Donderdag 28 Augustus 2025

Euro Toer Dag 13




Die hotel se ontbyt is voortreflik! Yoghart, crousante, ham, kaas, flapjacks, muffins, sap en koffie. Ons laai goed en kom 08:02 weg. 

Dit reën liggies, so ons moet maar voorsorg tref. Deur die dorp en dan begin ons onmiddelik klim. Niks ernstig nie, maar genoeg om hitte op te wek met al die reën klere aan!  Daarna is dit goeie teerpaaie. Ride with GPS maak seker ons bly weg van die besige paaie. Cuneo is net 59 km weg, maar ons roete is 84 km. 

Na so 'n uur se ry hou dit op met reën. Ons ry nou bult af en my reënklere hou my lekker warm. Navigasie deur die dorpe raak nogal ingewikkeld want die App hou ons weg van die verkeer, wat nie altyd die korste en makliste pad is nie. So elke nou en dan volg ons eder die makliker opsie.

Ride with GPS neem ons teen 'n paadjie, wat uit vaste klippe en gras bestaan en op 'n plek 'n gradient van 20% het, op. Danie vra of die App nie net op teerpaaie kan bly nie. Gelukkig is dit net 'n paar honderd meter en ook al van die aard wat ons in die dag tee kom! Bo is ons weer op teer en gaan ons 'n stukkie bult af! Ons is nou op die groot klim van die dag en die pad klim gou weer. Waar ons gemiddelde spoed voor die klim 12 kpu was, val dit nou na 9.6! Dit hou so aan tot op 18 km, dan vlieg ons weer bult af! Na so twee uur se ry hou ons stil vir "oggend tee" en om van die reën klere ontslae te raak want dit het ophou reën, die son neig deur die wolke en die temperatuur het gestuig.

Ons navigeer deur 'n aantal groterige dorpie en dan betree ons die "platteland". Ons ry nou op klein paadjies met min verkeer en 'n pad wat gedurig op en af gaan. Na een so 'n "op" kry ons 'n koffiewinkel en stop om ook ons broodjies, wat ons vanoggend gemaak het, te eet. 



Net nadat ons hier wegtrek begin die weer liggies reën. Ek trek my Specialized reënbaadjie aan. Die baadjie het ek voor BB2BB2 gekoop en dit het aanvanklik baie goed gewerk, maar toe sy waterdigtheid verloor. Ek het dit reggekry om hom om te ruil en hierdie is nou die vuurproef. Hy het gister goed gehou, maar toe het dit nie so hard gereent nie. Ongelukkig slaag die basdjie nie die toets nie en ek begin agterkom dat my klere nat raak. Gelukkig het ek, as voorsorg, 'n ander reënbaadjie en broek voor die toer gekoop. Ek hou stil om die baadjie aan te trek en kan bevestig dat hy beter werk. 

Ons ry nou heeltyd in sagte deurdringende, Bolandse tiepe, reën. Ek het nog heeltyd met my selfoon op my fiets se handvatsels, in die reën genavigeer. Ek is egter versigtig om my foon te nat te laat raak en sit hom onder my klere uit die reën. Ek tik "Cuneo" op my Garmin in, hy lei ons op die regte pad. Ek hou so elke nou en dan stil om my selfoon uit te haal net om seker te maak ons is nog op die regte roete. 

Danie stel voor ons stop by die laaste dorp voor Cuneo om te kyk vir verblyf. So gesê, so gemaak. Google Maps dui aan dat daar baie blyplek in Cuneo is, en ons ry aan. Garmin, van wie die roete met Ride with GPS ooreenstem, neem ons met die mooiste "agter paaie" deur klein dorpies en landerye, meesal mielies. 




Net voor ons by Cuneo kom, hou die reën op. Ek monteer weer my selfoon op my handvastels en kry die pad na 'n hotel in die middestad met behulp van Google Maps. Ons ry onder andere by die mooiste brug, wat soos 'n ou Romeinse "aqueduct" lyk, verby. Dit is die Viadotto Marcello Soleri brug wat vanaf 1913-1937 gebou is. Dit bestaan uit 34 baksteen boeë en bedien pad en spoor verkeer. Op die nrug is daar 'n teken met die rigting en hoogte van al die vernaamste pieke in die omtrek, onder andere ook Argentera, waar ons oor die grens gaan.




Kort hierna kry ons die hotel. Hulle is egter vol bespreek met 'n groep fietsryers! Ons probeer weer met Google Maps en kry 'n ander opsie net om die hoek. Die keer is ons gelukkig!

So ons het ons langste dag, wat afstand betref, oorleef. Die reën was nogal 'n uitdaging, maar ons het dit gemaak. Ons is nou 69.5 km van die grens en slaap môre aand in Ponterbernardo, wat 15 km duskant die grens is. Saterdag gaan ons Frankryk binne.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking