Sondag 04 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 3


My idee was om die wekker te stel sodat ek ek 07:30 in die pad kan val, maar toe maak ek 'n half uur fout met die gevolg dat ek eers 07:54 aan die gang kom. Die Scholtze het 06:30 begin.

Die eerste 20 km was plat fietsry paadjies langs die rivier wat deur Florence loop met die gevolg dat ek net voor 09:00 daar aan kom. Die roete neem ons deur die historiese stad, oor die beroemde brug met sy winkeltjies en aan die suide van die stad uit. 

Die klimme begin sommer nog voordat ons die stad verlaat. Die gradiënt is weereens redelik en ek  ry meesal op teer. Die baie klim bring egter my gemiddelde spoed vinnig af. Ek het beplan om tussen 12:30 en 13:30 in San Gimignano te wees. Dit blyk heeltemal te optimisties te wees. Ons word ook weer afgely op grondpaadjies en oor die algemeen gaan die pad of af of op. Ons ry selde op gelykpad. 

Na een van die klimme loop ek die Scholtze bo op 'n bult raak. Die het my 3:40 geneem om hulle voorsprong uit te wis. Ek groet en sê hulle moet laat weet wanneer hulle by San Gimignano is sodat ons 'n koffie kan saam drink. 

Die roete bly baie mooi sten spyte van die klimme. Ons ry tussen olyf boorde en wingerde deur. 'n Groot deel van die roete is oor plase en ons ry soms baie naby aan mense se huise verby. Party is redelik eenvoudig maar die meeste is heel indrukwekkend. Ons word omring deur koppies, party wat gehuggies bo-op het en ander met groot huise. Ek bereik Tavernalle na 4:15 se ry. 

Ons word baie gou weer afgely op 'n grondpad met 'n helling wat skrik vir niks. Ek is redelik seker dit was baie naby aan 30%! Die feit dat dit deur bome omring word en ek dus in die skadu ry, maak dit darem so 'n bietjie makliker! Ek kan darem nou al vir San Gimignano in die verte sien. Ons daal egter eers af na net oor die 100 meter voordat die klim na oor die 300 meter begin en dit alles in die laaste 10 km. 


Ek bereik my bestemming na 7:05 met 'n totale afstand van 92.6 km en ek het 1,766 meter geklim en 1,526 meter gedaal.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking