Donderdag 08 Augustus 2024

Citrusdal toer Dag 1



Bloubergstrand na Piketberg


My dogter, Carine, het op 11 Julie 2024 ma geword. Ek besluit toe op vir die "gesin" in Citrusdal te gaan kuier en wel per fiets! Beplan om Dinderdag 8 Augustus tot in Piketberg te ry en die volgende dag deur Citrusdal toe. Kuier dan twee dae daar en ry dan terug via Moorreesburg.


Voorbereidings is getref en die weer is dop gehou. Aanvanklik wou dit lyk of die weer 'n stokkie voor my planne gaan steek, maar op die laaste nippertjie lyk of Donderdag en Vrydag gaan werk. Donderdagaand gaan dit skynbaar hard reën in Pikterberg, maar indien die weer goor is, vra ek vir Henk om te kom haal.


Ek en Mike Smit ry gewoonlik Donderdagoggende en gesien die weer voorspelling vir Donderdagnag in Piketberg, besluit ek om 06:00 in die pad te val om die moontlikheid om deur die teën gevang te word tot 'n minimum te beperk. Ons begin dus 06:00 te ry.


Die eerste gedeelte van my rit is dieselfde as wat ons gewoonlik Donderdagoggende ry, naamilk van Bloubergstrand na die Ou Malmesbury pad net verby Capaia. Van daar ry ek met die Ou Malmesbury pad oor Kalbaskraal tot in Malmesbury. Mike ry tot by die Philidelphia pad saam en ry dan via Philidelphia huis toe. Dit neem my net meer as 4 uur op die 62 kilometer Malmesbury toe af te lê. Die pad is onlangs oor gedoen en dus in 'n baie goeie toestand. Die paaie in die Boland het egter baie min gelyk gedeeltes, dus is dit heeltyd op en af. Gelukkig is die bulte nie baie lank of styl nie. In Malmesbury stop ek by Seatle Coffee by die nuwe winkelsentrum vir 'n muffin en koffie. Na 21 minute is ek weer aan die gang.


Net toe ek die Ou Piketberg pad bereik begin dit liggies reent. Ek hou stil om my reënbaadjie se kappie oor my kop te trek en my Brookes saal se reënskerm oor te trek. Die reën is gelukkig nie ernstig nie ek is ook warm genoeg aangetrek. Ek herken 'n gedeelte van die pad wat ek ry as een wat tydens die Amarider se 100 miler, maar in die teenoorgestelde rigting, gebruik is. My Garmin ly my elke nou en dan op baie obskure paadtjies maar wanneer ek dit met Komoot nagaan sien ek dit is die regte roete. Dit maak die rit net so 'n ekstra bietjie interessanter! Daar is natuurlik ook 'n paar hekke maar hulle is darem nie gesluit nie en het nie "geen toegang" tekens nie!



Op 'n kol begin dit harder reent maar weerens nie vir te lank nie. Na net meer as 8 ure se ry, sien ek die Bergrivier. Vir die volgende 2 uur ry ek redelik naby die rivier kruis hom self oor 'n ou nou ysterbrug. Oppad brug toe is daar natuurlik 'n lekker afdraende wat aan die anderkant opgevolg word deur 'n lang opdraende! Soos vroeër genoem is hier nie veel gelyk gedeeltes nie en gaan die pad óf op óf af! Die lande is lieflik groen en dit is 'n groot voorreg om deur so 'n mooi omgewing te kan ry! Net voor ek oor die brug is, stop ek by, wat duidelik chalets is wat reg langs die rivier geleë is om my waterbottel vol te maak. Al die eenhede is gesluit maar voor elkeen is daar 'n paar sakke hout en 'n braaidrom. Hier gaan sekelik die naweek gekuier word!





My blyplek is op die Velddrift pad, dus moet ek oor die N7 en dan vir 3 kilometer klim tot daar. Die aanvanklike klim is redelik, maar die laaste 300 meter, nadat ek van die hoofpad afgedraai het, wissel tussen 8 en 15%! Gelukkig is "Reception" darem nie ook bult op nie maar links!




Die wind loei nou buite en ek sal mooi na my opsies vir môre moet kyk. My plan was om oor Beaverlac te ry maar met die weer en die moontlikheid dat ek miskien nie toestemming kan kry om deur te ry nie maak die opsie om direk Citrusdal toe te ry via Eendekuil moontlik 'n beter keuse. Die afstand is 58 kilometer en ek hoort binne 4 uur in Citrusdal te wees. Beaverlac is naasteby 100 kilometer en gaan my minstens 8 uur neem. 




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking