Vrydag 30 Augustus 2024

Louvain toer Dag 1


 Louvain na Knysna via die Louvain 4x4 roete, Woodville en die Sewe Passe pad.

Die gedagte van die Louvain toer het sy wortel in my verkenning van die Louvain 4x4 roete in Desember 2023 en is in Mei vanjaar beplan. Ek en Danie Kotze het dit vasgemaak vir die laaste naweek in Augustus.  Mike Smit, wat Kalagadi toe sou gaan, besluit tor om saam te kom nadat die besoek uitgestel is. Ek, Mike en Danie vertrek 12:00 uit die Kaap en kom so 18:30 by Louvain aan waar ons in die Stalle inbespreek is. Lekker vleis gebraai en so 21:30 verkas ons bed toe. Ons beplan om so 08:00 môre oggend in die pad te val.



Ons begin so net voor 07:00 roer en kom 07:47 weg. Om die dam en op Louvain se 4x4 roete. Dit begin redelik, maar hoe verder, hoe rowwer! Aanvanklik ry ons, maar dan raak dit so styl en klipperig dat ons nie momentum kan behou nie en verplig is om af te klim en te stoot tot op kilometer 3. Van hier af raak die gradiënt redeliker en kan ons weer ry. Op 5.65 kilometer is ons heel bo en word beloon met 'n lieflike panoramiese uitsig. Ons kan tot by die Swartberge in die Noord Weste sien en Suid kan ons Swartvlei uitmaak. 



Toe ek verlede Desember hierdie roete verken het, was die pad van hier af vir die volgende 3 kilometer vir groot gedeeltes onrybaar. Morne, die eienaar van Louvain, het regtig baie moeite gedoen om die pad te herstel. Blykbaar het dit R170,000 gekos. Daar is hoop vir die Montagupas! Die gevolg is dat ons die hele pad kan ry. Dit is nou meesal afdraende met so hier en daar 'n klein klimmetjie, behalwe een van so 'n kilometer wat by 19% draai. Na 17.5 km kom ons by die einde van die Louvain 4x4 roete aan. Nou is dit heel pad bult af tot by die Sewe Passe pad.




Na 2:33 en 22 km kom ons by die Woodville Padstal, waar hierdie roete by die Sewe Passe roete aansluit, uit. Ons stop vir 'n vars bobotie pasty en "plunger" koffie. Ons vertoef 24 minute en toe is ons weer oppad. Nou is dit op en af met die sewe passe pad. Daar is nog drie van die sewe passe oor oppad Knysna toe. Die pad is oor die algemeen in 'n baie goeie toestand. Die volgende 54 neem ons 3:34! Die roete is baie mooi en ons ry lekker saam. Danie sukkel 'n bietjie met sy rug. Hy stel sy saal 'n bietjie laer en dit blyk die probleem gedeeltelik op te los. 




Ons ry deur Rheenendal en by Phantompas af. Onder kruis ons die Knysnarivier oor 'n yster brug wat eintlik daar is om 'n pyplyding oor die rivier te kry. Gelukkig is daar ook 'n pad wat net reg is vir fietse.



Van hier is dit net meer as 5 km na Lagoon Lodge, waar ons vannaand oor bly. Die "cherrie" op die koek is dat daar 'n restourant binne stap afstand van Lagoon Lodge is.

Nadat ons klaar gestort het, stap ons oor vir iets om te drink. Ons bly sommer daar tot na aandete. Môre gaan ons eers ontbyt eet en dan so 08:00 in die pad val. Die afstand vir die dag is 57 km en ons beplan om so omtrent 5 uur op die pad te wees.





















Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking