Sondag 07 September 2025

Euro Toer Dag 23

So die einde het aangebreuk! Watter wonderlike ondervinding. Maar meer daaroor later. 

Gisteraand toe ek gasn slaap maak ek die venster oop vir vars lug en gou kom daar 'n "brommer" in. Ek kom gou agter dit is nie 'n "lui brommer" is nie maar iets soos 'n perdeby! Daar is so 'n "waslap", waar jy jou hand kan insteek, in die kamer. Ek gryp die en probeer hom vang maar die bliksem steek my deur die materiaal. Ek gryp 'n handdoek en na 'n gesukkel keer ek hom in 'n hoek vas en "vermoor" hom! Intussen pyn my hand en ek kan duidelik sien waar hy my gesteek het. Nou hoop ek net dat my hand nie opswel en/of die pyn erger word nie! Gelukkig vereger niks nie en na 'n ruk raak ek aan die slaap. Toe ek vanoggend wakker word kan ek nog voel waar hy my gesteek het, maar dit pyn nie meer nie en my hand is normaal. 

Ons ontwaak 07:00 en nadat ons al ons gewone goed gedoen het, eet ons museli en yoghart vir ontbyt saam met filter koffie. Ek neem my sak en val 08:03 in die pad. 

Ek word, soos gewoonlik, met 'n pasr draaie deur die dorp geneem en teen 'n bult op. Bo moet ek links af op 'n redelik toegegroeide pad, teen die heuwel af.Dan 'n stukkie teer wat ly na die eerste "hije-a-bike" die volgende bult op. Bo kry weer 'n stukkie teer en dan 'n enkelspoor al met die kontoer langs. Hier loop die pasdjie tussen twee klip mure, wat seker eue oud is! Dele rybaar en dele loopbaar. Die omgewing is mooi, maar vordering is stadig. My gemiddelde spoed is 4.7 kpu en dit bly so vir die eerste twee uur. Die laaste gedeelte teen die bult af is 50/50 ry en stoot. Ek kyk links en sien nog 'n bult. Seker waar ek netnou mort op! Darem nie te hoog nie.

Onder sluit ek by 'n teerpad aan en na so 'n paar meter weer bult op, maar darem nog teer. Ek is nou so 'n ent teen die bult op en kan sien waar ek 'n rukkie vantevore afgekom het. Die teer gaan oor na grond, maar die helling is so dat ek kan ry. Op en op en op. Bo-oor en natuurlik weer anderkant af, meesal lekker rybaar, alhoewel dit moeilik is om spoed op te tel.  

Dan kom daar weer een van dasrdie bulte! 640 meter lank met 70 meter klim. Dit werk uit op 100m/km! So ek stoot maar weer. Halfpad hou ek stil vir 'n "piesang" breek en koppel ook my selfoon aan my eksterne kragbron (powerbank). Bo sien ek die bol van 'n "observatory". Dit is dan ook Saint Michelle l'Oberservstiore wat in 2020 'n bevolking van 1,230 gehad het! Dit neem my nog 'n tydjie om daar te kom en dan stop ek vir 'n koffie en die ekstra vanilla en caramel poeding van gisteraand. 

Na 15 minute is ek weer aan die gang. Ek word met teer paaie uit die dorp geneem en kry 'n mooi uitsig van die dorp vanaf  'n bult aan die suide. Die teer gasn weer oor in grond en dan kom ek by een van daardie ge-elektrisifeerde heinings met geen manier om deur te kom nie. Ek sien daar is 'n pasdjie links om en volg die. Die paadjie is maar goed toe gegroei en ek sukkel om reg te kom, maar oorwin darem op die einde en sluit weer by die regte pad aan.

Dit ly na 'n teerpad. Ek kyk suidwes en sien, waar ek vermoed ek sal moet oorgaan. Dit neem dan ook nie lank voordat ek op 'n grondpad moet afdraai. Daar is nou monder as 10 km oor en ek aanvaar dit sal die laaste bult wees. Die oppervlakte is rof en die helling wissel tussen 12-19%. Ek kan darem meeste van dit ry. So vir ou laas die bult op. Ek handhaaf 'n goeie pas en stoot net wanneer die gradiënt 15% of hoër is. Dit is 'n 5 km bult en ek klim 300 meter. Dit neem my 59 minute om bo te kom. Dit is dan die laaste van 39 klimme van die grens tussen Italië en Frankryk, 35 km noord oos van Barcellonette tot by Manosque, oor 'n afstand van 299 km. 

Van hier is die uitsig na alle kante van die beste. Noord wes kan ek weer vir Mount Ventoux in die verte sien. Die pad heet dan ook Circuit le Mt Ventoux. Nou nog net 5 km oor. Af is aanvanlik 'n lekker teerpad, maar net vir die "cherrie op die koek" is die laaste drie km 'n grondpad. Darem lekker rybaar en dan slaan ek die buite wyke van Manosque. 

Ek besluit vandag gaan ek eers iets eet voordat ek met Danie in verbinding tree. Ek ry na die midde dorp waar die roete eindig en neem 'n paar fotos. Hier is ook 'n restourant maar alles kos 16 euros of meer. In 'n systraat kry ek vir Coté Pasta. Hulle porsies lyk goed en kos met 9 euros. Ek bestel Chicken Alfredo en laat weet vir Danie ek sal my weg na die blyplek vind sodra ek klaar ge-eet het. Die blyplek is 350 meter weg!

So eindig hierdie epiese fietsrit. Wat 'n droom was is nou 'n werklikheid wat suksesvol voltooi is. Môre vat ons die pad Marseille toe. Dit is omtrent 100 km en ons sal kyk hoe ons vorder en sien of ons dit in een of twee dae gaan doen. Die plan is om teer agterpasie te ry, so een dag is 'n opsie. Môre se blog sal basies 'n opsomming wees met so 'n bietjie statistiek, behalwe indien die rit Marseille sy eie dag se verslag regverdig, wat die opsomming dan sal laat aanskuif.

Vandag se data: 35.67 km; tydsduur 5:45; klim 1,004 meter. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking