Saterdag 03 Junie 2017

Tuscany Trail Dag 2

Ons het 06:24 in die pad geval. Die eerste bult het op 6 km begin. Die pad was 'n teerpad met 'n rybare gradient. Ons het teen 'n redelike spoed gery, alhoewel Hennie begin agter raak het. Hy het egter binne oogafstand gebly en 'n redelike pas gehandhaaf. Na 10 km was daar 'n grond afdraai paadjie wat ek gemis het. Ek het egter my fout agtergekom en omgedraai. Ek besluit toe om vir Hennie te wag. Dit was op 13 km. Na 10 minute het hy nog nie opgedaag nie en ek het toe maar bult af gery om hom te soek. So 'n entjie verder kry ek toe vir Diego en sy vriende. Diego se ketting het tussen sy "sprocket" en die speke in vasgeslaan en hy wag toe vir iemand om hom te kom help. Ek leen een van sy vriende se telefoon en skakel vir Hennie om te hoor waar hy is. Hy sê hy is oppad, besig om te stoot. Ek ry 5 km bult af op soek na Hennie maar kry hom nie. Ek besluit toe maar om aan te ry en vir hom bo op die bult te wag. By Diego sê ek vir hom dat hy vir Hennie moet sê ek wag bo op die bult wanneer hy daar verby kom. 

Toe ek weer by die grondpaadjie kom maak ek nie dieselfde fout nie en draai daar af. Die pad oppervlakte is goed en die gradiënt is rybaar. 
Ek maak goeie vordering en haal 'n drie tal met "clyclocross" fietse in.
Bo-op die bult neem ek 'n paar foto's en ry verder. Die pad kronkel voort en sluit later by 'n teerpad aan wat my by 'n kafee bring. Ek hou 10:20 hier stil om vir Hennie te wag. Ek eet 'n broodjie en drink twee koppies koffie terwyl ek wag. Ek probeer vir Hennie skakel maar hy antwoord nie. Ek stuur vir hom 'n Whatsapp om te sê waar ek wag.

12:20 kom Ernst en Hannelie verby en hou ook stil. Ek verneem of hulle nie vir Hennie gesien het nie maar hulle het nie. Hulle eet ook 'n broodjie en ons gesels lekker. Na 15 minute besluit hulle om te ry en ek besluit om saam met hulle te ry. Ernst probeer ook vir Hennie skakel maar sonder sukses. Hy stuur vir hom 'n boodskap om te sê ek is by hulle. Ons besluit ook, soos die vorige aand bedpreek, om voor Florence slaapplek te soek aangesien die verkeer in die laat middag te besig daar gaan wees en dit heel moontlik ook duur sal wees. Ons besluit om in Signa se omgewing slaapplek te soek.

Die aanvanklik pad is teer en weereens bult op maar die gradiënt is redelik maklik. Na 'n paar kilometer draai ons weer af op 'n grondpad wat styl en rof is, maar wel rybaar. Oor die bult is daar weer 'n rowwe afdraand. Aangesien dit Hannelie se eerste bergfiets wedren is, is sy versigtig met die rowwe gedeeltes waarvan daar 'n hele aantal volg. Ek geniet myself gate uit oor die rowwe gedeeltes want dit is lekker rybaar. Wag so elke nou en dan vir Ernst en Hannelie om op te vang. 


Na ongeveer 15 km sluit ons weer by 'n groot teerpad aan. Ons word gou afgelei na ondergeskikte paaie en later na fietspaaie waarvan sommiges spierwit gruis is. Die roete hou ons af van die besige strate. Die eerste tekens vir Signa begin verskyn en ons begin soek. Na 'n hele ruk kry ons 'n hotel maar hulle is vol. Ons vind nog een straat af, maar hy is ook vol! Dit is lang naweek en die Italiaanse MotoGP vind die naweek in die omgewing plaas! Die man agter die toonbank bel rond en kry vir ons plek in die Hermitage Hotel teen Euro 130.00 per kamer. Ons neem dit. Hy verduidelik hoe om daar te kom en ons ry die 8 km daarheen waar ons 17:45 arriveer. 

Ek probeer onmiddelik met Hennie in verbinding tree, maar sonder sukses. Net nadat ek in my kamer in stap skakel Hennie. Hy is verby Florence! Hoe ons dit reg gekry het om mekaar te mis is duister. Ek het terug gery om hom te soek en vir hom gewag, die Scholtze is by hom verby sonder dat hulle mekaar gesien het en hy is in Signa by ons verby sonder dat ons mekaar gesien het! Soms speel omstandighede snaakse spelietjirs met mense!


Totale afstand vir die dag 90.5 km; totale ry tyd 8:59:49; totale meters geklim 1,664; meters gedaal 1,677.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking