Dinsdag 13 April 2021

Dag 1 Kirkwood-Marlu



Ek reël met my swaar om ons by Glenconner afdraai af te laai want die R75 is te gevaarlik in die donker. Dit sny 38 km van dag se afstand af. 



Ons begin 06:37. Die pad is 'n goeie distriks pad en ons klim meeste van die tyd redelik gelydelik. Na 18 km sluit ons by die Springbokvlakte pad aan, wat ook in 'n goeie toestand is. Ons kry self 'n drawer op die pad. Die draai darem by die plaashek in toe ons daar verby gaan. Ons kry ook 'n hele paar nuwe Golfs wat skynbaar op 'n toetsrit was. Almal het net 'n bestuurder en iets wat lyk soos 'n plastiek houer agter in. Moontlik vol water vir gewig.



Die eerste 2 uur klim ons omtrent voltyds. Ons het op 877 meter begin en draai op 1163 na 31 km. Die volgende 1:30 is meesal afdraand en dan begin die gelydelike klim weer. Nou word die klim egter afgewissel met afdraendes, met die gevolg dat ons energie nogal redelik getap word deur die heeltydes op en af! 


Na 6 uur se ry en 97 km bereik ons Steytlerville. Ons hou by die eerste koffiewinkel stil en kry 'n lekker koffie filter koffie. Ons vul ook ons waterbottels. Ons vertoef 'n half uur en vat dan die pad Marlu toe.


Ons begin weer met 'n refelike kwaai klim, gevolg deur 'n paar kort op en af's en dan weer 'n kwaai klim. Dit gaan so aan tot by die Mt Stewart aansluiting  waar ons links draai in die rigting van Fullerton.


Die volgende 15 km is weer nog van dieselfde met 'n paar meer ernstige klimme. Ons ry amper die Marlu afdraai mis aangesien ek gedink het dit is nog 2 km aan. Ek wou net by wie se plaas ons verby ry toe ek op merk dat dit die Marlu afdraai is! Ons stop voor die deur ba 136 km en 9:06 in die saal!


<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/6589054822' title='Kirkwood-Marlu' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking