Woensdag 07 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 6

 Die hotel eienaar was betyds en ons het ons fietse 07:00 gekry nadat ons in die kamer ontbyt ge-eet het en die wiele het 7:07 begin rol.

Aangesien Pitigliano op ‘n “rots” gebou is, daal ons weer vining met ‘n kronkelpad tot by die rivier en moet dan weer die bult anderkant uit met ‘n soortgelyke kronkelpad. Dit word gevolg deur ‘n geleidelike afdraand totdat ons afdraai na ‘n natuurreservaat. Hier ry ons aanvanklik met ‘n teerpad al langs ‘n rivier. Die pad raak later grond en ons begin klim. Ons is omring deur bome en dit laat my dink aan Knysna se bosse. Na ‘n lang klim plat die pad af voordat ons weer verder klim. Die eerste 10 km het ons 30 minute geneem. Ons ry gedurende die volgende dertig minute net 3.5 km! 12.5 vir die eerste uur.

Die roete word weer gereeld afgewissel tussen sekondêre teerpaaie en redelik goeie grondpaaie. Elke nou en dan ry ons deur ‘n laning bome wat baie mooi is en ook koelte verskaf. Na omtrent 38 km kom ons langs ‘n rivier. Die pad kronkel saam met die rivierloop vir die volgende 20 km. Ons stop by ‘n groterige olyfboom om in die koelte te sit en rus terwyl ons ‘n ietsie eet. Langs die rivier is koring en “chick pea” landerye. Na ongeveer 3:40 ry ons Albinia binne. Ons hou by ‘n restaurant stil vir iets om te eet.

Na Albinia loop die roete oor ‘n soort van eiland voordat dit ongeveer 15 km suid weer by die land aansluit. Die eiland is aan die noorde en suide kant met die land verbind met small stroke land! Tussen die stroke is daar twee groot mere. Hennie het besluit hy gaan hierdie gedeelte uitsluit en direk deur ry van Albinia na Ansedonia waar hy dan weer die offisiële roete sal optel. Ek gaan by die offisiële roete hou. Nadat ons klaar ge-eet het, skei ons paaie. Hennei behoort so 2-3 uur voor my by die einde aan te kom.

Van Albinia na die eiland is ‘n plat pad met heelwat vakansie plekke aan albei kante. Die pad se naam is Strata Provincale della Giannella. Wanneer ek die “eiland” bereik styg die pad en om die draai het ek die mooiste uitsig. Noord is dele van die Italianse kus en suid is die “eiland” se kus. Dit is nie so big bebou en die helling is nie heeltamal so styl soos Clifton nie, maar dit laat my daaraan dink. Om die draai is die mooiste dorpie met ‘n hawe en baie klein seevaartuie. Die dorpie se naam is Potro Santo Stefano.

In die dorp draai die roete links en begin die eerste groot klim van die eiland. Die pad is aanvanklik teer maar raak later grond. Na ‘n hele paar kilometer word ek gelei na ‘n enkelspoor paadjie wat seker eintlik ‘n wandelpad is maar skynbaar ook deur bergfietse gebruik word. Die pad kronkel die berg uit. Daar is ‘n paar boerdery bedrywighede, maar op ‘n redelike klein skaal. Dele van die pad se helling is kwaai, maar ek kry dit reg om alles te ry behalwe vir een gedeelte van ongeveer 30 keter wat te veel los klippe het. Ek is nou aan die weste kant van die eiland en kan die see sien.

Hier is geen strande nie en die topografie is baie soos by Chapman’s Peak met rotse tot by die water. Die paadjie kronkel weereens teen die heuwel op totdat ek oor ‘n nek gaan. Anderkant ry ek met ‘n kontoerpad teen die hang langs totdat ek weer oor ‘n nek gaan. Hier is daar so ‘n paar huise en ‘n paar rybare paaie, waarvan sommiges geteer is. Nadat met ‘n baie styl (18%) teerpad weer oor ‘n nek gelei word, kom ek af op ‘n area wat skynbaar redelik ekslusief is. Die huise is redelik groot en modern en daar is ook ‘n paar strande. Ek ry al met die kus langs oor nog ‘n nek totdat ek op ‘n klein, weereens skynbaar redeleik eklusiewe, kusdorpie, af kom met die naam Porto Ercole.

Nadat ek met ‘n fietspad, wat langs die grootpad loop, oor nog ‘n nekkie gelei word, sluit die pad aan by die strook land wat die eilnad met die vasteland verbind. Hierdie is ‘n natuur reservaat wat bekend staan as Dana Feniglia. Die roete gaan deur ‘n dene bos tot by Ansedonia. Die laaste bult van die dag volg voordat ek met ‘n sanderige pad langs ry tot by nog ‘n teerpad.

Op 112 km besluit my Garmin om te “vries”. Dit het al van tevore gebeur. Al genade is om hom af te skakel en dan weer aan te skakel. Die problem is dat ek dan al my data vir die dag verloor! Baie frustrerend. Ek kry hom weer aan die gang en ry die laaste 6 km na die einde, waar Hennie, wat 12:26 klaar gemaak het met sy korter roete, my in wag.


Die einde is by ‘n sport klub en al wat daar is, is ‘n boek waar jy jou naam, die tyd, die datum inskryf en teken. Geen offisiële verwelkomming nie. Regtig baie “low key”.

Hennie koop vir my ‘n Coke en bottle water en ons twee ry die 2 km na ons bly plek waar die vrouens ons in wag. Ek word met ope arms en baie foto’s verwelkom. Dit maak op vir “low key”einde!

So eindig ‘n merkwaardige ondervinding. Die landskap waar ons deur gery het was voorwaar iets besonders. Die mense wat on slangs die pad ontmoet het, veral die ander deelnemers was altyd vriendelik en behulpsaam.

Dankie aan Hennie wat hierdie ondervinding saam met my geniet het. Dankie ook aan Sue en Helena wat ons so goed bygestaan het en daar was toe ons klaar gemaak het.

Laaste, maar baie belankrik, dankie aan ons Hemelse Vader wat ons die krag  en vermoë gegee het om hierdie wonderlike ses dae op ‘n fiets te geniet. Ons het absoluut geen meganiese problem gehad nie, net kettings ge-olie!

Data vir die dag: tyd 8:40, afstand 106 km, klim ongeveer 1,550 meter.

Totale tyd, slaap ingesluit, 5 dae 7 uur en 40 minute, 530 km en 10,300 meter se klim!






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking