Vrydag 09 Augustus 2024

Citrusdal toer dag 2




Piketberg na Citrusdal Deel 1 en 2


Ek was vannag bevrees dat die wind die gebou se dak gaan afwaai! Vanoggend lyk darem heelwat beter. Na 'n lekker ontbyt begin ek net na 08:00 ry. 


Ry deur Piketberg. 08:20 begin dit hard reent! Ek stop onder 'n afdak en na 5 minute bedaar dit en ek begin weer ry. Weer OK maar lyk nie te belowend in die rigting wat ek wil gaan nie. Oor Bo Piket is daar stukkies blou lug sigbaar. Dit reën aan en af maar meesal nie te hard nie. My klere werk vir ligte reent, maar in die weer raak ek redelik nat, veral aan die voorkant en my bene. 


Ek ry verby 'n Suiderland Plase stoor en ek kry toegang deur 'n oop sy hekkie om 'n bietjie skuiling te soek maar daar is niks en ry dus aan. Die voor uitsigte Piekenierskloof toe lyk al beter en dit trek oop. In die rigting wat die pad loop lyk dit nie goed nie. Na 'n paar minute tel die wind op en dit begin hard reent. Dit raak so erg dat ek na my laagste rat moet oorskakel net om voort te beweeg. 'n Motor kom by my verby en draai regs op 'n plaaspad. Die bestuurder se venster gaan af en die "laatjie" sê "haai Oom dit is darem nie lekker om in sulke weer fiets te ry nie!". Op die stadium bedaar die wind en dit reent minder. Hy stel voor dat hy sy bakkie gaan haal en my Eendekuil toe neem en ek aanvaar sy aanbod. Sy naam is GP Rossouw en hulle boer naby Eendekuil en plaas se naam us Draaihoek. Hy mask vanjaar klaar met skool en wil volgende jaar VSA toe en dan die jaar daarna Elsenburg toe.


Die pad waarop ek nou is het ek al vantevore gesien en oorweeg as 'n opsie tussen Eendekuil en Piketberg. So 2.5 kilometer die pad af kry ek hom en sy bakkie. Laai fiets op die bak en ry Eendekuil toe. Hy laai my by Tokkie se Winkel, wat toe is maar 'n lekker stoep het, af. Ek besluit ek gaan hier wag totdat Carine of Henk my kan kom oplaai. Na 'n rukkie laat weet hulle dat hulle my eers na 12:00 kan kry. Dit is nou 10:30. In tussen het dit mooi op geklaar en ek besluit om maar weer in die pad te val. 


Dit is 7 kilometer tot by die afdraai na Greys Pass, wat die ou pas was voordat Piekenierskloofpas gebou is. Die son loer gereeld deur die wolke en dit word warmer. By die afdraai is daar duidelik tekens dat hier onlangs baie water af is. By die begin van Greys Pass is daar 'n "Road closed" teken. Ek het al hier gery so dit is nie 'n probleem nie. Die gradiënt van die pas wissel so tussen 5-9% met 'n paar dele wat opgaan na 8-11%. Oppervlakte is goed met 'n paar tekens van waar stormwater oor die pad geloop het, maar niks ernstig nie. So driekwart op stop ek om 'n foto te neem. Terwyl ek op 'n klip sit kom daar 'n Toyota bakkie verby so die pas word nog gebruik en ander mense ignoreer ook die "road closed" teken. Aan die bo kant van die pas is daar geen teken nie. Nogal vreemd. 


Toe ek bo links draai op die N7 begin reent dit weer. Ek hou by Ou Tol plaastal stil en bestel 'n roosterkoek en koffie. Nou sous dit weer. Ek laat weet vir Carine weet ek is daar en sy bied weer aan om my te kom haal. Ek aanvaar weereens. Teen die tyd wat sy daar aan kom het dit heeltenal opgehou met reën! 


So kom 'n baie interessante dag se fietsry tot 'n einde.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking