Maandag 12 Augustus 2024

Citrusdal toer Dag 3

 


Citrusdal na Moorreesburg


Ek het die naweek lekker by Carine, Henk en Alina gekuier. Maandagoggend vat ek weer die pad terug Blouberg toe. Henk het my die nommer van Wilinda Hanekom op Moorreesburg gegee. Sy het 'n B&B daar. Ek skakel haar Saterdag en sy het plek vir my. Toe sy agter kom dat ek vroeër 'n rit vir CANSA (BB2BB2) gedoen sê sy ek kan verniet bly! Haar man is ook 'n kanker "survivor"! 


Die wiele begin net voor 07:30 rol. Daar is 'n "Stop en Ry" waar die pad verspoel het, so ek moet maar my plek in die tou in neem. Ek kan darem tot voor ry en die gedeelte van die pad wat vir die motors toe is, is rybaar met 'n fiets. 


Ek ry weer met Greys Pass oor Piekeniersnek. Dit is 'n redelik klim van so 9% tot bo. Die pad is in 'n goeie toestand tot so een kilometer van bo, waar daar 'n hek is, wat gesluit is. Ek tel my fiets oor en ry verder. Hier is die pad erg verspoel. Net voor  die einde is die pad heeltemal weg en is daar 'n twee meter diep gat. Gelukkig is dit naby aan die heining en die N7. Ek kan dus my fiets oor die heining tel en verder met die N7 ry. Reg bo draai ek regs en dan weer links op Greys Pass. Ek hou so 'n entjie af stil om iets te eet en die uitsig te geniet! 



Onder sluit ek by die Citrusdal/Eendekuil teer pad aan. Die volgende 10 km is teer totdat ek die Draaihoek pad kry, wat grond is. Hier draai ek links en ry verby GP Rossouw-hulle, wat my Vrydag van "verdrinking" tydens die groot reën gered het, se plaas, Draaihoek, verby. Die pad het 'n paar waterpoele, maar is in 'n baie goeie toestand. Die oppervlakte is ook sanderig wat beteken daar is baie min modder. Na ongeveer 10 km sluit ek by die Elandsbaai/Piketberg teer pad aan. Nou nog 20 km Piketberg toe. Alles teer. 



Deur die dorp kry ek die Crazy Cat koffie winkel. Ek stop hier vir twee crousante met konfyt en kaas en twee koppies koffie. 



Na 32 minute is ek weer oppad. Ek ry met dieselfde pad waarmee ek Vrydag in gekom het. So 3 km verby Dun's Castle draai ek links Koringberg toe. Ek ry verby 'n lemoen boord wat oortrek is met lemoene. So 'n entjie verder draai ek regs op 'n grondpad net na 'n huis waar 'n man besig is om sy motor te was. Hy skree vir my "die brug is toe". Ek stop en draai terug. Hy lig my in dat die laagwater brug oor die Bergrivier onder water is maar dat ek met die treinbrug oor kan stap. So gesê, so gemaak! 



Om die draai is 'n deel van die pad weer onder water, maar die verkeer kan oor kom deur oor 'n damwal langs die pad te ry. Hoe meer dae, hoe meer dinge! Ek doen navraag by 'n jong man op 'n "quad" en hy bevestig dat die pad Koringberg toe, oop is. Ek ry verby plaate geel blomme en aan een lopende groen koring lande. 





By Koringberg draai ek regs. Die grondpaaie in die omgewing is almal in 'n baie goeie toestand.  Daar is 'n paar bulte wat natuurlik deur afdraendes gevolg word, gelukkig nie te styl nie. Met nog 18 km oor, draai ek links op Main Road, wat my tot in Moorreesburg neem. 


Ek stop net voor die dorp en tik die adres van my bly plek in. My Garmin neem my deur agter strate en ook op 'n pad wat teen 'n sloot dood loop! Ek moet noodgewonge om ry, maar Garmin kry my weer op die regte pad. Ek koop 'n 2 liter Coke langs die pad en bereik my bestemming net na 15:00. 


So eindig nog 'n goeie dag in die saal. Die weer was perfek en ek het die rit ter deë geniet.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking