Saterdag 31 Augustus 2024

Louvain toer Dag 2


 

Knysna na De Vlugt via Kom se Pad

Aangesien dit net 57 km na De Vlugt toe is, het ons besluit om eers ontbyt te eet voordat ons die pad aanpak. Ontbyt is 07:30 en ons kom net na 08:00 weg.


Ons begin sommer met die Simola klim, wat jaarlikse vir die Simola Bergklim motorwedren gebruik word. Gelukkig is dit teer en die gradiënt is oor die algemeen so tussen 6-9% met dele wat op gaan na 12%. Bo oor is dit weer kwaai af vir so 'n kilometer of twee en dan kom die volgende klim. Hy is 1.18 kilometer maar die gemiddelde gradiënt wissel tussen 10-14% en ons klim 155 meter! Die gemiddelde gradiënt is 13%! Ek "grind" die bult uit teen tussen 3.5-4 kpu.



Dit word gevolg deur 'n redelije gelyk stuk en dan 'n 8.5 km bult, maar hier is die gemiddelde gradiënt 5.05% en ek handhaaf so tussen 8-12 kpu. Bo is die uitsig weereens iets besonders.



Nou daal ons af in die Knysna woude in. Ons ry letterlik deur 'n tonnel van inheemse bosse. Dit lyk of iemand varings langs die pad geplant het! Die pad oppervlakte is ook oor die algemeen besonder goed. Daar is so elke nou en dan 'n styl "knoppie" wat die bene toets. Na 27 km sluit ons by die R339 aan. Hier is die pad oppervlakte nog beter. Daar is dele wat gladder as baie teer paaie is. Ons het oor hierdie 24 km amper 900 meter geklim. Dit kom op 35 meter per kilometer te staan! Dit is nogal "rof" wanneer dit by bergfiets ry kom. Enige iets oor 20 is veeleisend!



Nou is ons op die R339, wat Knysna met Uniondale verbind. Hier is die pad weer meesal so glad soos 'n babatjie se boude! Aanvanklik is ons redelik gelyk maar ek weet daar wag nog 'n paar lekker bulte. Veral een wat 4.75 kilometer lank is met 'n gradiënt van so 4-8. 'n Groot gedeelte is ook in die son en die oppervlakte is los gruis. Verder waai daar elke nou en dan 'n sterk dwarel wind reg van voor. Gelukkig is dit nie te warm nie. 


Bo wag ek vir Mike en Danie. Hulle kom so 10 minute later daar aan. Nog so 'n klein entjie dan daar die pad links. Daar is 25 km oor. Van hier is dit meesal afdraend tot by De Vlugte met net drie kort, so ongeveer 1.5 km elk, bulte om ons stamina te toets. Danie sukkel nog met sy rug en verder maak die rowwe afdraendes die lewe vir hom baie moeilik met sy "gravel" fiets wat net 30 mm "travel" het. Ons ry verby die R340 wat regs draai Wittedrif en Plettenbergbaai toe.



Na 'n lekker lang afdraend kom die eerste van die laaste drie bulte. Net voor dit stop ons by 'n spruitjie om ons waterbottels vol te maak. Daar is geen skaduwee langs die bult nie en die son braai ons uit. Ek gooi van die water oor my kop en teen my rug af. Ander kant af jaag ek en Mike mekaar. Dan nog 'n bult. Ek vergeet van die laaste een en maak nou die pap dik aan. Ek wag heeltyd vir die laaste afdraend om te kom, maar na 'n ruk gee ek op en verslap die pas. Om sake te vererger kom die laaste bult ook nog! 




Weereens moet ek dit maar net uit "grind"! Met 6 km oor is ons bo op laaste bult en nou is dit beslis bo! Ek laat waai teen die bult af. Die pad is redelik rof as gevolg van al die reën maar my bergfiets hanteer dit uitstekend. Na 5 uur en 40 sekondes hou ek by die Plaaskind Padstal, waar ons vannaand oorbly, stil. Nog 'n goeie dag in die saal agter die rug! 


Tyd 5:00:40; afstand 57.29 km; meters geklim 2,035.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking