Dinsdag 06 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 4

Tuscany Trail Dag 4

Die hotel gee nie ontbyt nie, dus het ek en Hennie sommer in die kamer ontbyt genuttig. Ons het op die kop 06:00 aan die gang gekom, maar Hennie sukkel met sy Garmin met die gevolg dat ons eers 06:20 begin ry. 

Die hotel gee nie ontbyt nie, dus het ek en Hennie sommer in die kamer ontbyt genuttig. Ons het op die kop 06:00 aan die gang gekom, maar Hennie sukkel met sy Garmin met die gevolg dat ons eers 06:20 begin ry. 

Ons het besluit om saam te ry en indien ek so voel, kan ek die laaste 20 km teen 'n vinniger pas aflê. Ons daal amper 300 meter binne die eerste 30 minute, maar met bergfiets ry beteken 'n afdraand dat daar 'n opdraand gaan volg, veral in Tuscany!  Dit word dus gevolg deur 'n uur se klim waar tydens ons weer 260 meter klim. Die roete bly baie mooi met golwende heuwels in die Toskaanse plattteland.
Ons eerste mikpunt is Siena, wat ons na 3:40 bereik. Daar is so baie toeriste dat ons soms ons fietse moet stoot! Die roete neem ons oor die stadsplein en ons stop vir 'n ligte ete. Die plein is baie besonders en daar word blykbaar nog jaarliks 'n perde wedren om die plein gehou. Ek weet net nie hoe die perde op die gladde klippe gehardloop kry nie! Ons kom na 33 minute weer aan die gang.

Ons het die vorige aand besluit tot waar ons sou ry, en indien ek vinniger as Hennie ry dan reël ek slaapplek en wag daar. Ek voel egter nie te sterk nie en Hennie ry baie goed.  Ons word elke nou en dan van die groter paaie weggeneem op onder andere die Francigena Pelgrims wandelpad, maar ook oor private plaasgrond. Ons is gedurig in verwondering oor hoe goed die roete saamgestel is. Terwyl ons nog so ry gaan my Garmin sommer vanself af! Ek moet hom weer aanskakel en alles werk reg! 


Ons kom na 84 km by Buonconveto en word om die dorp gelei. Terwyl ons ry gesels ek en Hennie oor afstand en ek het 106 km in my kom. Die afstand van Buonconvento na San Quirico is 21 km. Na 'n rukkie haal ons twee ander manne in. Ons ry so saam-saam maar ek en een van hulle is sterker en ry vinniger bult op. Toe ek bo kom besluit ek voel goed en begin vinniger ry oor die rollende heuwels. Ek haal ook 'n ander deelnemer in. Ek ry regtig baie lekker en vlieg teen die bulte uit. Net voor San Quirico haal ek die Sholtze in. Ons ry saam die dorp binne en stop in die hoofstraat by 'n kaffee sodat dit maklik sal wees vir Hennie om ons te kry. Ernst kry ook vir ons almal plek in 'n hotel. Hennie daag 30 minute later, saam met die twee ander manne op en is 'n bietjie ongelukkig. Hy weet nie wat van my geword het nie en ons het afgespreek om in Buonconvento te slaap! Ons is egter saam daardeur en het nie een daaraan gedink nie of daarna verwys nie. Na 'n bier voel hy beter. Tydens ons gesprek die volgende aand stem ons saam dat dit die regte besluit was om in San Quirico te oornag. 


Statesiek vir die dag: afstand 106 km; tyd 9:27:08, klim 1,581, daal 1.551 meter.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking