer waar tydens ons 40 meter moet klim. Na 223 km is die nie baie lekker nie. Ek sukkel so aan teen 5-7 kpu en dan draai ons links en kan Montorskraal se ligte sien en die aankondiger se stem hoor!
Na 224 km en 15:29 kom ons by die einde aan. Weereens ‘n lekker aangename “avontuur” en volgende jaar is ek terug. Vir hoe lank nog? Ons sal maar moet sien.
Statistiek: 224.13 km 15:29 Totale klim is 3,087 meter en ons het 3,787 meter gedaal. Hulle sê mos dit is afdraend van Willowmore na Jeffreysbaai!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking