Gisteraand bestaan aandete uit 'n "primi" en "secundi"! Primi was spaghetti met met pesto en secundi was lams vleis met aartappels. Ons het onsself omtrent oorvreet!
Ontbyt was 07:30 en het betaan uit yoghart, roosterbrood, sap, koffie en koek. Ons besluit om die koek vir padkos saam te neem. Toe ons die rekening betaal, kry ons 'n bonus cuppacino!
Ons kom 08:00 aan die gang en die gestoot begin sommer gou. Verloor ook die spoor en moet eers rondloop om regte spoor te vind. Dit is maar rof. As ons maar geweet het wat kom!
Ons stoot tot bo op die bult, net om te sien dit is nie bo op die bult nie! Die plantegroei hier is kort graslande. Die roete is 'n rowwe paadjie deur die gras en is besaai met groterige klippe, so ry is onmoontlik want ons kan nie lekker onderskei tussen klippe, gras en gate nie. Die klippe is ook gedeeltelik bedek met gras so om te ry is 'n risiko want jou voorwiel kan skielik teen 'n klip vassteek en dan val jy. Ons kan ook gisteraand se blyplek in die verte sien.
Die uitsig is weereens asemrowend. Vordering is maar stadig. Aanvanklik is dit net die "gras profiel" oor die heuwels, maar dan begin ons ernstig klim. Die klim is nie die probleem nie, maar die oppervlakte en helling. Ons moet ons fietse letterlik oor die klippe tel om die opdreandes te bemeester. In die eerste 3:20 vorder ons net 8.6 km! Dit is stadig en vermoeiend! Ek het nog nooit in my lewe so stadig met 'n fiets gevorder nie. Nie eers toe ons die 20 passe in die Oos Kaap gedoen het nie! Vordering is pynlik stadig. Groot gedeeltes van wat ons vanoggend afgelê het, herrinner my aan gedeeltes van die Freedom Challenge roete en die laaste heuwel waar ons op is, is vergelykbaar met die Leer uit Gamkaskloof (Die Hel)!
Net voor ons die laast twee kilometer begin, kry ons uiteindelik 'n rybare pad wat teen die rant van die berg loop. Dit word ook op Ride with GPS in wit aangedui. Daar loop ook 'n witstreep af na die naaste dorp, so ons kan die teer opsie oorweeg. Die uitsig sou hier ook besonders gewees het, maar die mis het oor gekom en ons kan nie verder as 100 meter sien nie.
Na net meer as 10 km en 4:10 se "beweeg" kom ons by 'n Rifugio aan. Toe ons hom sien begin ons die "odds" gee vir die moontlik van koffie. Ons begin by 60/40 en soos ons nader kom verlaag dit tot 90/10! Ons was toe gelukkig en kry koffie en 'n geroosterde broodjie!
Na 31 minute is ons weer aan die gang. Ons roete word nou in wit aangedui, so die moontlikheid van 'n rybare pad bestaan. Ons volg dus die roete. Ons kom ook 'n paar voertuie en twee padfietsryers tee, wat dui dat die teerpad aan loop.
Na ongeveer 2 km gaan die teer egter links weg van ons roete en ook nie 'n opsie watvobs kan volg nie. Ons roete loop reguit die bosse in. Ons pad lyk redelik. Daar kom 'n Hollsndse fietsryer, wat te oordeel aan sy begasie, ook op toer is. Ons stop en gesels. Hy is oppad Siclië toe! Ons verneem na die toestand van die pad. Hy sê dit is maar rof met "hike-a-bike" seksies maar oor die algemeen redelik. Ons vertel hom hoe swak die pad vorentoe vir hom is en dan groet ons.
Dit nou besluit tyd: gaan ons aan of daai ons terug en volg die teerpad? Ek stap 'n ent op die roete af en vind dit redelik. Terug by Danie gee ek hom die opsie om met die teerpad te ry terwyl ek by die roete hou. Ons kom ooreen dat ons dit gaan doen en mekaar weer in Sassello sal kry.
My roete begin heel goed. Ek verloor die spoor op 'n kol, maar vind dan die regte weg. Hoe later hoe kwater! Die roete word al slegter. Nie so sleg soos vroeër nie, maar so dat ek nie kan ry nie. Meesal afdreand. Vordering is maar weer stadig. Dit hou so vir 2 km aan. Dan gaan ek die woud binne en kry 'n spoor wat 70% rybaar is. Dit is weer meesal af, so ek ry masr stadig want die helling is kwaai. Dit hou seker vir nog so 2 km aan totdat ek eindelik 'n "jeeptrack" optel. Nou gaan dit beter. Dit is ook meesal af, teen 'n kwaai helling, so ek kan nie te vinnig ry nie.
Die pad kronkel deur die woud en ek vorder nou goed. Dit is weereens 'n voorreg om soos tussen die bome deur te ry. Die bome is so dig, ek ry heeltyd in skaduwee. Na ongeveer 20 km kom ek by 'n plaas uit. Hier merk ek op dat ek so 100 terug regs moes draai, maar ek kan nie onthou dat ek 'n pad gesien het nie! Ek gaan terug en kry eindelik 'n onduidelik pad wat reg lyk volgs my app. So 'n ent weg met die pad, sien ek dat ek nou links van die roete is. Ek hou stil en stap regs, maar sien niks. Dit blyk egter dat die pad ook Sassello toe gaan, so ek ry aan.
Ek sluit by 'n teerpad aan, draai regs en 4 km verder is ek in Sassello. Ek stop by 'n koffiewinkel en stuur vir Danie 'n pin van waar ek is. Hy kom so 'n half uur later daar aan. Ons kry blyplek in die straat af en is voor 15:00 klaar vir die dag.
Wat 'n dag. Danie sê hy het vandag 'n paar "boundries" wat hy nie gedink hy nooit oor sou gaan nie, oorgesteek. Op so 'n dag bewonder mense net waartoe jy in staat is. Jy is bly jy het dit vermag, maar dit was nie 'n plesier nie en jy sal dit nie sommer weer wil doen nie!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking